GEMEENTEVREUGDE

Gesprekstemas vir selgemeentes

Tema Nr 14:     AANBIDDING IN DIE GELOOFSGESIN



© Outeursreg 1999  -  Gemeentevreugde.  Herdirn Julie 2001
Posbus 2736,  George  6530.   E-pos:  vreugde@icon.co.za
Gedrukte gesprekstemas is by bogenoemde adres beskikbaar.

Elektroniese kopie:  Oktober 2001.   Hierdie gesprekstema mag van die internet afgelaai en vermenigvuldig word.  Daar mag egter geensins aan die inhoud verander word nie.
Enige donasies vir die voortgang van die bediening word verwelkom.

Handleiding opgestel deur Marius Potgieter en Willem Badenhorst.


AGTERGROND

Hierdie gesprekstema is opgestel met die doel om
* aanbidding binne ‘n breër konteks van ‘n lewenswyse te plaas;
* gelowiges te help om aanbidding as ‘n lewenswyse aan te leer.

Hoe om die meeste seën uit hierdie gesprekstema te put:
* Beskou die gesprekstema slegs as ‘n hulpmiddel.
* Dit is nie ‘n handleiding vir Bybelstudie nie.  Die vrae handel nie in die eerste plek oor inligting of Bybelfeite nie maar help ons om regtig na die Here (wat deur sy Woord en Gees teenwoordig is) te luister.
* Enige persoon wat daarvoor kans sien, kan hierdie gesprek lei want dit vereis nie spesiale kennis of vernuf nie.
* Alhoewel die byeenkoms met ernstige gebed voorberei moet word, kan die gesprek nie voorberei word nie - dit word deur die Heilige Gees gelei.
* In God se oë is ons nie kerkmense wat bymekaar kom nie maar ‘n geestelike huisgesin; familielede wat rondom hulle Vader saam is om Hom en mekaar te geniet!


AANBIDDING IN DIE GELOOFSGESIN (1)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte volksgroepe; voorbidding vir sendelinge.
Sorg na buite:   terugrapport oor uitreiking in ons omgewing.
Onderlinge sorg:   ons bid vir mekaar se behoeftes en dien mekaar.

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:    Wat aanbidding is
Lees:     Openbaring 4: 9 - 11

1.   Die "lewende wesens" is simbolies van alle lewende wesens op die aarde: die plante, diere en mense.  Die 24 ouderlinge is simbolies van die verlostes, die volk van die Here van sowel die Ou Testament as die Nuwe Testament.  Die 24 dui op die 12 stamme plus die 12 apostels (12+12=24).
2.   Lees die gedeelte twee maal hardop deur.  Lees dit weer ‘n keer biddend in stilte en wees sensitief om te hoor wat die Here deur sy Gees vir jou wil sê.
3.   Vertel wat die Here deur hierdie verse op jou hart gelê het.
4.   Wat verwag die Here van my en jou as ons Hom "aanbid"?
5.   Hoe lyk ons aanbidding tans?  Wat kan ons daaromtrent doen?
6.   Vertel van 'n geleentheid toe jy in diepe besef van die Here se grootheid en liefde Hom aanbid het en hoe dit jou geraak het.
7.   Aanbidding beteken om (in bewondering van sy grootheid en goedheid) die Here as God te erken en aan Hom die eer te gee wat Hom toekom.  Dit is 'n gesindheid van die hart wat tot uiting kom deur
*'n gehoorsame lewe,
*lofgebede en
*‘n liggaamshouding van nederigheid.

Ons antwoord:   Ons word stil vir ten minste drie minute, fokus ons aandag op die Here en gaan dan oor tot opregte gesamentlike aanbidding.

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

VOLGENDE BYEENKOMS:
Wie aanbid moet word  -  Matteus 4: 9 - 11 en 28: 9, 17.


AANBIDDING IN DIE GELOOFSGESIN (2)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte volksgroepe;  voorbidding vir sendelinge.
Sorg na buite:   terugrapport oor uitreiking in ons omgewing.
Onderlinge sorg:    ons bid vir mekaar se behoeftes en dien mekaar.

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Wie aanbid moet word
Lees:    Matteus  4:  9  - 11 en 28:  9, 17.

