|
Gesprekstemas vir selgemeentes |
![]() |
Tema Nr 9: LEWENSVERANDERING
Elektroniese kopie: Oktober 2001. Hierdie
gesprekstema mag van die internet afgelaai en vermenigvuldig word.
Daar mag egter geensins aan die inhoud verander word nie.
Enige donasies vir die voortgang
van die bediening word verwelkom.
Handleiding opgestel deur Marius Potgieter.
Hierdie gesprekstema is opgestel met die doel om
* die Skrif se lig op die geloofsgroei en verandering van gelowiges
te laat val;
* gelowiges teen die invloed van die denkwyse van die wêreld
te waarsku;
* aan gelowiges moed en hoop te gee omdat God self die verandering
in ons bewerk - ons moet slegs gewillig wees.
Hoe om die meeste seën uit hierdie gesprekstema te put:
* Beskou die gesprekstema slegs as ‘n hulpmiddel.
* Dit is nie ‘n handleiding vir Bybelstudie nie. Die vrae handel
nie in die eerste plek oor inligting of Bybelfeite nie maar help ons om
regtig na die Here (wat deur sy Woord en Gees teenwoordig is) te luister.
* Enige persoon wat daarvoor kans sien, kan hierdie gesprek lei want
dit vereis nie spesiale kennis of vernuf nie.
* Alhoewel die byeenkoms met ernstige gebed voorberei moet word, kan
die gesprek nie voorberei word nie - dit word deur die Heilige Gees gelei.
* In God se oë is ons nie kerkmense wat bymekaar kom nie maar
‘n geestelike huisgesin; familielede wat rondom hulle Vader saam is om
Hom en mekaar te geniet!
LEWENSVERANDERING (1)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD : (40")
Tema: Verandering deur die Gees
Lees: 2 Korintiërs 3: 16 - 18
1. Paulus gebruik die verhaal van Moses in Eksodus 34: 28
- 35 as ‘n beeld van die heerlikheid van die evangelie van Jesus.
2. Lees die gedeelte twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer 'n keer biddend en in stilte deur en wees sensitief om te
hoor wat die Here deur sy Gees vir jou wil sê.
3. Vertel wat die Here deur hierdie verse vir jou gesê
het.
4. Hoe dink jy het Moses se gesig blink geword? (Eksodus
34: 28, 29)
5. Watter verband is daar tussen Moses se ervaring en die
verandering van jou lewe volgens hierdie gedeelte in Korintiërs?
6. Hoe vind hierdie verandering in jou lewe plaas?
7. Twee-twee vra vir mekaar: “Hoe voel jy oor jou lewe
se glans?” Daarna bid hulle vir mekaar.
8. ‘n Gelowige se lewe verander nie deur eie inspanning
nie maar deur voortdurend in die heerlike teenwoordigheid van die Here,
die Gees van Jesus, te lewe en met Hom gemeenskap te hê.
Ons antwoord: Jare vlieg verby en tyd is kosbaar. Ons wil nie middelmatig voortgaan nie, maar ons wil die maksimum groei en lewensverandering ervaar. Elkeen antwoord die Here in stil gebed op wat Hy vir jou gesê het.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte
volksgroepe; voorbidding vir sendelinge.
Sorg na buite: terugrapport oor uitreiking
in ons omgewing. Na wie gaan elkeen hierdie komende week uitreik?
Onderlinge sorg: ons bid hierdie week vir mekaar
se behoeftes.
VOLGENDE BYEENKOMS:
Verandering van lewensperspektief - Efesiërs 1: 18 - 20;
Psalm 36: 10
LEWENSVERANDERING (2)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Verandering van lewensperspektief
Lees: Efesiërs 1: 18 - 20
1. Lees die gedeeltes twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer 'n keer biddend en in stilte. Wees sensitief - luister
na die Gees.
2. Vertel wat die Here deur hierdie verse vir jou gesê
het.
3. Hoe dink jy sien ‘n mens met jou “geestesoë”?
4. Volgens Paulus moet ons onsigbare dinge sien.
Vertel van geleenthede toe jy jou toekomstige erfenis “gesien” het.
