|
Gesprekstemas vir selgemeentes |
![]() |
Tema Nr 13: CHRISTUS WORD VERVOLG
Elektroniese kopie: Oktober 2001. Hierdie
gesprekstema mag van die internet afgelaai en vermenigvuldig word.
Daar mag egter geensins aan die inhoud verander word nie.
Enige donasies vir die voortgang
van die bediening word verwelkom.
Handleiding opgestel deur Johan Lindeque.
Hierdie gesprekstema is opgestel met die doel om
* die Skrif se lig op ons lewende en voortgaande verhouding met Jesus
Christus te laat val;
* gelowiges te help om God se stem te hoor en met Hom te praat.
Hoe om die meeste seën uit hierdie gesprekstema te put:
* Beskou die gesprekstema slegs as ‘n hulpmiddel.
* Dit is nie ‘n handleiding vir Bybelstudie nie. Die vrae handel
nie in die eerste plek oor inligting of Bybelfeite nie maar help ons om
regtig na die Here (wat deur sy Woord en Gees teenwoordig is) te luister.
* Enige persoon wat daarvoor kans sien, kan hierdie gesprek lei want
dit vereis nie spesiale kennis of vernuf nie.
* Alhoewel die byeenkoms met ernstige gebed voorberei moet word, kan
die gesprek nie voorberei word nie - dit word deur die Heilige Gees gelei.
* In God se oë is ons nie kerkmense wat bymekaar kom nie maar
‘n geestelike huisgesin; familielede wat rondom hulle Vader saam is om
Hom en mekaar te geniet!
CHRISTUS WORD VERVOLG (1)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Christus, ons voorbeeld in lyding
Lees: 1 Petrus 2: 18 - 21
1. Hoe voel jy as iemand onredelik teenoor jou optree, veral
iemand in ‘n gesagsposisie (werkgewer, hoof, onderwyser)?
2. Wat is ons normale reaksie teenoor so ‘n persoon?
3. Lees die Skrifgedeelte. Elkeen kry geleentheid
om ‘n versie te lees al word die gedeelte ‘n paar keer herhaal.
4. Lees dit weer saggies en biddend deur en vertel daarna
vir mekaar wat die Here hierdeur vir jou gesê het.
5. In die voetspore van Jesus volg ... Makliker gesê
as gedaan!
Wat moet ons doen om hieraan gehoorsaam te wees?
6. Hoe gaan ons as gesinslede mekaar hierin help?
7. Hoe gaan ons ons kinders leer om so te lewe?
8. Ons is vreemdelinge in die wêreld en daarom so
dikwels uitgelewer aan onredelike werkgewers of mense in gesagsposisies.
Dit beteken nie dat jy die persoon moet haat nie. Jy moet hom/haar
vergewe, respekteer en liefhê. Jesus is ons navolgingswaardige
voorbeeld in die wyse waarop Hy sy onverdiende lyding hanteer het.
Ons antwoord: Elkeen van ons kry in stille gebed die geleentheid om in liefde uit te reik na hulle wat onregverdig teenoor ons optree.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: ons bid nou en die komende week vir die
gelowiges in die Midde-Ooste wat nie werk kry nie omdat hulle Christene
is.
Sorg na buite: bid vir die Christene in ons plaaslike
owerheid.
Onderlinge sorg: enige een met ‘n spesifieke behoefte
kom sit op die “omgeestoel” en die ander staan rondom en bid vir die persoon.
Watter gesin bid vir watter een hierdie komende week?
VOLGENDE BYEENKOMS: Toewyding aan God bring vervolging.
CHRISTUS WORD VERVOLG (2)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Toewyding aan God bring vervolging
Lees: 2 Timoteus 3: 10 - 12
1. Wat verstaan jy onder vervolging?
2. Broer Andrew het eenkeer in Oos-Europa ‘n kerkleier
ontmoet wat al meermale tronkstraf vir sy geloof moes uitdien.
Hy vra toe: “Word die Christene in Holland ook vervolg?” “Nee”, antwoord
Broer Andrew. “Is daar geen Christene in die tronk ter wille
van hulle geloof nie?” “Niemand nie”. “Waarom nie?” wou
die kerkleier weet. “Omdat ons godsdiensvryheid in ons land
het.” Terwyl hy so praat, word Broer Andrew in die rede geval: “Wat
maak julle dan met 2 Timoteus 3: 12?”
3. Almal lees vers 12 hardop. Daarna word die hele
gedeelte saggies en biddend deurgelees. Wat het die Here vir jou
gesê?