1.   Lees die gedeeltes twee maal hardop deur.  Lees dit weer ‘n keer biddend in stilte en wees sensitief om te luister na die Gees van die Here.
2.   Vertel wat die Here deur hierdie verse vir jou gesê het.
3.   As skepsel is elkeen van ons gemaak om te aanbid; waarom moet ons slegs vir God aanbid?
4.   Waarom soek die satan aanbidding?  Waarom sal ons nooit gelukkig wees as ons hom aanbid nie?
5.   Indien slegs God aanbid mag word, wat beteken dit vir jou dat Jesus aanbid is?
6.   Sommige mense voel dat as Jesus aanbid word, God nog nie regtig aanbid word nie.  Waarom is dit verkeerd? (Sien Johannes 14: 9)
7.   Ons aanbid God.  Jesus openbaar die Vader en ons kan nie die Vader buite-om Hom aanbid nie.  Jesus is die Seun maar terselfdertyd is Hy ons Vader wat hier in sy huisgesin onsigbaar teenwoordig is deur sy Gees.  Jesus is die vervulling van die diepste behoeftes van ons harte.

Ons antwoord:  Wat het jy tydens hierdie byeenkoms geleer?  Hoe gaan dit jou lewe beïnvloed?

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

VOLGENDE BYEENKOMS:
Waar die Here aanbid moet word  -  Openbaring 1: 12 - 18


AANBIDDING IN DIE GELOOFSGESIN (3)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte volksgroepe; voorbidding vir sendelinge en nuwe gelowiges.
Sorg na buite:  terugrapport oor uitreiking in ons omgewing.
Onderlinge sorg:  ons bid vir mekaar se behoeftes en dien mekaar.   Wie wil vir spesiale voorbidding vra?

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Waar die Here aanbid moet word
Lees:    Openbaring 1: 12 - 18

1.   Lees die gedeelte twee maal hardop deur.  Lees dit weer ‘n keer biddend in stilte;  luister na wat die Here deur sy Gees vir jou wil sê.
2.   Vertel wat die Here deur hierdie verse vir jou gesê het.
3.   Hoe sou jy gereageer het as jy in Johannes se plek was?
4.   Die goue staanlampe (kandelare) is simbolies van die kerk van Jesus oor die hele aarde want daar is 7 en dit is die getal van die goddelike volmaaktheid.  Wat beteken dit vir jou dat Christus in die visioen tussen die kandelare staan?
5.   Wat is jou oortuiging: waar en onder watter voorwaardes is Jesus by ons teenwoordig?
6.   Jesus se teenwoordigheid in die gelowige (Romeine 8: 10) en sy teenwoordigheid in die gemeenskap van gelowiges (Matteus 18: 20) verskil.  Hoe verstaan jy dit?
7.   Ons aanbid die Here Jesus oral waar ons gaan omdat Hy in ons is - ook wanneer ons voor Hom stil word om na Hom te luister en met Hom te praat.   Verder aanbid ons Hom by ons byeenkomste omdat Jesus, ons Koning, 'n lewende werklikheid is wat deur sy liggaam sigbaar word.  As Hy weer kom, sal ons sy teenwoordigheid volmaak beleef en sal ons Hom volmaak aanbid.

Ons antwoord:  ons glo Hy is hier en daarom aanbid ons Hom.

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

VOLGENDE BYEENKOMS:
Aanbidding en gehoorsaamheid - Levitikus 9: 22 tot 10: 3


AANBIDDING IN DIE GELOOFSGESIN (4)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte volksgroepe; voorbidding vir sendelinge en hulle spesifieke behoeftes.
Sorg na buite:  terugrapport oor uitreiking in ons omgewing.
Onderlinge sorg:  ons bid vir mekaar se behoeftes en dien mekaar.

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Aanbidding en gehoorsaamheid
Lees:    Levitikus  9:  22 tot  10:  3

1.   Omdat hierdie geskiedenis voor die koms van Christus afspeel, kan ons dit nie letterlik op ons en ons aanbidding van toepassing maak nie.  Tog wil die Here daardeur vir ons iets sê.
2.   Lees die gedeelte twee maal hardop deur.  Lees dit weer ‘n keer biddend in stilte;  wees sensitief om te hoor wat die Here deur sy Gees aan jou wil oordra.
3.   Vertel wat die Here deur hierdie verse vir jou gesê het.
4.   Die "vuur wat van die Here afgekom het" bring blydskap (9: 24) en droefheid (10: 2).  Die vuur is God se oordeel wat óf op die offer, óf op die sondaar kom.  Kyk ook na Hebreërs 10: 26 - 31; 12: 28, 29. Watter boodskap sou jy sê het dit vir ons?
5.   Hier het ons te doen met 'n voorbeeld van godsdiens wat gevaarlik is;  hoe kan kerkmense vandag onder die oordeel van God kom?
6.    Vertel van situasies waar jy of ander Christene die Here met godsdiens probeer manipuleer het.
7.   Jou lewe moet 'n lewe van aanbidding wees - jy moet met ontsag die Here tot in die kleinste besonderhede gehoorsaam.  Jy mag selfs nie dinge vir Hom probeer doen wat in stryd is met sy Woord nie.  Doelbewuste ongehoorsaamheid het altyd ernstige gevolge!

