|
Gesprekstemas vir selgemeentes |
![]() |
Tema Nr 3: CHRISTUS SE DIENS DEUR GESINSVRIENDE
Elektroniese kopie: Februarie 2001.
Hierdie gesprekstema mag van die internet afgelaai en vermenigvuldig word.
Daar mag egter geensins aan die inhoud verander word nie.
Enige donasies vir die voortgang
van die bediening word verwelkom.
Handleiding opgestel deur Marius Potgieter en Willem Badenhorst.
Hierdie gesprekstema is opgestel met die doel om
* die Skrif se lig op ons heerlike taak as verteenwoordigers van Jesus
Christus te laat val;
* gelowiges te help om hulle diens aan die Here as ‘n voltydse lewenswyse
van liefdesdiens te verstaan;
* gelowiges te help om praktiese keuses te maak en prioriteite in die
lig van God se wil te verander.
Hoe om die meeste seën uit hierdie gesprekstema te put:
* Beskou die gesprekstema slegs as ‘n hulpmiddel.
* Dit is nie ‘n handleiding vir Bybelstudie nie. Die vrae handel
nie in die eerste plek oor inligting of Bybelfeite nie maar help ons om
regtig na die Here (wat deur sy Woord en Gees teenwoordig is) te luister.
* Enige persoon wat daarvoor kans sien, kan hierdie gesprek lei want
dit vereis nie spesiale kennis of vernuf nie.
* Alhoewel die byeenkoms met ernstige gebed voorberei moet word, kan
die gesprek nie voorberei word nie - dit word deur die Heilige Gees gelei.
* In God se oë is ons nie kerkmense wat bymekaar kom nie maar
‘n geestelike huisgesin; familielede wat rondom hulle Vader saam is om
Hom en mekaar te geniet!
CHRISTUS SE DIENS DEUR GESINSVRIENDE (1)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Verantwoordelikheid teenoor mense in jou omgewing
Lees: Galasiërs 6: 9 - 10
1. Lees die verse twee maal hardop en rustig deur. Lees dit weer
‘n keer biddend en in stilte deur.
2. Vertel wat die Here deur hierdie verse op jou hart gelê het.
3. Watter verantwoordelikheid het die selgemeente teenoor mense wat
nie by ‘n selgemeente ingeskakel is nie?
4. Watter gevaar bestaan wanneer gelowiges van die selgemeente na ander
gelowiges in liefde uitreik?
5. Ons beleef in die selgemeente die liefde van die Here op ‘n besondere
wyse. Ons eerste verantwoordelikheid is om hierdie liefde teenoor
gelowiges wat nog nie ingeskakel is nie, uit te leef. Dit mag nooit
gedoen word asof een soort christen beter as ‘n ander is nie. Daar
moet ook geen bybedoelings wees, bv om hulle in die groep te kry nie.
Ons antwoord: In stil gebed kry elkeen die geleentheid om vir die Here te sê dat hy/sy hierdie verantwoordelikheid aanvaar.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: bid vir die uitreikaksies onder ander bevolkingsgroepe
waarby die gemeente tans betrokke is.
Sorg na buite: noem behoeftes van vriende of familielede met
die oog op voorbidding.
Onderlinge sorg: ons bid vir spesifieke behoeftes
of probleme in ons selgemeente, ons geestelike huisgesin.
VOLGENDE BYEENKOMS: 1 Johannes 3: 16 tot 18 - Gesinsvriende as uitreik-arm.
CHRISTUS SE DIENS DEUR GESINSVRIENDE (2)
GESINSVERKLARING:
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Gesinsvriende as uitreik-arm
Lees: 1 Johannes 3: 16 -
18
1. Selgemeentelede behoort elkeen onder leiding van die
Gees van die Here verantwoordelikheid te neem om liefde uit te leef na
een of meer gesinne. Die doel is om mense in ons omgewing se behoeftes
te ontdek en hulle te dien met die liefde van Jesus Christus. So
word ons húlle gesinsvriende en hulle word óns gesinsvriende.
2. Wat is die voordele van hierdie manier van werk vir
a) ons as die lede van die selgemeente,
b) die mense in ons omgewing en
c) die groter gemeente as geheel?
3. Voltooi: “Om in liefde uit te reik na mense beteken
..............”
