|
Gesprekstemas vir selgemeentes |
![]() |
Tema Nr 7: DIE VADER VAN DIE GELOOFSGESIN
Elektroniese kopie: Oktober 2001. Hierdie
gesprekstema mag van die internet afgelaai en vermenigvuldig word.
Daar mag egter geensins aan die inhoud verander word nie.
Enige donasies vir die voortgang
van die bediening word verwelkom.
Handleiding opgestel deur Marius Potgieter en Willem Badenhorst.
Hierdie gesprekstema is opgestel met die doel om
* die Skrif se lig op die onveranderlike en onverstaanbare liefde van
God te laat val;
* gelowiges met ‘n verkeerde vader-beeld te help om anders oor God
se Vaderskap te dink;
* die verband tussen God se liefde en ‘n gehoorsame lewenswyse
aan te toon.
Hoe om die meeste seën uit hierdie gesprekstema te put:
* Beskou die gesprekstema slegs as ‘n hulpmiddel.
* Dit is nie ‘n handleiding vir Bybelstudie nie. Die vrae handel
nie in die eerste plek oor inligting of Bybelfeite nie maar help ons om
regtig na die Here (wat deur sy Woord en Gees teenwoordig is) te luister.
* Enige persoon wat daarvoor kans sien, kan hierdie gesprek lei want
dit vereis nie spesiale kennis of vernuf nie.
* Alhoewel die byeenkoms met ernstige gebed voorberei moet word, kan
die gesprek nie voorberei word nie - dit word deur die Heilige Gees gelei.
* In God se oë is ons nie kerkmense wat bymekaar kom nie maar
‘n geestelike huisgesin; familielede wat rondom hulle Vader saam is om
Hom en mekaar te geniet!
DIE VADER VAN DIE GELOOFSGESIN (1)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Ons Vader se hart
Lees: Jesaja 49:14 - 16
1. Lees die gedeelte twee maal hardop en dan weer biddend
in stilte. Luister na wat die Here daardeur vir jou persoonlik wil
sê.
2. Vertel vir mekaar wat die Here deur hierdie verse op
jou hart gelê het.
3. Vertel van 'n keer wat jy van God verlate gevoel het.
4. Waarom dink jy, twyfel mense soms oor die Here se liefde?
5. Watter troos het ons uit dié gedeelte?
(Kyk ook na Jesaja 54:10)
6. Watter invloed het jou vader-beeld uit jou kinderdae
op jou idee van God gehad?
7. Vader-God se liefde vir sy kinders is onwankelbaar al
besef ons dit nie elke dag nie. Ons moet leer om uit hierdie liefde
te leef, want God is nie 'n aardse vader wat ons in die steek kan laat
nie.
Ons antwoord: Kom ons konsentreer hierdie week daarop om dikwels vir ons hemelse Pa te sê dat sy liefde vir ons kosbaar is.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: Watter volksgroep het die Here op
ons hart as geloofsgesin gelê vir wie ons moet bid dat hulle ook
die evangelie moet leer ken?
Sorg na buite: Begin om stelselmatig vir elke
huis van die straat/blok waarin jy bly, te bid. Onthou dit behels
al die huise, nie net dié van mense wat jy ken nie.
Onderlinge sorg: Twee of drie persone draai na mekaar
toe, vra vir mekaar of daar spesifieke behoeftes is, verseker mekaar van
Vader-God se onwankelbare liefde en bid vir mekaar.
VOLGENDE BYEENKOMS: 1 Petrus 1: 23 tot 25 - Die Vader verwek kinders.
DIE VADER VAN DIE GELOOFSGESIN (2)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20") Elkeen vertel hoe hy/sy bewus geword het van Vader-God se liefde die afgelope week.
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Die Vader verwek kinders
Lees: 1 Petrus 1: 23 - 25
1. Lees die verse twee maal hardop en dan weer biddend in
stilte.
2. Vertel vir mekaar wat die Here deur hierdie verse vir
jou gesê het.
3. Vertel hoe jy vir die eerste keer bewus geword het dat
daar 'n nuwe geboorte in jou plaasgevind het.
4. Gesels oor die aspekte van hierdie nuwe lewe wat in
1 Petrus 1: 3 en 4 ter sprake kom.
5. Watter invloed behoort hierdie waarhede (in verband
met jou ewige kindskap) op jou daaglikse lewe te hê?
