GEMEENTEVREUGDE

Gesprekstemas vir selgemeentes

Tema Nr 16:      TOTALE VERLOSSING



© Outeursreg April 2001  -  Gemeentevreugde.
Posbus 2736,  George  6530.   E-pos:  vreugde@icon.co.za
Gedrukte gesprekstemas is by bogenoemde adres beskikbaar.

Elektroniese kopie:  Oktober 2001.   Hierdie gesprekstema mag van die internet afgelaai en vermenigvuldig word.  Daar mag egter geensins aan die inhoud verander word nie.
Enige donasies vir die voortgang van die bediening word verwelkom.

Handleiding opgestel deur Marius Potgieter


AGTERGROND

Hierdie gesprekstema is opgestel met die doel om
* verkeerde idees rondom sonde en sondevergifnis reg te stel;
* gelowiges wat twyfel oor God se vergifnis in hulle geloof te versterk;
* die lig opnuut op Vader se onpeilbare genade te laat val.

Hoe om die meeste seën uit hierdie gesprekstema te put:
* Beskou die gesprekstema slegs as ‘n hulpmiddel.
* Dit is nie ‘n handleiding vir Bybelstudie nie.  Die vrae handel nie in die eerste plek oor inligting of Bybelfeite nie maar help ons om regtig na die Here (wat deur sy Woord en Gees teenwoordig is) te luister.
* Enige persoon wat daarvoor kans sien, kan hierdie gesprek lei want dit vereis nie spesiale kennis of vernuf nie.
* Alhoewel die byeenkoms met ernstige gebed voorberei moet word, kan die gesprek nie voorberei word nie - dit word deur die Heilige Gees gelei.
* In God se oë is ons nie kerkmense wat bymekaar kom nie maar ‘n geestelike huisgesin; familielede wat rondom hulle Vader saam is om Hom en mekaar te geniet!


TOTALE VERLOSSING (1)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   terugrapport oor en gebed vir die sendelinge wat namens ons die evangelie uitdra.
Sorg na buite:    terugrapport oor uitreiking na mense in ons omgewing.  Is daar mense vir wie ons spesiaal moet bid?
Onderlinge sorg:    twee of drie persone draai na mekaar toe, en bid vir mekaar se behoeftes.  Wie kontak vir wie die komende week?

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Totaal verlore
Lees:    Psalm 14: 1 tot 3, 7

1.   Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.  Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.  Luister na wat die Here spesifiek vir jou wil sê.
2.   Vertel wat die Here deur hierdie verse op jou hart gelê het.
3.   Wat sien die Here op hierdie oomblik as Hy na die mensdom kyk?
4.   Heimlik wil elke mens hom/haar regverdig deur te dink dat daar darem dinge in sy/haar lewe is wat vir God aanvaarbaar is.  Hoe voel jy hieroor?
5.   Redding moet van buite-af, van die Here af, kom.  Hoe het dit in jou lewe gebeur?
6.   Watter effek het hierdie Bybelse waarheid (dat jy totaal verlore was as God nie ingegryp het nie) op jou lewe?
7.   As God na die mensdom kyk, sien Hy net sondaars.  Sonder sy genadige ingryping is alle mense verlore.  Ons is egter sy kinders.  Ons is slegs deur sy genade gered - uit onsself kom daar niks wat vir Hom aanvaarbaar is nie.

Ons antwoord:   Ons sing ‘n lied van ootmoed en dankbaarheid.  Een persoon vra die Here om ons almal ‘n nederige en dankbare gesindheid te gee in die lig van die ontsagwekkende genade wat ons ontvang het.

VOLGENDE BYEENKOMS:
Totaal veroordeel - Galasiërs 3: 10, 13.


TOTALE VERLOSSING (2)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   terugrapport oor ons betrokkenheid by ‘n onbereikte volksgroep; ons bid vir ons sendelinge dat hulle nie op hulself sal vertrou nie.
Sorg na buite:   terugrapport oor ons uitreiking na die mense in ons omgewing na wie toe die Here ons gestuur het.  Is daar gebeds-verhorings?
Onderlinge sorg:   ons bid nou vir mekaar se behoeftes.  Wie gaan in die komende week vir wie bid en versorg?