4. As jy saamstem dat dit vir die Here belangrik is dat
sy kinders sy liefde sal uitdra, wat moet ons volgende stappe wees om dit
te begin doen?
5. Elkeen van ons het spesifieke gawes van die Here af
ontvang en daarom sal daar ‘n verskeidenheid van maniere wees waarop ons
uitlewing van God se liefde in die praktyk gestalte sal kry. Elkeen
het dus ‘n verantwoordelikheid om met sy/haar gawes betrokke te raak by
gesinne of persone in ons omgewing.
Ons antwoord: Elke gesin sit bymekaar (enkelpersone skakel in by kleiner gesinne). Hulle bid saam en vra die Here om vir hulle te wys by watter gesinne hulle betrokke moet raak. Gedurende die komende week praat hulle met mekaar oor wie die Here op hulle harte gelê het. By die volgende byeenkoms word die name van hierdie gesinne of persone vir die hele selgemeente genoem.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: ons bid vir die bekeerlinge in die sendingveld.
Sorg na buite: is daar spesifieke behoeftes by ons
bure, familielede en vriende waarvoor ons moet bid hierdie week?
Onderlinge sorg: ons bid vir spesifieke behoeftes in ons selgemeente.
VOLGENDE BYEENKOMS: Vriende wat bid.
CHRISTUS SE DIENS DEUR GESINSVRIENDE (3)
GESINSVERKLARING:
TERUGRAPPORT: (20") Elkeen noem die name van gesinne of persone waarvoor die Here hulle verantwoordelik gemaak het.
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Vriende wat bid
Lees: Efesiërs 6: 18;
Filippense 1: 4; 2 Korintiërs 13: 9; Kolossense 1: 10;
4: 12.
1. Lees die gedeeltes twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur. Stel jouself oop
vir die Heilige Gees.
2. Vertel vir mekaar wat die Here hierdeur vir jou gesê
het.
3. Waarom is dit so belangrik om vir spesifieke mense te
bid?
4. Ons het as gesinsvriende sekere riglyne by Paulus gekry
wat ons kan help in ons gebed vir die mense waarvoor ons verantwoordelik
is. Waarvoor moet jy bid?
5. Help mekaar met praktiese riglyne oor hoe dit gedoen
kan word.
6. Die belangrikste daad van liefde is opregte, ernstige
voorbidding. As gesinsvriende is ons geroep om gedissiplineerd en
volhardend vir elke lid van die gesin by wie ons betrokke geraak het, te
bid.
Ons antwoord: Ons verdeel in groepies van drie. Ons bid spesifiek vir ons eie gewilligheid om die gesinne aan wie ons Jesus se onvoorwaardelike liefde gaan uitleef, voortdurend in gebed te dra.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: ons bid dat al die gelowiges in ons gemeente die Here
se hart sal voel klop vir mense wat Hom nie ken nie en bereid sal wees
om te bid en te werk dat die evangelie na die uithoeke van die wêreld
sal uitgaan.
Sorg na buite: probeer hierdie week om ‘n kort vriendskapsbesoekie
te bring by die gesinne of persone wat die Here aan jou opgedra het.
Onderlinge sorg: wie van ons het behoefte aan gebed?
Wie het hulp nodig?
VOLGENDE BYEENKOMS: Markus 7: 37 tot 8: 9 - Vriende wat belangstel
CHRISTUS SE DIENS DEUR GESINSVRIENDE (4)
GESINSVERKLARING:
TERUGRAPPORT: (20") Vertel wat jou ervaring was toe jy by jou gesinsvriende gaan kuier het.
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Vriende wat belangstel
Lees: Markus 7: 37 - 8:
9.
1. Gesels oor die optrede van Jesus teenoor mense.
Sy gesindheid was altyd een van omgee vir mense.
2. Aan watter ander voorbeelde kan jy dink waar ons Jesus
se belangstelling in mense se situasies en probleme kan sien?
3. Hoe kan ons as gesinsvriende Jesus se belangstelling
in mense as sy verteenwoordigers voortsit?
4. Waarom moet ons oppas om nie ‘n “godsdienstige” belangstelling
te hê nie maar ‘n praktiese liefdesbenadering?
5. Liefde behels gewone belangstelling. Mense het
in tye van voorspoed sowel as teëspoed ‘n behoefte aan opregte meelewing
deur ander. Om belang te stel is nie moeilik nie, maar vra beslis
opoffering.