6. Die nuwe lewe is 'n geskenk. As jy werklik die
nuwe lewe het, is jy ewig net soos jou ewige Vader-God wie se saad jou
verwek het. Hierdie nuwe lewe sal tot uiting begin kom en sal soos
die Vader se lewe begin lyk.
Ons antwoord: Sê hardop saam: "Ek is nuut want God het my wederbaar". Is daar iemand wat miskien nog onseker is of hy/sy die nuwe lewe het? Kom sit in die middel van die kring en almal bid saam vir hierdie persoon.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: Ons bid hierdie week weer vir die
volksgroep waarvoor die Here ons verantwoordelikheid gegee het.
Sorg na buite: Ons gaan voort om te bid vir
die straat of blok waarin ons woon. Al ken ons hulle nie noodwendig
nie, vra ons dat die Here die spesifieke gesinne sal seën en sy doel
met hulle lewens sal bereik.
Onderlinge sorg: Enige-een wat nou gebed nodig
het, word gevra om op die "omgee-sitplek" in die middel te gaan sit en
die ander bid eendragtig saam terwyl hulle rondom staan.
VOLGENDE BYEENKOMS: 1 Johannes 4: 7 tot 12 - Die kinders lyk soos hulle Vader.
DIE VADER VAN DIE GELOOFSGESIN (3)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Die kinders lyk soos hulle Vader
Lees: 1 Johannes 4: 7 - 12
1. Lees die verse twee maal hardop en dan weer biddend in
stilte.
2. Vertel vir mekaar wat die Here deur hierdie verse vir
jou gesê het.
3. Die sentrale gedagte van die hele brief is die stelling
dat God liefde is (8) en dat ons ook soos Hy moet liefhe (11). Wat
is die wesenlike eienskappe van hierdie liefde?
4. Wat is volgens vers 12 ons doel as geloofsgesin op aarde?
5. Van hoeveel mense weet ons wat na God getrek is deur
ons liefde vir mekaar?
6. Ons het mekaar se hulp nodig om dié liefde in
dade om te sit. Gee vir mekaar raad oor hoe ons dit in die toekoms
gaan doen.
7. Ons as die Vader se kinders lyk al meer soos Hy omdat
sy liefde in ons is. Ons roeping is om hierdie liefde uit te lewe
sodat mense God in ons kan raaksien en na Hom toe getrek kan word.
Dit is eerste prioriteit!
Ons antwoord: Hoe gaan ons mekaar gedurende hierdie week help om wat ons by punt 6 bespreek het tot uitvoering te bring?
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: Ons gaan voort om te bid vir die
onbereikte volksgroep waarvoor die Here ons verantwoordelik gemaak het.
Sorg na buite: Ons gaan voort om te bid vir
spesifieke huise in die straat of blok waarin ons woon. Bid vir onderlinge
verhoudings in daardie huisgesinne.
Onderlinge sorg: Vra vir die Here 'n teksvers wat
jy met een van die lede van ons geloofsgesin kan deel (bel of gooi dit
in sy of haar posbus gedurende die komende week). Wie het spesiale
behoeftes vir gebed?
VOLGENDE BYEENKOMS: Genesis 12: 1 tot 4 - Vader stuur sy kinders.
DIE VADER VAN DIE GELOOFSGESIN (4)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Die Vader stuur sy kinders
Lees: Genesis 12: 1 - 4
1. Lees die verse twee maal hardop en dan weer biddend in
stilte.
2. Vertel vir mekaar wat die Here deur hierdie verse vir
jou gesê het.
3. In watter opsig en met watter doel word gelowiges vandag
nog soos Abraham gestuur?
4. 'n Mens word nie slegs as individu gestuur nie maar
as deel of verteenwoordiger van jou gesin; dit geld ook vir die geloofsgesin.
Waarheen is ons as selgemeente gestuur?
5. Ons kan maklik van ons lewensdoel weggetrek word.
Kom ons beplan praktiese metodes om ons doelgerig te hou; ons herinner
mekaar en skerp mekaar op.
6. Vader stuur ons om Hom vir die verloregaande mense te
wys sodat hulle sy liefde kan sien en hulle lewens aan Hom oorgee.
So word ons reisigers deur hierdie lewe. Niks moet ons vashou sodat
ons nie kan gaan waarheen en soos Vader dit wil hê nie.
Ons antwoord: Kom ons verbind ons om wat by nommer 5 besluit is, ten alle koste te gaan uitvoer. Twee-twee bid saam hieroor.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: Is daar al iemand uit ons geledere
gestuur om op 'n ander plek namens ons die liefde van Vader oor te dra?
