|
Gesprekstemas vir selgemeentes |
![]() |
Tema Nr 15: GEESTELIKE OORLOG
Elektroniese kopie: Oktober 2001. Hierdie
gesprekstema mag van die internet afgelaai en vermenigvuldig word.
Daar mag egter geensins aan die inhoud verander word nie.
Enige donasies vir die voortgang
van die bediening word verwelkom.
Handleiding opgestel deur Marius Potgieter
Hierdie gesprekstema is opgestel met die doel om
* gelowiges bewus te maak van die hewige stryd tussen lig en duisternis;
* gelowiges te help om ‘n gebalanseerde siening te ontwikkel en prakties
so te lewe dat die oorwinning van Christus al meer in hulle lewens ‘n werklikheid
word.
Hoe om die meeste seën uit hierdie gesprekstema te put:
* Beskou die gesprekstema slegs as ‘n hulpmiddel.
* Dit is nie ‘n handleiding vir Bybelstudie nie. Die vrae handel
nie in die eerste plek oor inligting of Bybelfeite nie maar help ons om
regtig na die Here (wat deur sy Woord en Gees teenwoordig is) te luister.
* Enige persoon wat daarvoor kans sien, kan hierdie gesprek lei want
dit vereis nie spesiale kennis of vernuf nie.
* Alhoewel die byeenkoms met ernstige gebed voorberei moet word, kan
die gesprek nie voorberei word nie - dit word deur die Heilige Gees gelei.
* In God se oë is ons nie kerkmense wat bymekaar kom nie maar
‘n geestelike huisgesin; familielede wat rondom hulle Vader saam is om
Hom en mekaar te geniet!
GEESTELIKE OORLOG (1)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Oorlog in die geesteswêreld
Lees: Openbaring 12: 7 - 9, 11 - 13
1. Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer ‘n keer biddend in stilte deur en laat die Here toe om met
jou te praat.
2. Vertel vir die ander wat die Here deur hierdie verse
vir jou gesê het.
3. Die vrou (13), die moeder van die Seun, is simbool van
die volk van die Here, die gelowige Israel wat die Messias verwag het en
uit wie Hy gebore is. Daarom is dit ook simbool van die nuwe Israel,
die ware gelowige gemeente van Jesus Christus. Maria is die verteenwoordiger
van hierdie volk. Die draak is simbool van die satan wat die Seun
wou verslind.
4. Hoe antwoord ons mense met teenoorgestelde standpunte
wat sê "daar is nie so-iets as ‘n geestelike oorlog nie" of
“die duiwel is in beheer - die bose geeste kan ‘n mens deur allerlei dinge
aanval"?
5. As nakomelinge van die vrou (17) word ons voortdurend
aangeval. Hoe ervaar jy prakties die aanvalle van die bose?
6. Hoe voel jy as jy lees dat die duiwel ons met groot
woede aanval omdat sy tyd min is?
7. Hoe gebruik jy die drie wapens waarvan vers 11 praat?
8. Die bose is verslaan maar die gelowiges ervaar nog steeds
sy aanslae. Ons het deur geloof deel aan die oorwinning wat Jesus
Christus behaal het en al word die stryd nie minder nie, word die oorwinning
al meer 'n werklikheid.
Ons antwoord: twee of drie persone draai na mekaar toe, en bid vir mekaar ten opsigte van aanslae van die bose wat ervaar word.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons betrokkenheid by ons
sendelinge; ons bid dat hulle staande sal bly in die geestelike stryd.
Sorg na buite: na watter mense in ons omgewing wat
een of ander nood ervaar, reik ons tans uit?
Onderlinge sorg: wie van ons het gebed of ander
hulp nodig? Wie bid vir wie die komende week?
VOLGENDE BYEENKOMS:
Stryd teen die bose - Efesiërs 6: 10 - 18
GEESTELIKE OORLOG (2)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Stryd teen die bose
Lees: Efesiërs 6: 10 - 18
1. Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer ‘n keer biddend deur en gee aan die Here kans om met jou
te praat..
2. Vertel vir mekaar wat die Here deur die gedeelte vir
jou gesê het.
3. Volgens vers 11 is die duiwel se aanslae listig en volgens
vers 16 is dit brandende pyle. Vertel hoe jy dit al ervaar
het.
4. Vers 12 dui op twee vyandige magte wat gekamoefleerd
werk. Wat leer ons daaruit vir ons praktiese daaglikse lewe?
5. Ons groot doel moet wees om op ons pos te bly staan.
Wat is jou “pos” en hoe gaan jy dit regkry om te bly staan?