Ons antwoord: Elkeen sê wat hy/sy hierdie week gaan doen om prakties uitvoering te gee aan wat Jesus aan ons opgedra het.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: skryf as selgemeente ‘n brief vir iemand wat onder
‘n ander bevolkingsgroep die evangelie uitdra. Indien julle nie van
so iemand weet nie, stel iemand aan om die besonderhede te kry.
Sorg na buite: vir wie in ons omgewing moet ons as selgemeente
die komende week in gebed intree?
Onderlinge sorg: Wie van ons het gebed nodig? Ons
bid vir mekaar se behoeftes.
VOLGENDE BYEENKOMS: Lukas 19: 1 - 10 - Vriende wat besoek.
CHRISTUS SE DIENS DEUR GESINSVRIENDE (5)
GESINSVERKLARING:
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Vriende wat besoek
Lees: Lukas 19:
1 - 10.
1. Hoe dink jy het Jesus se besoek vir Saggeus geraak?
2. Hoe voel jy as iemand moeite doen om by jou te kom kuier?
3. Op watter manier moet jy as gesinsvriend besoek aflê
sodat die betrokke persone dit as liefde ervaar?
4. Om gereeld en doelgerig by mense uit te kom, kom nie
vanself nie. Hoe gaan jy dit regkry om ‘n ware gesinsvriend te wees?
5. Om Christus se liefde te toon moet ons by mense
kom. ‘n Besoek sê vir die persoon dat hy/sy vir jou belangrik
is. Hierdie besoeke is nie formele besoek nie maar vriendskaplike
kuiers. Dit is egter besoeke waartydens fyn geluister word na mense
se behoeftes sodat daar in liefde ondersteuning gegee kan word.
Ons antwoord: Gebruik ‘n paar minute en beplan nou julle besoeke aan die gesinne of persone. Vertel dan vir mekaar van julle beplanning - elke lid van die selgemeente kry geleentheid.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: as God na die wêreld kyk is dit sy begeerte dat
almal sy liefde sal ervaar. Waarvoor moet ons hierdie week bid ten
opsigte van die uitdra van die evangelie aan onbereikte volksgroepe?
Sorg na buite: watter gesinsvriende of ander persone het spesifieke
behoeftes waarvoor ons moet bid?
Onderlinge sorg: wie van ons het gebed nodig?
Wie het hulp nodig?
VOLGENDE BYEENKOMS: Evaluering.
CHRISTUS SE DIENS DEUR GESINSVRIENDE (6)
GESINSVERKLARING:
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Evaluering
Die selgemeente as gesinsvriende:
* is in die huidige kerklike opset ‘n ideale manier om gemeentelede
wat nie by selgemeentes ingeskakel is nie, te ondersteun en by te staan;
* beteken dat elke lid van die selgemeente Christus prakties
dien deur na medemense uit te reik;
* het drie eenvoudige maniere om liefde te betoon: bid, belangstel,
besoek;
* se taak is nie ‘n formele kerklike een nie maar is die bou
van ‘n ontspanne vriendskapsverhouding;
* moet besef dat om as Jesus se verteenwoordiger op te tree,
daar dissipline moet wees. Om mekaar hiermee te help, verwag die
selgemeente gereelde terugvoering. Dan kan hulle meer doelgerig vir
mekaar bid.
Prioriteit: bespreek:
1. Hoe belangrik dink jy is hierdie saak in die oë van die Here?
2. Hoe belangrik gaan dit vir jou wees?
3. Hoeveel tyd sien jy kans om daarvoor af te staan?
Verantwoordelikheid: bespreek:
1. As dit in werklikheid ‘n verantwoordelikheid teenoor die Here is,
is jy bereid dat die selgemeente toesig hou oor jou uitreiking na ander?
2. Op watter manier sou jy wou hê dat die selgemeente toesig
oor jou hou?
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: watter spesifieke sake rakende die uitdra
van die evangelie na die wêreld is daar op jou hart met die oog op
voorbidding?
Sorg na buite: watter gesinsvriende of ander persone het
spesiale voorbidding nodig?
Onderlinge sorg: ons bid vir mekaar se behoeftes.
VOLGENDE BYEENKOMS: Nuwe gesprekstema.