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Totaal vervloek
Lees:    Galasiërs  3: 10, 13

1.   Twee persone kry geleentheid om die verse twee maal hardop en rustig deur te lees.  Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.
2.   Vertel vir mekaar waarvan die Here jou bewus gemaak het.
3.   Volgens die Skrif is elke mens onder God se vloek omdat die Wet oortree is.  Hoe raak dit jou?
4.   Daar is in die kerk mense wat “staat maak op die onderhouding van die wet”.  Watter gevaar hou hierdie gesindheid vir jou en my in?
5.   Hoe is die vloek van jou persoonlik af weggeneem?
6.   Christus het ons vloek op Hom geneem en omdat ons met Hom verenig is, sterf ons eintlik saam met Hom.  Die verlossing het dus plaasgevind omdat ons in God se oë klaar die oordeel ontvang het.  Ons is dooie mense.  Dooie mense leef nie meer nie; hulle kan ook nie meer sonde doen of gestraf word nie.
7.   Wat behoort in ons harte en lewens plaas te vind noudat ons weet dat Jesus ons vloek volledig op Hom geneem het?

Ons antwoord:   Ons word stil in gebed.  Iemand wat vrymoedigheid het, bid na ‘n paar minute hardop namens almal en sê vir die Here hoe ons voel.

VOLGENDE BYEENKOMS:
Totale vergifnis - Kolossense 2: 13 tot 15


TOTALE VERLOSSING (3)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   terugrapport oor en gebed vir ons sendelinge asook die mense met wie hulle kontak maak.
Sorg na buite:   terugrapport oor die mense in ons omgewing na wie ons uitreik.  Vir wie moet ons bid?.
Onderlinge sorg:  ons bid nou vir mekaar se behoeftes.  Daar word gereël wie vir wie hierdie week bid en kontak.

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Totale vergifnis
Lees:    Kolossense 2: 13 tot 15

1.   Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.  Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.  Stel jouself oop vir die Heilige Gees.
2.   Vertel vir mekaar wat die Here hierdeur vir jou gesê het.
3.   “Skuldbewys” beteken “rekening”: daarop staan hoeveel skuld jy by God het. Op jou rekening staan jou sondigheid, asook al jou sondige gedagtes, woorde, dade en versuim van die verlede en die toekoms.   Hoe weet jy verseker dat jou rekening tot niet gemaak is?
4.   Bespreek:  ‘n Mens word nie vergewe omdat jy jou sonde bely nie.  ‘n Mens bely jou sonde omdat jy reeds vergifnis ontvang het.
5.   As jy ‘n ware kind van God is, sal jy nie doelbewus in sonde volhard en jouself troos dat al jou sondes reeds vergewe is nie.  Waarom nie?
6.   Kom ons word vir ‘n minuut stil en elkeen vra die Here om te wys of daar dinge is wat Hy nie in jou lewe wil hê nie waarmee jy nog nie afgereken het nie.
7.   As sondedraer het Jesus ons skuld betaal.  Deur ons eenheid met Hom is al ons skuld klaar vergewe - dié van die verlede en dié van die toekoms.  Ons kan niks doen om dit te verdien nie.  Dit bring ‘n oorstelpende dankbaarheid by die kind van die Here.

Ons antwoord:   Elkeen wat wil, sê net in een kort sinnetjie dankie vir ons wonderlike Vader.

VOLGENDE BYEENKOMS:
Totale vernuwing - 2 Korintiërs 5:  16 tot 18.


TOTALE VERLOSSING (4)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   terugrapport oor ons betrokkenheid by ons sendelinge;  hoe kan ons hulle meer ondersteun?
Sorg na buite:   terugrapport oor mense na wie ons uitreik in ons samelewing.  Vir wie moet ons bid?
Onderlinge sorg:    ons bid vir mekaar se behoeftes en reël wie vir wie die komende week bid en kontak.

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Totale vernuwing
Lees:    2 Korintiërs 5: 16 tot 18

1.   Laat die verse twee maal hardop en rustig deurgelees word.  Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur; verwag dat die Gees sal lei.
2.   Vertel vir mekaar:  wat het die Here op jou hart gelê?
3.   Vertel hoe jy al mense verkeerdelik met menslike maatstaf beoordeel het.
4.   Het jy in die strik getrap om jouself met menslike maatstaf te beoordeel?  Waarom is dit verkeerd en baie nadelig?
5.   “Oue” is die ou natuur wat gesterf het en “nuwe” die Jesuslewe wat in ons leef (sien ook Galasiërs 2: 19, 20).  As jy sê “die nuwe het gekom” of “Christus leef in my”, wat beteken dit prakties in jou lewe?
6.   Hoe versterk die woorde “dit alles is die werk van God” jou?
7.   Die Jesus-lewe in ons maak ons nuwe mense.  Dit is nie uiterlik sigbaar nie en lê nie op die vlak van emosionele ervaring nie.  Dit lê op die vlak van die geloof en word sigbaar deur ‘n nuwe lewenswyse.  Ons word draers van die versoeningsbediening en daarom lyk ons al meer soos Jesus.

