|
Gesprekstemas vir selgemeentes |
![]() |
Tema Nr 12: DIE GELOOFSGESIN EN GELD
Elektroniese kopie: Oktober 2001. Hierdie
gesprekstema mag van die internet afgelaai en vermenigvuldig word.
Daar mag egter geensins aan die inhoud verander word nie.
Enige donasies vir die voortgang
van die bediening word verwelkom.
Handleiding opgestel deur Marius Potgieter.
Hierdie gesprekstema is opgestel met die doel om
* die Skrif se lig op die gelowige se eiesoortige manier van hantering
van geld te laat val;
* gelowiges te help om sonder spanning oor finansies in afhanklikheid
van die Here te lewe.
Hoe om die meeste seën uit hierdie gesprekstema te put:
* Beskou die gesprekstema slegs as ‘n hulpmiddel.
* Dit is nie ‘n handleiding vir Bybelstudie nie. Die vrae handel
nie in die eerste plek oor inligting of Bybelfeite nie maar help ons om
regtig na die Here (wat deur sy Woord en Gees teenwoordig is) te luister.
* Enige persoon wat daarvoor kans sien, kan hierdie gesprek lei want
dit vereis nie spesiale kennis of vernuf nie.
* Alhoewel die byeenkoms met ernstige gebed voorberei moet word, kan
die gesprek nie voorberei word nie - dit word deur die Heilige Gees gelei.
* In God se oë is ons nie kerkmense wat bymekaar kom nie maar
‘n geestelike huisgesin; familielede wat rondom hulle Vader saam is om
Hom en mekaar te geniet!
DIE GELOOFSGESIN EN GELD (1)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Jy en jou geld behoort aan die Here
Lees: Psalm 24: 1; 1 Petrus 1:
18, 19
1. Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.
2. Vertel vir mekaar wat die Here deur hierdie verse vir
jou gesê het.
3. As ons aan die Here behoort (omdat Hy ons geskape het
en uit die mag van die bose teruggekoop het), hoeveel seggenskap het ons
oor ons eie besittings en ons inkomste?
4. Hoe beskryf Paulus hierdie waarheid in 1 Korintiërs
4: 7?
5. Hoe moet gelowiges hulle finansies hanteer in die lig
van die verse wat ons gelees het?
6. Jy het hoegenaamd geen seggenskap oor jou geld en besittings
nie. Wanneer mens jou geld as jou eiendom beskou en hanteer, is dit
‘n vorm van opstandigheid teen God, en daarom ernstige sonde.
Ons antwoord: Elkeen bid net een sinnetjie waarin eerlik met die Here gepraat word oor hierdie saak.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte volksgroepe;
gebed vir die sendelinge by wie ons betrokke is.
Sorg na buite: terugrapport oor voorbidding en uitreiking na
mense in ons omgewing. Hoe gaan ons hierdie week Jesus by mense verteenwoordig?
Onderlinge sorg: ons bid vir mekaar se behoeftes; watter gesin
bid spesiaal vir watter gesin?
VOLGENDE BYEENKOMS:
Die Here se doel: ons lewensonderhoud.
DIE GELOOFSGESIN EN GELD (2)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Die Here se doel: ons onderhoud
Lees: Lukas 11: 3; Efesiërs 6:
6 - 8; 4: 28
1. Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.
2. Vertel wat die Here deur hierdie verse vir jou gesê
het.
3. Watter lewensingesteldheid moet kinders van God ontwikkel
in die lig van hierdie gebed?
4. Bespreek: “’n Mens wat hierdie gebed bid, is nie
van sy of haar werkgewer afhanklik nie”.
5. Waarom werk ons, en met watter gesindheid?
6. Die Here wil in ons behoeftes voorsien. Soos kinders
moet ons elke dag ons behoeftes aan Hom bekend maak. Ons is slegs
van Hom afhanklik. Hy gebruik verskeie middele, onder ander ‘n salaris,
om vir ons te voorsien; ons is egter nie van ‘n werkgewer afhanklik
nie.
Ons antwoord: Om ‘n nuwe lewensstyl daar te stel vra dat ons elke dag ons afhanklikheid van die Here sal besef en bely. Kom ons vra die Heilige Gees om ons elke dag aan ons afhanklikheid te herinner.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte
volksgroepe; gebed vir sendelinge en hulle kontakte.
Sorg na buite: terugrapport oor voorbidding en uitreiking
na mense in ons omgewing. Beplanning en gebed vir die komende week.
Onderlinge sorg: het een van ons nou gebed
of ander ondersteuning nodig? Wie sorg en bid vir wie die komende
week?
VOLGENDE BYEENKOMS:
Die Here se doel: dat ons kan gee.
