GEMEENTEVREUGDE

Gesprekstemas vir selgemeentes

Tema Nr 8:     GEDOOP MET DIE HEILIGE GEES



© Outeursreg 1997  -  Gemeentevreugde.  Hersien April 2001
Posbus 2736,  George  6530.   E-pos:  vreugde@icon.co.za
Gedrukte gesprekstemas is by bogenoemde adres beskikbaar.

Elektroniese kopie:  Oktober 2001.   Hierdie gesprekstema mag van die internet afgelaai en vermenigvuldig word.  Daar mag egter geensins aan die inhoud verander word nie.
Enige donasies vir die voortgang van die bediening word verwelkom.

Handleiding opgestel deur Marius Potgieter.


AGTERGROND

Hierdie gesprekstema is opgestel met die doel om
* die Skrif se lig te laat val op die werklikheid van die Heilige Gees as die lewe van Christus in die gelowige;
* gelowiges met ‘n verkeerde idee oor die doop met die Gees vanuit die Skrif reg te help;
*  gelowiges op te roep tot ‘n lewe onder beheer van die Heilige Gees.

Hoe om die meeste seën uit hierdie gesprekstema te put:
* Beskou die gesprekstema slegs as ‘n hulpmiddel.
* Dit is nie ‘n handleiding vir Bybelstudie nie.  Die vrae handel nie in die eerste plek oor inligting of Bybelfeite nie maar help ons om regtig na die Here (wat deur sy Woord en Gees teenwoordig is) te luister.
* Enige persoon wat daarvoor kans sien, kan hierdie gesprek lei want dit vereis nie spesiale kennis of vernuf nie.
* Alhoewel die byeenkoms met ernstige gebed voorberei moet word, kan die gesprek nie voorberei word nie - dit word deur die Heilige Gees gelei.
* In God se oë is ons nie kerkmense wat bymekaar kom nie maar ‘n geestelike huisgesin; familielede wat rondom hulle Vader saam is om Hom en mekaar te geniet!


GEDOOP MET DIE HEILIGE GEES (1)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Met die Gees gedoop
Lees:    Handelinge 1: 4, 5, 8; 1 Korintiërs 12: 13

1.   Lees die verse twee maal hardop en dan weer biddend in stilte.  Gee die Here kans om spesifieke sake op jou hart te lê.
2.   Wat het die Here deur hierdie verse vir jou gesê?
3.   In die Skrif verwys die “doop met die Heilige Gees” na een sentrale gebeurtenis.  Wanneer het dit plaasgevind?
4.   Mense interpreteer soms besondere geestelike ervarings as die “doop” met die Heilige Gees.  Waarom bots dit met Paulus se standpunt in 1 Korintiërs 12: 13?
5.   Dit is duidelik uit bogenoemde verse dat die doop met die Gees “krag” en “eenheid” in die liggaam van Christus bring.  Hoe raak dit ons as selgemeente? Hoe verduidelik ons dit vir ons kinders?
6.   Omdat Jesus sy gemeente (sy liggaam van al die eeue) op die Pinksterdag gedoop het met die Heilige Gees, is elke gelowige ook gedoop met die Gees.  Jesus se krag is tot sy kerk se beskikking.

Ons antwoord:   Maak jou oë toe en sien jouself as deel van Jesus se liggaam wat in die bovertrek met die Heilige Gees gedoop is.  Word bewus daarvan dat ons as geloofsgesin almal hieraan deel het.  Dank die Here vir hierdie onbeskryflike groot genadegawe.

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:    In dele van ons land is daar mense wat nog glad nie die evangelie gehoor het nie.  Bid vir die uitbreiding van die Here se Koninkryk in die Oos-Kaap.
Sorg na buite:    Volhard met jou uitreiking na die gesinsvriende wat die Here op jou hart gelê het.  Vir wie kan ons saam met jou bid?
Onderlinge sorg:    Wie sorg vir wie hierdie week?  Onthou dit is baie belangrik om na mekaar om te sien gedurende die week.