Ons antwoord:   Kom ons dank die Here saam vir die feit dat Hy ons kom nuut maak het sodat ons nuut kan leef.

VOLGENDE BYEENKOMS:
Totale oorwining -  1 Johannes 3: 4 tot 6, 9 tot 10


TOTALE VERLOSSING (5)

GESINSVERKLARING:

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   terugrapport oor en gebed vir ons sendelinge;  ons bid dat hulle daagliks vernuwe sal word deur die Gees wat in hulle is.
Sorg na buite:   terugrapport oor uitreiking na mense in ons omgewing wat liefde nodig het.
Onderlinge sorg:   ons bid vir mekaar se onmiddelike behoeftes.  Wie sorg en bid hierdie week vir wie?

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Totale oorwinning
Lees:    1 Johannes 3: 4 tot 6, 9 tot 10

1.   Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.  Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur - luister na die Here
2.   Vertel vir mekaar wat die Gees van die Here hierdeur vir jou sê.
3.   Hoe weet jy dat jy ‘n kind van God is in die lig van vers 10?
4.   Volgens verse 5 en 6 is dit slegs moontlik om regverdig te lewe deur ons eenheid met Jesus.  Hoe verstaan jy hierdie teks in jou eie situasie?
5.   As jy 1 Johannes 3: 9 en 1 Johannes 2: 1 lees:  by watter teks voel jy die meeste tuis?  Staan hierdie twee teksverse teenoor mekaar?
6.   Daar is twee soorte sonde:
 i.   die aanhoudende oortreding van God se wet uit ‘n gesindheid van opstandigheid of vyandigheid, en
 ii.  die struikeling van ‘n kind van God uit menslike swakheid.  Iemand wat in Jesus bly, lyk al meer na Hom, die enigste Mens wat sonder sonde is;  ‘n kind van God stry gedurig teen die verkeerde en oorwin al meer deur die krag van die Heilige Gees.

Ons antwoord:   Al is ons sondes uit swakheid, is dit nie minder ernstig in die Here se oë nie.  Kom ons erken alles wat verkeerd is waaraan die Heilige Gees ons herinner en besluit om met die Here se krag daarteen te stry en te oorwin.  ‘n Paar minute word gebruik vir stil gebed.

VOLGENDE BYEENKOMS:
Totale bewaring  -  Psalm 16:  7 tot 11


TOTALE VERLOSSING (6)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   terugrapport oor en gebed vir ons sendelinge.  Wat is hulle dringende behoeftes en wat kan ons daaraan doen?
Sorg na buite:   terugrapport oor uitreiking na mense in ons omgewing wat nood ervaar.  Hoe gaan ons almal as verteenwoordigers van Jesus  sy liefde oral waar Hy ons lei, hierdie week uitleef ?
Onderlinge sorg:   ons bid vir mekaar se behoeftes.  Wie sorg vir wie hierdie week?

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Totale bewaring
Lees:    Psalm 16: 7 tot 11

1.   Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.  Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.
2.   Vertel vir mekaar wat die Here hierdeur vir jou gesê het.
3.   Wie van ons is bang dat hy/sy dalk van die Here afvallig sal raak?  Waarom kan jy as kind van die Here normaal en rustig sonder so ‘n vrees voortleef?
4.   Evalueer  hierdie gesprekstema - elkeen antwoord eerlik:
      * Watter onduidelikhede is vir jou opgeklaar deur hierdie tema?
      * Watter probleme het jy nog in jou gemoed oor hierdie onderwerp?  (Iemand word aangewys om inligting daaroor in te win, indien nodig).
      * Hoe het hierdie tema jou praktiese lewe beïnvloed?
5.   ‘n Gelowige word van struikeling bewaar deur die blywende teenwoordigheid van die Heilige Gees.  Hy leer ons hoe om te lewe.  Ons moet slegs totaal aan Hom oorgegee wees en gehoorsaam aan Hom lewe.  Indien jy struikel, onthou: Vader ken ons swakheid en verwyt ons nooit.

Ons antwoord:   Ons staan in ‘n kring, hou mekaar se hande vas en sing hartlik ‘n lied van dank aan ons Vader wat vir ons so onverdiend lief het.

VOLGENDE BYEENKOMS: Nuwe gesprekstema.