Bid hierdie week vir hulle.
Sorg na buite: Ons gaan voort om te bid vir
die straat of blok waarin ons woon. Bid vir die betrokke gesinne
se werksomstandighede.
Onderlinge sorg: Vra vir die Here hierdie
week weer 'n teksvers wat jy met 'n ander lid van ons geloofsgesin die
komende week kan deel (bel of gooi dit in sy of haar posbus).
VOLGENDE BYEENKOMS: 1 Johannes 5: 3 tot 5 - Die kinders se liefde vir hul Vader
DIE VADER VAN DIE GELOOFSGESIN (5)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Die kinders se liefde vir hul Vader
Lees: 1 Johannes 5: 3 - 5
1. Lees die verse twee maal hardop en dan weer biddend in
stilte.
2. Vertel vir mekaar wat die Here deur hierdie verse vir
jou gesê het.
3. "Gebooie" beteken hier nie 'n klomp reëls wat nagekom
moet word nie. Wat beteken dit dan wel? (Kyk ook na ander vertalings
en lees hoofstuk 2: 5 en 6).
4. Die "sondige wêreld" is die liefdelose en selfgesentreerde
mensdom wat vyandig teenoor God is. Gesels oor die geweldige belofte
van vers 4.
5. Ons moet leer om elke dag tot in die kleinste besonderhede
die Here te gehoorsaam wanner Hy met ons praat. Hy praat ook met
my deur die geloofsgesin. Op watter maniere gebeur dit?
6. Liefde word sigbaar wanneer ons gehoorsaam is aan Vader
se opdrag om sy karakter aan mense te vertoon. Om so te lewe moet
ons elke dag sy stem hoor en gehoorsaam. Dit is die enigste manier
hoe ons die wêreld kan oorwin.
Ons antwoord: Gesels twee-twee: wat het Vader deur sy Gees vir jou deur hierdie gesprek gesê? Wat gaan jy in hierdie verband doen?
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: Ons almal skryf hierdie week briewe
van bemoediging aan die mense wat namens ons na onbereiktes uitreik.
Wie sal hierdie briewe versorg en na hulle toe wegstuur?
Sorg na buite: Ons gaan voort om te bid vir
die straat of blok waarin ons woon. Bid spesifiek vir die huwelike
van die betrokke gesinne.
Onderlinge sorg: Die "omgee-sitplek" is daar
vir iemand wat wil hê dat die geestelike huisgesin sal bid vir sy/haar
groei in gehoorsame liefde.
VOLGENDE BYEENKOMS: Psalm 36: 6 - 11 - Evaluering van tema
DIE VADER VAN DIE GELOOFSGESIN (6)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Lees: Psalm 36: 6 - 11
1. Lees die verse twee maal hardop en dan weer biddend in
stilte.
2. Vertel vir mekaar wat die Here deur hierdie verse vir
jou gesê het.
3. Wat het hierdie reeks vir jou beteken? Noem spesifieke
voorbeelde. Moenie skaam wees om te sê indien dit geen of min
betekenis gehad het nie - daar moet dan gepraat word oor die redes daarvoor.
4. Bespreek die mate waarin hierdie onderwerp gehelp het
om die idee af te breek van godsdiens wat los staan van elke dag se lewe.
5. Tot watter mate voel jy soos 'n reisiger wat net tydelik
hier is? Of is dit 'n gedagte wat jou benoud of bang maak?
6. Ons sukkel almal in mindere of meerdere mate om soos
Vader te lyk en sy liefde uit te leef. Gee mekaar raad uit julle
ervaring van sukses en mislukking.
Ons antwoord: Kom ons gaan op ons knieë en sê in nederige dankbaarheid aan Vader hoe ons sy onverdiende liefde waardeer. Ons vra sy hulp om in gehoorsaamheid Hom lief te hê.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: Ons staan nou tyd af vir ernstige
gebed vir die volksgroep waarvoor ons verantwoordelikheid geneem het asook
persone wat ons elders verteenwoordig.
Sorg na buite: Ons gaan hierdie week voort
om te bid vir die straat of blok waarin ons woon. Indien moontlik,
gaan stap by die huise verby en bid vir die inwoners - dit
versterk 'n mens se geloof.
Onderlinge sorg: Wie het hierdie week hulp
of gebed nodig?
VOLGENDE BYEENKOMS: Nuwe gesprekstema.