5. Wanneer het jy God se krag om dit moontlik te maak “gesien”?
6. Hoe sal jou lewe verander as jy alle teëspoed en
probleme vanuit die Here se oogpunt beskou? Gee voorbeelde.
7. Hoe sal jou lewe verander as jy Efesiërs 5: 10
konsekwent gehoorsaam?
8. Die eerste wat moet verander, is ‘n mens se perspektief
op die lewe. Ons kyk normaalweg vanuit ‘n wêreldse perspektief
na sake. As gelowige moet jy probeer om alles vanuit God se perspektief
te sien: hoe Hy ‘n plan met jou lewe het, hoe groot sy krag is waarmee
Hy jou lei en verander, en wat Hy van jou verlang. Ons kry die Here se
perspektief vanuit die Skrif.
Ons antwoord: Kom ons besluit hoe ons mekaar kan help om al meer ‘n Bybelse perspektief op die lewe te hê.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte
volksgroepe; voorbidding vir sendelinge.
Sorg na buite: terugrapport oor uitreiking in ons
omgewing. Kom ons beplan ons uitreiking vir die komende week.
Onderlinge sorg: ons bid twee-twee vir mekaar se
behoeftes (verkieslik ‘n kind saam met ‘n volwassene - nie die ouers nie).
Wie gaan die komende week vir wie ondersteun en bid?
VOLGENDE BYEENKOMS:
Denkverandering - Romeine 12: 1 - 3; Spreuke
4: 23
LEWENSVERANDERING (3)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Denkverandering
Lees: Romeine 12: 1 - 3; Spreuke
4: 23.
1. Lees die gedeeltes twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer 'n keer biddend en in stilte deur. Wees sensitief vir
die Gees van die Here .
2. Vertel wat die Here deur hierdie verse vir jou gesê
het.
3. Waarom, dink jy, bepaal ‘n mens se denke jou hele lewe?
4. Hoe ervaar jy self die bedreiging van “aan hierdie sondige
wêreld gelyk word ...”?
5. Wat dink jy moet ‘n mens doen sodat God jou denke kan
vernuwe?
6. Watter veranderinge bring dit in ‘n mens teweeg?
7. Christene word gebombardeer met die leuens van hierdie
wêreld en talle glo dít in plaas van die waarheid van God.
Die gelowige se oorwinning of neerlaag begin in die denkwêreld -
dáár kry versoekings ‘n houvas; of dáár bring
die Heilige Gees ‘n goddelike perspektief.
Ons antwoord: Elkeen besluit wat om te doen ten einde hierdie denkverandering ‘n werklikheid te maak en hoe ons mekaar daarin kan help - vertel dit vir mekaar.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte
volksgroepe; voorbidding vir sendelinge.
Sorg na buite: terugrapport oor uitreiking in ons
omgewing. Na wie toe wil die Here hê moet jy hierdie komende
week uitreik?
Onderlinge sorg: ons bid nou vir mekaar se behoeftes;
raak eers stil sodat die Here jou kan lei wat om vir iemand te bid.
Besluit nou wie ondersteun en bid vir wie die komende week.
VOLGENDE BYEENKOMS:
Verandering van lewenswyse - 1 Petrus 3: 8 - 11
LEWENSVERANDERING (4)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Verandering van lewenswyse
Lees: 1 Petrus 3: 8 - 11
1. Lees die gedeelte twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer 'n keer biddend en in stilte deur. Wees sensitief vir
die Here wat met jou wil praat.
2. Vertel wat die Here deur hierdie verse vir jou gesê
het.
3. Hoe kan ‘n mens dit prakties regkry om die opdrag van
vers 9 uit te voer?
4. Wat beteken die beloftes wat aan hierdie opdrag gekoppel
is vir jou?
5. Gesels oor die belangrikheid daarvan om woorde van seën
uit te spreek, veral in julle gesin.
6. Twee-twee vertel vir mekaar hoe julle vers 11 uitvoer.
Daarna bid julle vir mekaar.
7. Die groei in die geloofslewe vind nie outomaties plaas
nie. Die gelowige se lewe verander deur doelbewuste keuses om die
verkeerde te los en dit met die regte te vervang. Dit is wat “bekering”
beteken: om van die sonde af weg te draai en na God toe terug te draai.
