GEMEENTEVREUGDE

Gesprekstemas vir selgemeentes

Tema Nr 11:       IN JESUS SE DIENS



© Outeursreg 2000  -  Gemeentevreugde.
Posbus 2736,  George  6530.   E-pos:  vreugde@icon.co.za
Gedrukte gesprekstemas is by bogenoemde adres beskikbaar.

Elektroniese kopie:  Oktober 2001.   Hierdie gesprekstema mag van die internet afgelaai en vermenigvuldig word.  Daar mag egter geensins aan die inhoud verander word nie.
Enige donasies vir die voortgang van die bediening word verwelkom.

Handleiding opgestel deur Marius Potgieter.


AGTERGROND

Hierdie gesprekstema is opgestel met die doel om
* die Skrif se lig te laat val op die geloofslewe as ‘n lewe wat heeltemal aan God oorgegee is as ‘n lewende en heilige offer wat vir Hom aanneemlik is;
* gelowiges wat dink dat godsdiens slegs ‘n deel van die lewe raak, vanuit die Skrif reg te help;
* almal in die selgemeente opgewonde te maak oor die wonderlike voorreg om die lewende Skepper-God te aanbid en te dien.

Hoe om die meeste seën uit hierdie gesprekstema te put:
* Beskou die gesprekstema slegs as ‘n hulpmiddel.
* Dit is nie ‘n handleiding vir Bybelstudie nie.  Die vrae handel nie in die eerste plek oor inligting of Bybelfeite nie maar help ons om regtig na die Here (wat deur sy Woord en Gees teenwoordig is) te luister.
* Enige persoon wat daarvoor kans sien, kan hierdie gesprek lei want dit vereis nie spesiale kennis of vernuf nie.
* Alhoewel die byeenkoms met ernstige gebed voorberei moet word, kan die gesprek nie voorberei word nie - dit word deur die Heilige Gees gelei.
* In God se oë is ons nie kerkmense wat bymekaar kom nie maar ‘n geestelike huisgesin; familielede wat rondom hulle Vader saam is om Hom en mekaar te geniet!


IN JESUS SE DIENS (1)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:  Duur gekoop vir Jesus se diens
Lees:  1 Petrus 1: 17 - 19

1. Laat die gedeelte twee maal hardop gelees word.  Gee geleentheid dat elkeen dit weer biddend in stilte lees om te hoor wat die Here daardeur vir ons wil sê.
2. Vertel vir mekaar wat die Here deur hierdie verse vir jou gesê het.
3. Op watter manier het jy ook deel gehad aan ‘n “oorgeërfde sinlose bestaan”?
4. Hoe sou jou lewe gewees het as Jesus jou nie vir Homself gekoop het nie?
5. Ons eerbied vir Vader moet uitkom in ‘n bepaalde lewenswyse - hoe voldoen ons as groep aan hierdie vereiste?
6. Ons was slawe van die sonde en die bose maar Jesus het ons losgekoop.  Nou behoort ons aan Hom.  Soos ‘n slaaf dien ons Hom met ons hele lewe en al die fasette daarvan.  Ons dien Hom uit eerbied en dankbaarheid.

Ons antwoord:   Iemand wat gewillig is, antwoord die Here in ‘n kort gebed.

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   Die persoon wat verantwoordelik is om die groep te lei ten opsigte van wêreldsending gee nou ‘n oorsig oor ons betrokkenheid by die uitdra van die evangelie.
Sorg na buite: Terugvoering oor sorgbesoeke asook beplanning vir die komende week.
Onderlinge sorg: Elke week kom een gesinshoof in die middel sit en ons bid vir hierdie gesin se behoeftes.
Wie gaan gedurende hierdie week vir wie bid en ondersteun?

VOLGENDE BYEENKOMS:
Jou liggaam in Jesus se diens - 1 Korintiërs 6: 18 - 20.