6. Het jy opgemerk: die wapenrusting het alles met Jesus
te doen. Hy is die Waarheid; Hy is die inhoud van die evangelie;
Hy is die Woord! Hoe trek jy prakties die wapenrusting aan om gehoorsaam
te wees aan vers 13?
7. Die satan en sy bose geeste is ‘n werklikheid.
Hulle is slinkse maar onsigbare vyande wat alles probeer doen om gelowiges
weg te trek van God en die uitvoering van sy plan. Ons mag nie die
satan se mag onderskat nie en ons moet ons weerhou van grappies oor hierdie
magtige vyand! Ons wapen is nie slegs ‘n aantal los eienskappe nie
maar ‘n Persoon in wie dit vervul word - ons moet Hom aantrek!
Ons antwoord: Kom ons sing ‘n oorwinningslied.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons betrokkenheid by ons
sendelinge; ons bid vir hulle behoeftes.
Sorg na buite: ons bid nou vir die mense in ons
omgewing met wie ons kontak het en na wie ons Jesus uitleef.
Onderlinge sorg: ons bid vir mekaar se behoeftes.
Wie sorg hierdie week vir wie?
VOLGENDE BYEENKOMS:
Stryd teen die wêreld - 1 Johannes 2: 15 -
17
GEESTELIKE OORLOG (3)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Stryd teen die wêreld
Lees: 1 Johannes 2: 15 - 17
1. Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur. Stel jouself oop
vir die Heilige Gees.
2. Vertel vir mekaar wat die Here hierdeur vir jou persoonlik
gesê het.
3. Vertel hoe jy die drie aanvalsmetodes van die wêreld
(16) persoonlik ervaar het.
4. Toets jouself in die lig van Jakobus 4: 4 en vertel
vir die ander hoe jy daaroor voel.
5. Hoe kan ons gehoorsaam wees aan die die Here se opdrag
in vs 15?
6. Hoe ernstig is hierdie waarskuwing van die Here in die
lig van vers 17? Wat gaan ons in hierdie verband doen?
7. Die “sondige wêreld” is die koninkryk van die
satan op aarde - dit is die menslike samelewing met sy tradisies en kultuur
waaroor die bose ‘n houvas gekry het. Ons is elke dag daarvan omring.
Dit beïnvloed ons om mensgesentreerd te lewe en die Here te vergeet.
Die aanknopingspunt is ons sintuie en ons emosies. Die enigste wapen
is om die oë op Jesus te hou en daagliks God se wil uit te leef.
Ons antwoord: Ons hou mekaar se hande in ‘n kring vas en een sê in gebed vir die Here hoe ons voel: ons wil nie deel wees van die wêreld nie en Hy moet ons tog verlos en bewaar.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons sendelinge;
ons bid dat hulle kontakte oop sal wees vir die evangelie.
Sorg na buite: voorbidding vir mense in ons omgewing
na wie toe ons uitreik.
Onderlinge sorg: ons bid vir mekaar se behoeftes.
Wie het praktiese hulp nodig? Wie maak hierdie week kontak met wie?
VOLGENDE BYEENKOMS:
Stryd teen die sonde - Galasiërs 5: 16
- 18.
GEESTELIKE OORLOG (4)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Stryd teen die sonde
Lees: Galasiërs 5: 16 - 18
1. Laat die verse twee maal hardop en rustig deurgelees
word. Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.
2. Vertel vir mekaar waarvan die Here jou nou bewus gemaak
het.
3. Hoe ervaar jy die stryd tussen jou sondige natuur en
die Gees?
4. Waarom is dit baie verkeerd om die duiwel te blameer
vir jou sonde? Kan ‘n mens jou sondige natuur blameer?
5. Hoe het jy dit in die verlede reggekry om in hierdie
stryd te oorwin?
6. Die satan en die wêreld sluit aan by die derde
vyand: die sondige natuur binne in ‘n mens. Dit is die ingebore neiging
om self op die troon van jou lewe te sit en selfgesentreerd te lewe.
Dit gee aanleiding tot allerlei sondige gedagtes, woorde en dade en sondes
van versuim (vs 19 - 21). Die enigste wapen is om te sterf aan jouself
(vs 24) deur jou lewe telkens weer onder die heerskappy van die Gees van
Jesus te plaas sodat Hy jou lei in alles wat jy doen (vs 25).
Ons antwoord: Wat antwoord jy die Here oor dit wat Hy gesê het? Skryf dit op ‘n kaartjie, hou dit by jou, kyk gedurende hierdie week elke dag daarna en vra die Heilige Gees om jou gedrag te bepaal.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons sendelinge; ons beplan
om hierdie week pakkies en briewe na hulle te stuur.