VOLGENDE BYEENKOMS:
Die Gees in jou lewe  -  Romeine 8: 8 tot 11


GEDOOP MET DIE HEILIGE GEES (2)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Die Gees in jou lewe
Lees:    Romeine 8: 8 tot 11

1.   Lees die verse twee maal hardop en dan weer biddend in stilte.  Wees sensitief vir wat die Here vir jou wil sê.
2.   Waarvan het die Here jou deur hierdie verse bewus gemaak?
3.   Het jy al getwyfel of jy die Heilige Gees in jou lewe het?  Waarom?
4.   Daar is volgens verse 8 en 9 net twee soorte mense.  Hoe weet jy in watter een van die twee groepe jy val?
5.   Die Jesus-lewe wat in die gelowige ingeplant is, word die “Gees van Christus” of die “Gees van God” genoem. Jesus Christus en die Gees kan nooit teenoor mekaar gestel word nie want wie Jesus het, het ook die Heilige Gees.
6.   Kom ons beplan hoe ons hierdie waarheid op ‘n eenvoudige manier aan ons kinders kan oordra.

Ons antwoord:   Gaan sit twee-twee; kies iemand vir wie jy minder goed ken.  Verseker mekaar van die gawe van die Heilige Gees en bid vir mekaar.

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:    Kom ons bid vir die uitdra van die evangelie in die berge van Lesotho.
Sorg na buite:   Maak kontak gedurende die week met een van jou gesinsvriende en kyk waar jy tot diens kan wees.
Onderlinge sorg:   Wie van ons het gebed, hulp of ondersteuning nodig?  Wie bid vir wie hierdie komende week?

VOLGENDE BYEENKOMS:
Vervulling met die Heilige Gees  -  Efesiërs 5: 15 - 20


GEDOOP MET DIE HEILIGE GEES (3)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Vervulling met die Heilige Gees
Lees:    Efesiërs 5: 15 - 20

1.   Lees die verse twee maal hardop en dan weer biddend in stilte.
2.   Waarvan het die Here jou deur hierdie verse bewus gemaak?
3.   Wat is die Here se rol en wat is die mens se verantwoordelikheid volgens vers 18?
4.   Vertel hoe jy hierdie opdrag van vers 18 uitgevoer het.
5.   Waarom kan geen gelowige dit bekostig om sonder die vervulling van die Gees te lewe nie?
6.   Die Skrif gebruik nie altyd dieselfde woorde vir ‘n saak nie - “vervulling” beteken nie noodwendig orals dieselfde nie.  Ons word in hierdie vers opgeroep om voortdurend vervul met die Gees te lewe soos wat ‘n drinker onder die invloed van drank lewe.  Dit beteken nie dat gelowiges soos dronk mense optree nie maar dat hulle onder totale beheer van die Gees lewe.
7.   Kom ons beplan hoe ons hierdie waarheid op ‘n eenvoudige manier aan ons kinders kan oordra.

Ons antwoord:    Almal bid saam hardop die volgende:
“O Heilige Gees van Jesus, hiermee gee ek die beheer van my lewe weer volledig aan U oor.  Neem my en vul my met Uself.  Ek  wil nie meer baas wees oor my lewe nie.  U is my Heer en Koning.”
Sing nou saggies: “Doen slegs u wil, Heer ...”

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:   Bid vir die werk wat in die Makatini-vlakte gedoen word.
Sorg na buite:    Kom ons bid nou saam vir ons gesinsvriende met wie ons tans verhoudings bou.
Onderlinge sorg:    Wie in ons geestelike gesin het nou gebed of hulp nodig?  Wie bid vir wie hierdie week?

VOLGENDE BYEENKOMS:
Beheers deur die Heilige Gees  -  Galasiërs 5: 13 tot 18, 25


GEDOOP MET DIE HEILIGE GEES (4)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Beheers deur die Heilige Gees
Lees:    Galasiërs 5: 13 tot 18, 25

1.   Lees die verse twee maal hardop en dan weer biddend in stilte.
2.   Wat het die Here deur hierdie verse vir jou gesê?
3.   In ‘n sin word die kern van ‘n Geesbeheerde lewe in vers 13 beskryf.  Hoe help dit jou om die vervulling van die Gees te verstaan en uit te leef?
4.   Om aan Christus te behoort beteken nie om sonder probleme of foute te wees nie.  Wat gaan jy doen sodat jy al meer God se wil sal kan uitleef?
5.   Hoe kan ons mekaar help om onder die beheer van die Gees van Christus te lewe?
6.   Daar is net een oplossing vir ‘n gelowige om die sonde te oorwin.  Jy moet voortdurend onder beheer van die Heilige Gees lewe - dit beteken dat jy Hom onvoorwaardelik gehoorsaam en dat jy sy liefde begin uitleef.
7.   Hoe kan ons dit prakties maak vir ons kinders om te verstaan?