DIE GELOOFSGESIN EN GELD (3)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Die Here se doel: dat ons kan gee
Lees: 2 Korintiërs 9: 8 - 11; 8:
2, 5, 13
1. Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.
2. Vertel vir mekaar wat die Here hierdeur vir jou gesê
het.
3. Vertel vir mekaar waar jy gesien het hoe 2 Korintiërs
9: 6 waar word.
4. Hoe het die eerste gemeentes (volgens Handelinge 4:
32) die beginsel om mekaar onderling te help, uitgeleef?
5. Hoe gaan ons as selgemeente hierdie verse prakties uitleef?
6. God sorg baie keer vir sy kinders deurdat medegelowiges
wat op daardie stadium in ‘n beter posisie verkeer, mededeelsaam is.
In hierdie selgemeente moet ons leer om fyn na die Heilige Gees te luister
sodat ons elkeen kan gee waar en hoe die Here wil hê ons moet gee.
Dit sluit baie meer in as wat normaalweg as dankoffers beskou word.
Ons antwoord: Gee ‘n paar oomblikke van stilte waarin elkeen kans kry om vir die Here te sê wat hy of sy met hierdie opdrag gaan maak. Kom ons vra die Here om ons te help om te hoor waar Hy wil hê dat ons sal gee.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte volksgroepe;
gebed vir sendelinge, veral vir hulle gesondheid.
Sorg na buite: terugrapport oor voorbidding en uitreiking
na mense in ons omgewing. Beplanning en gebed vir die komende week.
Onderlinge sorg: ons bid vir mekaar se finansiële
en ander behoeftes. Wie bid en ondersteun vir wie die komende
week?
VOLGENDE BYEENKOMS:
Die Here se doel: dat ons kan geniet.
DIE GELOOFSGESIN EN GELD (4)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Die Here se doel: dat ons kan geniet
Lees: Prediker 5: 18; 1 Timoteus 6:
17.
1. Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur. Stel jouself oop
vir die Heilige Gees.
2. Vertel vir mekaar wat die Here hierdeur vir jou gesê
het.
3. Vertel van geleenthede waar jy die lewe regtig geniet
het.
4. Christene voel soms skuldig omdat hulle geld spandeer
om iets te geniet. Wanneer hoef ons nie skuldig te voel nie?
5. Op watter maniere kan ‘n mens die lewe geniet sonder
dat dit jou veel kos? Gee vir mekaar praktiese raad.
6. Om, afgesien van die noodsaaklike dinge, die goeie van
die lewe te geniet, is ‘n gawe van die Here. Die Here wil hê
dat ons die lewe sal geniet en dit kos meestal nie baie geld nie.
Vra vir die Here om vir jou te wys wanneer jy mag spandeer om te geniet.
Ons antwoord: Twee-twee bid saam en sê vir die Here dankie vir die gawes wat ons uit sy Hand ontvang. Ons vra Hom om ons vry te maak om die lewe regtig te kan geniet.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte
volksgroepe. Gebed vir sendelinge; wie kontak hulle namens ons almal?.
Sorg na buite: terugrapport oor voorbidding en uitreiking
na mense in ons omgewing. Wat gaan ons die komende week doen?
Onderlinge sorg: ons bid vir mekaar se behoeftes.
Wie gaan hierdie week vir wie ondersteun en bid?
VOLGENDE BYEENKOMS:
Hy voorsien - ons vertrou.
DIE GELOOFSGESIN EN GELD (5)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Hy voorsien - ons vertrou
Lees: Filippense 4: 18, 19; 1 Timoteus
6: 7, 8.
1. Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.
2. Vertel vir mekaar wat die Here hierdeur vir jou gesê
het.
3. Bespreek: “Bekommernis is ‘n belediging vir God”.
4. Spreuke 10: 3 sê: “Die Here laat die mens wat
reg doen nie honger ly nie ...” Wat beteken “reg doen” in die lig
van die res van die Skrif?
5. Waarom is mens so maklik ontevrede met dit wat jy van
die Here ontvang?
6. As God is wie Hy sê Hy is, sal Hy in elke behoefte
van sy kinders voorsien. Ons moet leer om die Here blindelings te
vertrou en tevrede te wees met wat Hy ookal vir ons gee.
Ons antwoord: Noem die dinge (anders as kos en klere) wat die here aan ons gee en wat ons normaalweg as vanselfsprekend aanvaar. Een persoon bely dit namens die groep voor die Here.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte
volksgroepe; gebed vir sendelinge, veral hulle eensaamheid weg van hulle
familie en vriende.