4. Op watter wyse bring jou lewe as Christen mee dat jy
vervolg word? (gespot, verag, grappies, ens)
5. Hoe belewe jy dit wanneer iemand (dalk baie naby aan
jou) jou vervolg?
6. Hoe kan ons as selgemeente mekaar hierin ondersteun?
7. Hoe kan ons help om ons kinders voor te berei vir vervolging?
8. Om die Evangelie te leef beteken nie altyd ‘n pad van
maanskyn en rose nie. Toewyding aan God bring vervolging mee, maar
die Here dra sy kinders deur alles heen.
Ons antwoord: Verdeel in groepies van drie en bid spesifiek vir diegene wat swaarkry omdat hulle Jesus bely.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: bid nou en die komende week vir die kerk in Kuba.
Sorg na buite: bel een van die Christen gemeenskapsleiers
en verseker hom/haar van jou voorbidding.
Onderlinge sorg: dieselfde groepie bid vir mekaar se behoeftes.
Wie sorg en bid vir wie hierdie week?
VOLGENDE BYEENKOMS: Dit is Christus wat vervolg word.
CHRISTUS WORD VERVOLG (3)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Dit is Christus wat vervolg word
Lees: Handelinge 22: 4 - 8
1. Lees die teksverse twee keer hardop en daarna weer ‘n
keer saggies en biddend.
2. Wat het die Here deur hierdie Skrifgedeelte vir jou
gesê?
3. Hoe is Jesus vervolg volgens hierdie gedeelte?
4. Vertel van situasies waarvan jy bewus is, waar Jesus
vandag vervolg word.
5. Hoe kan ons as geloofsgesin Jesus dien waar Hy (volgens
punte 3 en 4) vervolg word?
6. Bespreek jou optrede: Joey is brandend vir die
Here. Elkeen wat by haar kantoor inkom, moet eers hoor wat die Here
vir haar gedoen het. Nadat haar werkgewer haar aangespreek het omdat
haar werk agter geraak het, het sy vir medegelowiges gevra om vir haar
te bid aangesien sy vervolg word.
7. Die gelowiges is die liggaam van Christus wat Hom verteenwoordig.
Wie húlle vervolg, vervolg vir Jesus self. Wanneer ek egter
swaarkry as gevolg van my eie foute, is dit nie vervolging nie.
8. Hoe kan hierdie waarhede ons kinders bemoedig en versterk?
Ons antwoord: Kom ons sê elkeen in een sinnetjie vir die Here dankie dat ons ook soms saam met Jesus vervolg word en dat ons ander wat vervolg word, kan bystaan.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: bid nou en gedurende die komende week vir
die Christene wat in Latyns-Amerika in tronke is ter wille van hulle getuienis.
Sorg na buite: watter persoon in ons
omgewing kry swaar as gevolg van sy/haar getuienis? Ons bid spesifiek
vir en bemoedig die komende week hierdie persoon.
Onderlinge sorg: wie van ons geloofsgesin
het voorbidding en ondersteuning nodig? Wie sorg hierdie week
vir wie?
VOLGENDE BYEENKOMS: Gebed dra gelowiges in vervolging.
CHRISTUS WORD VERVOLG (4)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Gebed dra gelowiges in vervolging
Lees: Handelinge 4: 27 - 31
1. Elkeen lees biddend en in afhanklikheid van die Heilige
Gees die Skrifgedeelte.
2. Vertel wat die Here deur hierdie gedeelte vir jou gesê
het.
3. Wat is die rol van ‘n selgemeente soos ons ten opsigte
van Christene regoor die wêreld wat vervolg word?
4. Noem verskillende maniere waarop ons as geloofsgesin
mekaar kan ondersteun as ons moed min raak om vir die Here te getuig?
5. As selgemeente plaas die Here ons in ‘n unieke situasie
om vir die Christene wat vervolg word, te bid. Op hierdie wyse gebruik
die Here ons om te bid dat die kinders van God wat in moeilike en vyandige
omstandighede moet getuig, krag sal ontvang om vreesloos te wees.
6. Hoe gaan ons ons kinders leer om medeverantwoordelikheid
in die gebed te aanvaar vir medegelowiges in ander wêrelddele, veral
diegene wat onder vervolging ly?