Sorg na buite: terugrapport oor uitreiking na mense
in ons omgewing; ons bid vir spesifieke persone en gesinne.
Onderlinge sorg: ons bid vir mekaar se behoeftes,
veral die stryd teen die sonde. Wie ondersteun wie hierdie week?.
VOLGENDE BYEENKOMS:
Die werklikheid van die oorwinning - Openbaring 19: 11 - 16;
20: 10
GEESTELIKE OORLOG (5)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Gewapen vir die stryd
Lees: Kolossense 2: 6, 7, 10, 15
1. Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.
2. Vertel vir mekaar wat die Here hierdeur op jou hart
gelê het.
3. In hierdie verse word twee verhoudings genoem: a) Christus
en die bose geeste/magte en b) Christus en die gelowige. Hoe
word jou verhouding met die bose geeste en magte geraak deur wat Christus
gedoen het?
4. In die ou vertaling sê Romeine 13: 14 dat ons
Jesus moet aantrek. Hoe sluit dit by hierdie gedeelte in Kolossense en
Efesiërs 6:11 aan?
5. Paulus sê in 2 Korintiërs 6: 7 dat hy die
aanslag van die bose wat deur mense na hom gekom het, met ‘n belangrike
wapen afgeslaan het. Hoe kan hierdie wapen jou help in jou stryd?
Vertel hoe jy dit al in die pratyk ervaar het.
6. Die gelowige is op ‘n wonderlike manier aan Jesus Christus,
die Oorwinnaar, verbonde. Deur Christus doelbewus as Verlosser aan
te neem en in Hom te bly deur gehoorsaam aan sy Gees te lewe, kry jy deel
aan sy oorwinning. Hierdie oorwinning word al meer ‘n werklikheid
totdat die bose by die wederkoms finaal veroordeel word.
Ons antwoord: Twee-twee vertel vir mekaar watter wapens jy al gebruik het en nog gaan gebruik en daarna bid julle vir mekaar.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: betrokkenheid by ons sendelinge; ons bid
vir hulle geestelike wapenrusting.
Sorg na buite: voorbidding vir mense in ons omgewing
na wie ons Jesus se liefde uitleef.
Onderlinge sorg: ons bid vir mekaar se geestelike
wapenrusting en ander behoeftes. Wie sorg vir wie hierdie week?
VOLGENDE BYEENKOMS:
Die werklikheid van die oorwinning - Openbaring 19:
11 tot 16; 20: 10.
GEESTELIKE OORLOG (6)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Die werklikheid van die oorwinning
Lees: Openbaring 19: 11 - 16; 20: 10
1. Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.
2. Vertel vir mekaar wat die Here hierdeur vir jou gesê
het.
3. Evalueer hierdie gesprekstema - elkeen antwoord
eerlik:
* Hoe het dit jou gehelp om die erns
van die stryd te besef?
* In watter opsig leef jy nou anders?
Wat doen jy anders?
* Hoe gaan jy iemand help wat grappies
maak oor die duiwel?
* Hoe gaan jy iemand help wat met okkultiese
dinge soos toordery en fortuinvertellery te doen het?
* Hoe gaan jy iemand help wat bang is
vir die bose geeste?
* Watter probleme het jy nog in jou
gemoed oor hierdie onderwerp? (Iemand word aangewys om inligting
daaroor in te win, indien nodig).
4. Koning Jesus proklameer sy oorwinning wat reeds behaal
is deurdat sy Gees die Skrifwoord met krag laat uitgaan. Wanneer
kinders van die Here die beloftes van die Woord glo en onder die heerskappy
van die Heilige Gees lewe, ervaar hulle al meer die werklikheid van die
oorwinning . Uiteindelik word die oorwinning finaal wanneer nie alleen
die antichris en die valse profeet nie, maar ook die duiwel in die plek
van vuur gegooi word.
Ons antwoord: Kom ons bid en vra die Here om ons bewus en versigtig te maak van die bose en sy werk; vra Hom om ons vry te maak van vrees en om slegs aan Hom verbonde sy oorwinning te ervaar.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons sendelinge; ons bid
vir hulle huwelike en hulle kinders.
Sorg na buite: terugrapport oor voorbidding vir
mense in ons omgewing; watter gebedsverhorings merk ons?.
Onderlinge sorg: ons bid vir mekaar se huwelike
en vir die kinders se toekomstige huwelik. Wie besoek vir wie die
komende week?
VOLGENDE BYEENKOMS: Nuwe gesprekstema.