Sorg na buite: terugrapport oor voorbidding en uitreiking
na mense in ons omgewing. Wat gaan ons doen om Jesus sigbaar te maak?
Onderlinge sorg: ons bid vir mekaar se behoeftes.
Wie ondersteun en bid vir wie die komende week?
VOLGENDE BYEENKOMS:
Rykdom of armoede: tot alles in staat.
DIE GELOOFSGESIN EN GELD (6)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Rykdom of armoede: tot alles in
staat
Lees: Jakobus 1: 9 - 11 en 2: 5;
Filippense 4: 12, 13.
1. Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur. Stel jouself oop
vir die Heilige Gees.
2. Vertel vir mekaar wat die Here hierdeur vir jou gesê
het.
3. God gebruik soms armoede ten goede in sy kinders se
lewe. Vertel vir mekaar van sulke gevalle.
4. Mense is bang vir armoede en wil hê dat dit altyd
moet goed gaan. Hoe dink God oor hierdie saak?
5. Elke gelowige is terselfdertyd ryk en arm. Wat
sê die Skrif hieroor?
6. Of jy ryk of arm is, dit is goed vir jou want God het
‘n doel daarmee. Leer om uit God se oogpunt na jou situasie te kyk.
Wat ookal jou omstandighede is, God sal jou help om dit te hanteer deur
die krag en wysheid wat Hy in Christus aan jou gee.
Ons antwoord: Bid almal hardop saam Spreuke 30: 8 en 9.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte
volksgroepe; gebed vir sendelinge, veral hulle aanpassing by ‘n vreemde
kultuur.
Sorg na buite: terugrapport oor voorbidding en uitreiking
na mense in ons omgewing. Ons beplan om wat die Here op ons harte
gelê het hierdie week uit te voer.
Onderlinge sorg: ons bid vir mekaar se behoeftes.
Wie sorg en bid vir wie gedurende die komende week?
VOLGENDE BYEENKOMS:
Die gevaar van gierigheid.
DIE GELOOFSGESIN EN GELD (7)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Die gevaar van gierigheid
Lees: Hebreërs 13: 5; Efesiërs
5: 5.
1. Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.
2. Vertel vir mekaar wat die Here hierdeur vir jou gesê
het.
3. Bespreek: “’n Arm mens kan net so gierig wees
soos ‘n ryke”.
4. Is die gelykstelling van gierigheid met afgodery nie
te sterk gestel nie?
5. God wil hê dat ons denke gevul sal wees met sy
wil en visie. Hoe verskil dit van die materialistiese uitkyk?
6. Die westerse lewensingesteldheid hou vir elke
gelowige ‘n gevaar in. Materialisme beteken onder meer dat mens altyd
meer wil hê om jou te beskerm teen moontlike swaarkry. Dit
kom daarop neer dat ‘n mens ‘n ander god soek wat hom “beter” sal versorg
as sy Vader.
Ons antwoord: Sit in groepies van drie (nie man en vrou bymekaar nie) en vra die Here om julle denke vry te hou van gierigheid. Bid vir mekaar dat julle die Heilige Gees sal toelaat om julle denke te beheer.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte
volksgroepe; gebed vir sendelinge, veral hulle finansiële versorging.
Sorg na buite: terugrapport oor voorbidding en uitreiking
na mense in ons omgewing. Wie het Jesus se liefde nodig? Hoe
gaan ons Hom verteenwoordig?
Onderlinge sorg: ons bid vir mekaar se behoeftes
en dien mekaar. Wie bid vir wie die komende week?
VOLGENDE BYEENKOMS:
Offergawes - teken van afhanklikheid.
DIE GELOOFSGESIN EN GELD (8)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Offergawes - teken van afhanklikheid
Lees: Hebreërs 13: 16; Markus 12:
44; Lukas 6: 38
1. Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur. Stel jouself oop
vir die Heilige Gees.
2. Vertel vir mekaar wat die Here hierdeur vir jou gesê
het.
3. Bespreek: “Offers aan God is altyd offers aan
mense”.
4. As die arm weduwee alles gee, is dit nie onverantwoordelik
nie?
5. Mag ons aanspraak maak op die belofte van Lukas 6: 38?
6. Die Here vra nooit wat Hy nie eers vir ons gee nie.
Ons moet leer om onvoorwaardelik te gee waar, wanneer en wat Hy van ons
vra. God het dit nie nodig nie maar dit is tot voordeel van die gelowige
om te gee - dis ‘n toets en teken van sy of haar afhanklikheid van die
Here.
Ons antwoord: Gaan bid hierdie week oor dit wat die Here wil hê jy as finansiële offers moet gee. Moenie kyk na wat jy het nie, maar na wat jy glo die Here vir jou beskikbaar gaan stel.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte
volksgroepe; gebed vir sendelinge, en veral vir hulle kinders.