Ons antwoord: Gesels twee-twee en vertel mekaar teenoor watter mense en in watter omstandighede dit vir jou moeilik is om te getuig. Bid nou vir mekaar en vir die vervolgde kerk.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: bid nou en die komende week vir die gelowiges
in Sudan wat gebuk gaan onder baie vervolging. Bid ook vir die klein
groepie gelowiges (± 25) op die Comores Eilande met ‘n Moslembevolking
van 450 000.
Sorg na buite: soms moet die leiers van ons
gemeentes onder onregverdige kritiek deurloop. Bid vir hulle en ondersteun
hulle.
Onderlinge sorg: wie het gebed nodig?
Wie sorg vir wie hierdie week?
VOLGENDE BYEENKOMS: Christene wat ander Christene laat ly.
CHRISTUS WORD VERVOLG (5)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Christene wat ander Christene laat ly
Lees: Lukas 9: 46 en 3 Johannes vs 9 - 10
1. Op ‘n wintersaand het die filosoof Schopenhauer dopgehou
hoe ‘n paar ystervarkies vanweë die koue na mekaar toe gekruip het
vir ‘n bietjie warmte. Sodra hulle naby mekaar gekom het, het die
penne hulle gesteek en is hulle uitmekaar. Schopenhauer se gevolgtrekking
was dat Christene hulle dikwels soos ystervarke gedra: sodra hulle te na
aan mekaar kom, veroorsaak hulle vir hulself en ander pyn.
2. Lees die teksverse twee keer hardop en daarna weer ‘n
keer saggies en biddend .
3. Wat het die Here vir jou deur hierdie Skrifgedeeltes
gesê?
4. Waarom maak ons wat so naby aan mekaar lewe, mekaar
so dikwels seer?
5. Wat is volgens jou opinie die oplossing van hierdie
probleem? Kyk ook na Filippense 2: 3 en 4.
6. Hoe kan ons kinders reeds in die huis geleer word om
hierdie waarhede toe te pas?
7. Slegs wanneer gelowiges onder die beheer van die Heilige
Gees lewe, word hulle bereid om mekaar te dien in plaas van hulself te
handhaaf. Die Heilige Gees help ons om daadwerklik die ou sondige
natuur te kruisig sodat ons ophou om ander seer te maak.
Ons antwoord: Verdeel in groepe van drie; gesels oor en bely dit waardeur ons mekaar dalk seergemaak het.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: bid noe en die komende week vir die kerk
in Kuba.
Sorg na buite: skakel of besoek hierdie week iemand
van ‘n ander kerkgenootskap en verseker hulle van jou voorbidding.
Onderlinge sorg: wie sog en bid vir wie hierdie
week?
VOLGENDE BYEENKOMS: Evaluering van tema.
CHRISTUS WORD VERVOLG (6)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Evaluering
Lees: 2 Korintiërs 4: 7 - 10
1. Lees die Skrifgedeelte twee maal hardop en daarna weer
‘n keer saggies en biddend deur.
2. Vertel vir mekaar wat die Here hierdeur vir julle gesê
het.
3. Herinner mekaar, sonder om te kyk, aan die vyf onderwerpe
waaroor ons in hierdie tema gepraat het.
4. Dit is uiters gevaarlik indien die heerlike waarhede
wat ons hier bespreek het geen invloed op ons praktiese lewenswyse het
nie. Wat het in jou lewe verander as gevolg van die tema wat ons
die afgelope paar weke bespreek het?
5. Wat dink jy wil die Here hê dat ons verder in
hierdie verband moet doen?
6. Vervolging, omdat ons aan Christus verbind is, is ‘n
noodwendige deel van elke gelowige se lewe. Ons moet dus nie teneergedruk
of radeloos wees nie, maar dankbaar vir die voorreg om in sy Naam verdruk
te word.
Ons antwoord: Kom ons sê vir die Here dankie dat Hy ons dit werd ag om vir sy Naam te ly. Kom ons vra Hom, indien ons nie ly nie, dat Hy ons sal sterk maak indien daar so-iets oor ons pad kom.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: bid nou en die komende week vir die Christene
wat in Peru in die tronk is ter wille van hulle geloof in Jesus Christus.
Skryf aan die kerkleiers in Peruïaanse tronke.
Sorg na buite: moenie julle gesinsvriende afskeep
nie - ervaar hulle Jesus se liefde deur julle?
Onderlinge sorg: die Here het ons vir mekaar
verantwoordelik gemaak. Wie van ons geloofsgesin het hierdie week
jou aandag en ondersteuning nodig?
VOLGENDE BYEENKOMS: Volgende gesprekstema.