Ons antwoord:   In ‘n paar minute van stilte dink elkeen aan ‘n bepaalde sonde of swakheid waarmee hy/sy worstel.  Wat moet jy prakties gaan doen as so ‘n situasie opduik ten einde nie aan die sondige natuur toe te gee nie?  Vra in stil gebed die Here se hulp.

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:    Bid hierdie week vir die uitbreiding van die Here se Koninkryk in Swaziland.
Sorg na buite:    Kom ons maak dit ons erns om hierdie week daadwerklik uit te reik na ons gesinsvriende.
Onderlinge sorg:     Wie sorg vir wie in ons geloofsgesin?

VOLGENDE BYEENKOMS:
Toegerus deur die Heilige Gees  - Lukas 4: 18 tot 19; Handelinge 10: 38


GEDOOP MET DIE HEILIGE GEES (5)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Toegerus deur die Heilige Gees
Lees:     Lukas 4: 18 - 19; Handelinge 10: 38

1.   Lees die verse twee maal hardop en dan weer biddend in stilte.
2.   Wat het die Here deur hierdie verse vir jou gesê?
3.   Die Here Jesus is gesalf vir sy bediening.  Hoe skakel dit met ons bediening as selgemeente?
4.   Waarom kan die bediening van Jesus nie sonder die salwing met die Heilige Gees uitgevoer word nie?
5.   Vertel van geleenthede waartydens jy die toerusting met die Heilige Gees ervaar het.
6.   Jesus is gesalf (toegerus) met die Heilige Gees.  Omdat ons deel is van sy liggaam, het ons ook deel aan hierdie toerusting sodat ons sy bediening op aarde kan voortsit.  Gelowiges het soms besondere belewenisse waardeur hulle deur die Gees toegerus of versterk word met die oog op spesifieke situasies of take.
7.   As die kinders nie deel van die bespreking was nie, roep hulle nader om van die getuienisse met hulle te deel.

Ons antwoord:  Kom ons sê vir die Here dat ons graag baie meer die salwing met die Heilige Gees wil beleef omdat ons volle lewe die voortsetting van sy bediening is.

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:    Kom ons bid vir die uitdra van die evangelie in die groot stede van die wêreld
Sorg na buite:   Rapporteer hoe julle verhouding met julle gesinsvriende ontwikkel het.
Onderlinge sorg:   Het iemand spesifieke behoeftes waarvoor ons kan bid of waarmee ons kan help?  Wie sorg en bid hierdie week vir wie?

VOLGENDE BYEENKOMS:
Evaluering  -   Matteus 3: 11, 12


GEDOOP MET DIE HEILIGE GEES (6)

GESINSVERKLARING

TERUGRAPPORT: (20")

LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")

WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema:   Evaluering
Lees:    Matteus 3: 11, 12

1.   Lees die verse twee maal hardop en dan weer biddend in stilte.  Luister na die stille stem van die Heilige Gees.
2.   Wat het die Here deur hierdie verse op jou hart gelê?
3.   Sleutelwaarhede uit die vorige besprekings:
     *Jesus is die Doper met die Heilige Gees.  Hy verenig die geloofsgemeenskap (sy liggaam) met Homself (sy Gees) sodat  Hy sy bediening deur ons kan voortsit.
     *Die Heilige Gees se werk in ons hang ten nouste saam met ‘n lewenswyse van diens - dit gaan dus nie oor selfsugtige ervarings nie.
     *In Jesus het ons alles ontvang - ons hoef nie na meer van die Heilige Gees te soek nie: Hy soek meer van ons.
     *Die Heilige Gees maak ons al meer soos Jesus en reinig ons
     *Die krag van die Gees word al meer sigbaar as ons gehoorsaam aan die Here lewe.
4.   Bespreek die invloed wat hierdie waarhede op ons het.
5.   Watter interessante dinge het uitgekom in die gesprekke met die kinders?

Ons antwoord:   Sê twee-twee saam vir die Here dankie dat Hy ons gedoop het met die Heilige Gees.  Kom ons bid vir mekaar dat ons voorbeelde van Geesbeheerde gelowiges vir ons kinders sal wees.

LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik:    Kom ons bid vir die behoeftes van die sendelinge wat deur ons gemeente ondersteun word.  Wie gaan met hulle kontak maak?.
Sorg na buite:    Gaan kuier by jou gesinsvriende en kyk waar jy van hulp kan wees.
Onderlinge sorg:    Het iemand nou gebed nodig?  Wie sorg vir wie die komende week?

VOLGENDE BYEENKOMS:    Nuwe gesprekstema.