Sorg na buite: terugrapport oor voorbidding
en uitreiking na mense in ons omgewing. Beplan hoe Jesus se liefde
uitgeleef gaan word.
Onderlinge sorg: ons bid vir mekaar se behoeftes.
Wie sorg en bid vir wie hierdie komende week?
VOLGENDE BYEENKOMS:
Skuld of nie skuld nie.
DIE GELOOFSGESIN EN GELD (9)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Skuld of nie skuld nie
Lees: Romeine 13: 8 (ook in Die Lewende Bybel,
indien moontlik)
1. Laat die verse twee maal hardop en rustig deurgelees
word. Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.
2. Vertel vir mekaar wat die Here deur hierdie verse vir
jou gesê het.
3. Waarom kan dit ‘n oortreding van die liefdesgebod wees
om skuld te maak?
4. Om byvoorbeeld ‘n huis met ‘n lening te koop en om daaglikse
lewensmiddele en luukshede op skuld te koop is twee verskillende dinge.
Hoekom moet ‘n gelowige laasgenoemde ten alle koste vermy?
5. Vertel vir mekaar van skuld wat jy nou weet jy nooit
moes aangegaan het nie.
6. ‘n Gelowige mag nie op skuld koop sonder die Here se
opdrag nie. Die Here wil nie hê dat skuld ons sodanig bind
dat ons op ander terreine nie sy wil kan uitvoer nie. Skuld wat deur
te hoë lewensstandaard veroorsaak word, is in stryd met die Here se
wil.
Ons antwoord: Skuld kan jou manipuleer. Kyk hierdie week weer na jou begroting en beplan hoe jy uit onnodige skuld kan uitkom.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte
volksgroepe; gebed vir sendelinge, veral vir hulle groei in die geloofslewe.
Sorg na buite: terugrapport oor voorbidding en uitreiking
na mense in ons omgewing. Ons beplan ons liefdesbediening.
Onderlinge sorg: ons bid vir mekaar se behoeftes.
Wie sorg spesiaal vir wie die komende week?
VOLGENDE BYEENKOMS:
Genesing van materialisme
DIE GELOOFSGESIN EN GELD (10)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Genesing van materialisme
Lees: 1 Korintiërs 7: 29 - 31;
Handelinge 20: 35
1. Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.
2. Vertel wat die Here deur hierdie gedeeltes vir jou gesê
het.
3. Met watter lewensingesteldheid moet ons lewe volgens
1 Korintiërs 7: 31?
4. Wat beteken Paulus se woorde “aankoop asof julle dit
nie besit nie” vir ons daaglikse lewe?
5. Vertel van die kere wat Handelinge 20: 35 vir jou waar
geword het.
6. As jy ‘n visie het van God se koninkryk en jy gee jouself
asook dit wat die Here aan jou toevertrou het soos wat Hy jou lei, is jy
vry van materialisme.
Ons antwoord: Elkeen sê in stilte vir die Here dat hy of sy vry wil wees om ten volle Sy wil te kan doen. Sing nou lied 308 vs 1 en 4 saam as ‘n gebed.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte
volksgroepe; gebed vir die sendelinge veral waar hulle deur die bose aangeval
word.
Sorg na buite: terugrapport oor voorbidding en uitreiking
na mense in ons omgewing. Beplan en bid vir uitreiking na spesifieke
persone.
Onderlinge sorg: ons bid vir mekaar se behoeftes.
Wie gee aan wie spesiale aandag hierdie komende week?
VOLGENDE BYEENKOMS:
Evaluering
DIE GELOOFSGESIN EN GELD (11)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Evaluering
Lees: Matteus 6: 19 - 21
1. Iemand lees die Skrifgedeelte hardop voor.
2. Elkeen noem watter waarheid vir hom of haar in hierdie
reeks in die besonder uitgestaan het.
3. Vertel van veranderinge wat die Here hierdeur in jou
lewenstyl teweeg gebring het.
4. Bespreek hoe ons ons kinders tydens ons byeenkomste
gaan leer dat die gee van finansiële offers ‘n voorreg, ‘n vreugde
en ‘n verantwoordelikheid is wat ook met gebed gepaard gaan.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte
volksgroepe; gebed vir sendelinge.
Sorg na buite: terugrapport oor voorbidding en uitreiking
na mense in ons omgewing. Wat gaan ons gedurende die komende week
doen?
Onderlinge sorg: ons bid vir mekaar se behoeftes.
Wie sorg en bid gedurende die week vir wie?
VOLGENDE BYEENKOMS: Nuwe gesprekstema.