IN JESUS SE DIENS (2)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Jou liggaam in Jesus se diens
Lees:  1 Korintiërs 6: 18 - 20

1. Laat die gedeelte twee maal hardop gelees word.  Gee geleentheid dat elkeen dit weer biddend in stilte lees om te hoor wat die Here daardeur vir ons wil sê.
2. Vertel vir mekaar wat die Here deur hierdie verse vir jou gesê het.
3. As Skepper is die Here die Eienaar van elke mens se liggaam. As ons sien hoe die meeste mense leef, wat sê dit oor die Here se eienaarskap?
4. Paulus gee in vers 19 nog 'n belangrike rede waarom jou liggaam die Here se eiendom is.  Hoe raak dit die gelowige se ongesonde gewoontes (vs 12);  eet en drink (vs 13);  seksuele lewe (vs 18)?
5. Jy kan alleen gelukkig wees as jy die Here as Eienaar van jou liggaam erken; dit gebeur wanneer jy jou ten volle aan Hom oorgee as 'n tempel waarin Hy woon en wat deur Hom geheilig is.  Nou kan jy die lewe saam met Hom geniet!

Ons antwoord: Twee-twee vertel mekaar wat julle vanaand besluit het en hoe julle dit wil uitlewe.  Bid nou vir mekaar se voornemens.

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   Ons gee aandag aan ‘n onbereikte volksgroep en sendelinge.
Sorg na buite: Terugvoering oor sorgbesoeke en beplanning vir die week.
Onderlinge sorg:   Een van die gesinshoofde sit in die middel vir gebed.  Wie van ons groep het voorbidding nodig? Wie sorg die komende week vir wie?

VOLGENDE BYEENKOMS:
Jou besittings in Jesus se diens   1 Tim 6: 610, 1719


IN JESUS SE DIENS (3)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Jou besittings in Jesus se diens
Lees: 1 Timoteus 6: 6, 10, 17 - 19

1. Laat die gedeelte twee maal hardop gelees word.  Gee geleentheid dat elkeen dit weer biddend in stilte lees en luister  wat die Here daardeur vir jou  wil sê.
2. Vertel vir mekaar wat die Here deur hierdie verse vir jou gesê het.
3. ‘n Gelowige se gesindheid en instelling is lewensbelangrik; hoe moet ons instelling wees volgens vers 7 en die laaste deel van vers 17?
4. Watter tekens van geldgierigheid sien jy onder gelowiges?  Hoe hinder dit ons in ons roeping om Jesus te dien?
5. Vers 18 is in werklikheid ‘n opdrag aan alle gelowiges.  Kom ons spoor mekaar nou aan - hoe gaan ons vers 18 uitvoer?
6. Alles wat ek besit is die eiendom van die Here Jesus en moet gebruik word volgens sy wil; ons moet slegs op Hom vertrou vir ons behoeftes.  Ons moet ryk word deur (as sy instrumente) aan ander wat nie het nie, te gee.

Ons antwoord:   Elkeen sê in een sinnetjie wat sy/haar antwoord aan die Here oor hierdie saak is.

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   Aandag aan onbereikte volksgroep en die sendelinge wat ons verteenwoordig.
Sorg na buite: Watter sorgbesoeke is gedoen?  Wat word beplan vir die komende week?
Onderlinge sorg:  Ons bid vir ‘n gesin waarvan die gesinshoof in die middel sit.  Ons bid ook hierdie week vir mekaar dat ons almal ryk sal word deur vrygewigheid.  Wie ondersteun vir wie?

VOLGENDE BYEENKOMS:
Jou tyd in Jesus se diens - Efesiërs 5: 15 - 17.


IN JESUS SE DIENS (4)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Jou tyd in Jesus se diens
Lees:   Efesiërs 5: 15 - 17

1.  Laat die gedeelte twee maal hardop gelees word.  Gee geleentheid dat elkeen dit weer biddend in stilte lees. Ons moet hoor wat die Here daardeur vir ons wil sê.
2.  Vertel vir mekaar wat die Here deur hierdie verse vir jou gesê het.
3.  Wat is die belangrikste beginsels vir ‘n gelowige se programbeplanning?
4.  Hoe bepaal jy jou prioroteite: wat is belangrik en wat nie?
5.  Vertel vir mekaar hoe dringende sake jou by geleentheid weggehou het van belangrike sake.
6.  'n Volgeling van Jesus is 24 uur per dag die Here se eiendom.  Daarom moet elke minuut spandeer word soos die Here dit wil hê; in aanbidding, werk, gesinslewe of ontspanning moet jy sy doel najaag; dit maak jou lewe sinvol en doelgerig.

Ons antwoord:  Kom ons formuleer een sin waarin ons sê wat die Here vanaand vir ons as groep gesê het en wat ons daarom trent gaan doen.