Ons antwoord:    Al is die Here ‘n God van liefde, is Hy ook ‘n verterende vuur.  Kom ons aanbid Hom met groot ontsag.

AANBIDDING EN VEROOTMOEDIGING: (20")

VOLGENDE BYEENKOMS:
Aanbidding deur woorde -  Psalm 117


AANBIDDING IN DIE GELOOFSGESIN (5)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte volksgroepe; voorbidding vir sendelinge en hul gesinne.
Sorg na buite:  terugrapport oor uitreiking in ons omgewing.
Onderlinge sorg:  ons bid vir mekaar se behoeftes en dien mekaar.

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Aanbidding deur woorde
Lees:    Psalm 117

1.   Lees die gedeelte twee maal hardop deur.  Lees dit weer ‘n keer biddend in stilte en wees sensitief om te hoor wat die Here daardeur vir jou wil sê.
2.   Vertel wat die Here op jou hart gelê het.
3.   As die Here regtig is wie ons glo Hy is, hoe dink jy behoort ons te reageer deur ons lewenswyse?  En deur ons woorde?
4.   Wat beteken dit om iemand te prys?
5.   Hoe dink jy moet ‘n mens die Here prys?
6.   Musiek het 'n belangrike invloed op ons emosies en gedagtes; hoe dink jy moet aanbidding deur sang plaasvind?
7.   Hoe kan ons ons byeenkomste inrig sodat daar werklike aanbidding kan plaasvind?
8.   Aanbidding is die eerbiedige bewondering van die Here God wat 'n gelowige se hele lewe vul.  Dit kan egter nie stilswygend gebeur nie maar kom uit in woorde van gebed en die sing van liedere wat tot Hom gerig word.  Dit kom ook uit in afhanklike gehoorsaamheid.

Ons antwoord:    Waarvan het die Here jou tydens die bespreking oortuig?  Kom ons begin ons aanbidding met een sin-gebede waarin elkeen dit vir die Here sê.

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

VOLGENDE BYEENKOMS:
Evaluering van tema - Openbaring 4: 1 - 4, 9 - 10


AANBIDDING IN DIE GELOOFSGESIN (6)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte volksgroepe;  voorbidding vir sendelinge.
Sorg na buite:  terugrapport oor uitreiking in ons omgewing.
Onderlinge sorg:  ons bid vir mekaar se behoeftes en dien mekaar.

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Evaluering
Lees:    Openbaring 4: 1 - 4,  9 - 10

1.   Lees die gedeelte twee maal hardop deur.  Lees dit weer ‘n keer biddend in stilte en wees sensitief om te luister na die Gees van die Here.
2.   Vertel wat die Here deur hierdie verse vir jou gesê het.
3.   Waarom, dink jy, is die Persoon op die troon naamloos en word Hy nie beskryf nie?
4.   Die ouderlinge is simbolies van die ware gelowiges deur die eeue.  Wat sê die aksies van die ouderlinge (vers 10) vir jou?
5.   Die ouderlinge verteenwoordig ook vir jou.  Hoe kan jy jou lewenswyse as kind van God hiervolgens inrig?
6.   Wees eerlik: het hierdie tema oor aanbidding enige invloed op jou lewe gehad?  Elkeen kry ‘n kans om sy/haar antwoord te verduidelik.

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
*  Aanbidding is 'n keuse en berus nie op gevoel nie; wil jy nie opnuut  die keuse maak om die Here met eerbied te aanbid nie?
*  Kom ons doen wat die ouderlinge doen ons gaan op ons knieë en 'n  paar van ons groeplede lees die gebede van hoofstuk
4 vers 11;
5 vers 9 en 10;
5 vers 11 b; en
5 vers 13 b
uit die hart vir die Here en ons ander stem daarmee saam.
*  Kom ons sing Lied 190 in aanbidding met groot eerbied.

VOLGENDE BYEENKOMS:
Nuwe gesprekstema