Ons antwoord: Wat is die Here se spesifieke opdrag aan jou? Vertel hoe jy dit wil uitvoer.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: terugrapport oor ons betrokkenheid by onbereikte
volksgroepe; voorbidding vir sendelinge.
Sorg na buite: terugrapport oor uitreiking in ons
omgewing. Na wie toe, dink jy, stuur die Here jou hierdie komende
week?
Onderlinge sorg: ons bid hierdie week vir mekaar
se behoeftes.
VOLGENDE BYEENKOMS:
Verandering van emosies - 1 Tessalonisense 5: 16 - 18; Efesiërs
5: 25.
LEWENSVERANDERING (5)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Verandering van emosies
Lees: 1 Tessalonisense 5: 16 -
18; Efesiërs 5: 25.
1. Lees die gedeeltes twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer 'n keer biddend en in stilte deur. Gee die Here kans
om deur sy Gees met jou te praat.
2. Vertel wat die Here deur hierdie verse vir jou gesê
het.
3. Mense dink dat blydskap, dankbaarheid en liefde emosies
is waaroor ‘n mens geen beheer het nie. Die Here wil nie in die Skrif
aan ons opdragte gee oor ons onbeheerbare emosies nie. Waarvan lees
ons dan hier?
4. Vertel van situasies waarin jy ‘n keuse gemaak het om
in gehoorsaamheid aan die Here dankbaar te wees al het jy nie so gevoel
nie. Hoe het dit jou lewe beïnvloed?
5. Vertel van situasies waarin jy gekies het om iemand
waarvan jy nie hou nie, lief te hê. Hoe het jou emosies daardeur
verander?
6. Die wêreld leer ons om eers te voel en dan te
doen. Die Bybel leer ons om eers te doen en dan sal die gevoel later
daarop volg. Die Skrif praat dus nie in die eerste plek oor emosies
nie maar oor keuses van gesindheid. Deur gehoorsaamheid word jou
emosies verander.
Ons antwoord: Wat het die Here vir jou gesê? Wat gaan jy doen met sy opdrag? Elkeen kry geleentheid om te rapporteer.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: waar staan ons tans in ons betrokkenheid
by onbereikte volksgroepe? Voorbidding vir sendelinge.
Sorg na buite: terugrapport oor uitreiking
in ons omgewing. Na wie gaan ons hierdie komende week uitreik?
Onderlinge sorg: ons bid twee-twee vir mekaar
se behoeftes.
VOLGENDE BYEENKOMS:
Evaluering - Filippense 2: 12, 13.
LEWENSVERANDERING (6)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Evaluering
Lees: Filippense 2: 12, 13.
1. Die doel van hierdie geloofsgemeenskap waarvan ons deel
is, is dat ons as gelowiges sal verander van babas in die geloof tot volwassenes
in Christus. Daar is geen rede waarom ons nie kan verander nie want
God doen alles - Hy maak ons gewillig en bekwaam daarvoor.
2. Hoe weet jy dat die Heilige Gees besig is om jou te
verander?
3. In watter opsigte het jou lewensperspektief al verander?
4. Watter tekens is daar dat jou denke besig is om te verander?
5. Watter keuses het jy die afgelope paar weke gemaak ten
opsigte van ‘n gehoorsame lewenswandel?
6. In watter opsigte sal jy nog graag wil verander?
Ons antwoord: In groepies van drie bid ons vir mekaar: dat daar ‘n groot erns in ons harte sal wees om te verander ter wille van die eer van ons God en Koning.
LIEFDESBEDIENING: (20”)
Uitreik: ons praat oor ons betrokkenheid by onbereikte
volksgroepe en doen voorbidding vir sendelinge. Ons moet besef dat
ons sendelinge die werk namens ons doen omdat ons nie almal kan gaan nie.
Ons is hulle ondersteuningsbasis - sonder ons gebed en bemoediging is daar
dalk niemand wat vir die betrokke sendelinge verantwoordelikheid neem nie.
Sorg na buite: terugrapport oor uitreiking
in ons omgewing. Ons beplan vir ons uitreiking die komende week.
Onderlinge sorg: ons bid hierdie week vir
mekaar se behoeftes. Wie het nou gebed of hulp nodig?
VOLGENDE BYEENKOMS: Nuwe gesprekstema