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   Hoe gaan ons die sendelinge wat namens ons onder die onbereiktes werk, hierdie week ondersteun?  Waarvoor gaan ons bid?
Sorg na buite: Hoe het dit gegaan met ons sorgbesoeke en uitreike?  Wat gaan ons die komende week doen?
Onderlinge sorg: Ons bid rondom ‘n gesinshoof wat in die middel sit vir die betrokke gesin.  Wie gaan hierdie week vir wie ondersteun, bid en kontak?

VOLGENDE BYEENKOMS:
Jou wil in Jesus se diens -  Matteus 7: 17 - 23.


IN JESUS SE DIENS (5)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:  Jou wil in Jesus se diens
Lees:   Matteus 7: 17 -  23

1.   Laat die gedeelte twee maal hardop gelees word.  Hierna is daar geleentheid dat elkeen dit weer biddend in stilte kan lees om te hoor wat die Here daardeur wil sê.
2.   Vertel vir mekaar wat die Here deur hierdie verse vir jou gesê het.
3.   ‘n Goeie boom hoef nie gedwing te word om vrug te dra nie - dit kom gaandeweg vanself.  Hoe het jy dit al ervaar?
4.   Volgens vers 21 is die “goeie vrugte” om God se wil te doen.  Vertel van goeie vrugte wat jy die afgelope week gedra het - daardeur praat jy nie groot nie maar erken jy dat dit 'n gawe van die Here is..
5.   Gehoorsaamheid hang nie van ‘n mens se gevoel af nie.  Vertel van geleenthede waar jy gehoorsaam moes wees in stryd met jou gevoel.
6.   Omdat die Heilige Gees in ‘n gelowige woon, dra hy/sy mettertyd vrug.  Die lewe van die Here Jesus sal al meer sigbaar word deurdat so iemand doelbewus kies om gehoorsaam te lewe.  Ons moet egter oppas vir ‘n praat-geloof, want dit is nog nie die vrug van die Heilige Gees nie.

Ons antwoord:  Een van die groep lees Filippense 2: 13 en sê namens almal vir die Here dankie vir sy wonderlike genade wat ons help om te kies om gehoorsaam te wees.

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   Is die Here tevrede met ons betrokkenheid by onbereikte volksgroepe?  Wat gaan ons verder doen?
Sorg na buite: Hoe het ons elkeen Jesus se liefde deur sorg of getuienis uitgeleef die afgelope week?  Wat word beplan?
Onderlinge sorg: Nog ‘n gesin word deur ‘n gesinshoof in die middel verteenwoordig; ons bid vir hulle.  Wie gaan hierdie week aan wie spesiale aandag gee?

VOLGENDE BYEENKOMS:   Evaluering  - Maleagi 1: 6 - 8.


IN JESUS SE DIENS (6)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Evaluering
Lees:    Maleagi 1: 6 - 8

1. Laat die gedeelte twee maal hardop gelees word.  Elkeen lees dit weer biddend in stilte om te hoor wat die Here daardeur vir ons wil sê.
2. Vertel vir mekaar wat die Here deur hierdie verse vir jou gesê het.
3. In watter opsigte is ons dikwels skuldig aan die uitspraak in vers 8?
4. Wat het die Here die afgelope paar weke gesê oor die eer wat Hom toekom?
5. Ons as gelowiges het ons aan die Here geoffer (Romeine 12: 1).  Nou mag ons niks van Hom weerhou nie of Hom slegs dien met ‘n stukkie van ons lewe nie.  Ons diens aan Hom wys wat ons van God dink!

Ons antwoord:  Elkeen kry geleentheid om te sê hoe sy/haar lewe verander is deur die Woord van die Here wat die afgelope tyd met ons gepraat het.

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   Ons betrokkenheid by ‘n onbereikte volksgroep is ‘n wonderlike voorreg.  Kom ons bid nou vir daardie gelowiges asook die sendelinge wat ons daar verteenwoordig.  Wat gaan ons verder doen?
Sorg na buite:  Hoe het ons elkeen Jesus se liefde deur sorg of getuienis uitgeleef die afgelope week?  Wat word beplan?
Onderlinge sorg:  ‘n Gesinshoof of enkelloper sit in die middel en ons bid vir die gesin of die persoon.  Wie gaan hierdie week aan wie spesiale aandag gee?

VOLGENDE BYEENKOMS:   Nuwe gesprekstema.