|
Gesprekstemas vir selgemeentes |
![]() |
Tema Nr 2: JESUS, DIE ALFA EN DIE OMEGA
Elektroniese kopie: Oktober 2001. Hierdie
gesprekstema mag van die internet afgelaai en vermenigvuldig word.
Daar mag egter geensins aan die inhoud verander word nie.
Enige donasies vir die voortgang
van die bediening word verwelkom.
Handleiding opgestel deur Marius Potgieter.
Hierdie gesprekstema is opgestel met die doel om
* die Skrif se lig op Jesus, die Mens wat die middelpunt van die heelal
is, te laat val;
* gelowiges te help om hulle eenheid met Jesus deur sy Gees te besef
en te beleef.
Hoe om die meeste seën uit hierdie gesprekstema te put:
* Beskou die gesprekstema slegs as ‘n hulpmiddel.
* Dit is nie ‘n handleiding vir Bybelstudie nie. Die vrae handel
nie in die eerste plek oor inligting of Bybelfeite nie maar help ons om
regtig na die Here (wat deur sy Woord en Gees teenwoordig is) te luister.
* Enige persoon wat daarvoor kans sien, kan hierdie gesprek lei want
dit vereis nie spesiale kennis of vernuf nie.
* Alhoewel die byeenkoms met ernstige gebed voorberei moet word, kan
die gesprek nie voorberei word nie - dit word deur die Heilige Gees gelei.
* In God se oë is ons nie kerkmense wat bymekaar kom nie maar
‘n geestelike huisgesin; familielede wat rondom hulle Vader saam is om
Hom en mekaar te geniet!
JESUS, DIE ALFA EN DIE OMEGA (1)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
Wat het die Here die afgelope week vir jou gesê, gewys of geleer?
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Jesus, die Eerste
Lees: Kolossense 1: 15 - 20
1. Laat die verse twee maal hardop en rustig deurgelees
word. Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.
2. Vertel vir mekaar wat die Here hierdeur vir jou gesê
het.
3. Waarom, dink jy, moet Jesus die middelpunt wees van
ons elkeen se lewe?
4. Waarom moet Jesus die middelpunt wees van die selgemeente?
5. Jesus as die middelpunt beteken dat Hy ons onverdeelde
aandag, liefde en aanbidding ontvang. Wat kan ons doen om dit elke
dag ‘n werklikheid te maak?
6. God woon ten volle in Jesus en Hy is die Mens wat die
middelpunt van die heelal is. As Hy so belangrik is, moet Hy die
middelpunt van elkeen van ons se lewe en van ons groep se bestaan wees.
Alles moet om Hom draai - die Alfa en die Omega; ons moet Hom tot
in die kleinste besonderheid gehoorsaam.
Ons antwoord: Watter voornemens het jy in jou hart as gevolg van hierdie bespreking? Sien jy kans om volgende week van jou mislukkings en suksesse te vertel?
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: die selgemeente as geheel en elke persoon
is geroep om betrokke te wees by die uitdra van die evangelie van Jesus
oor die hele aarde. Ons bid hierdie week dat ons gewillig sal word
hiervoor.
Sorg na buite: Jesus wil hê dat sy liefde
deur ons sigbaar word in die omgewing. Kom ons bid vir ander gelowiges
wat nie by ‘n selgemeente ingeskakel is nie en vra die Here se besondere
seën op hulle.
Onderlinge sorg: is daar iets waarvoor ons saam
met jou kan bid of vir die Here dankie sê?
VOLGENDE BYEENKOMS:
2 Korintiërs 5: 14 - 21 : Jesus, die Redder
JESUS, DIE ALFA EN DIE OMEGA (2)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
Wie wil vertel van enige mislukkings of suksesse met die uitvoering
van verlede week se voornemens?
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Jesus, die Redder
Lees: 2 Korintiërs 5: 14 - 21.
1. Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.
2. Vertel wat die Here deur hierdie verse vir jou gesê
het.
3. Bespreek die stelling: “Slegs Christus kan die
versoening tussen God en ons bewerk”.
4. Gesels oor die betekenis van die begrippe “ou” en “nuwe”
soos ons dit hier kry. Tot watter mate sien en beleef ons dit vandag?
5. Jesus red deur versoening en vernuwing; daarsonder
sou ons nie die sonde kon oorwin nie. Hy is die nuwe Mens wat ons
nuut maak. Hierdie besef moet ons tot ‘n dankbare selfoorgawe van
ons lewe bring.
Ons antwoord: Kom ons bid vir mekaar se lewensvernuwing - draai twee-twee na mekaar toe en bid vir mekaar.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: ons kan uitreik deur ernstige gebed
en so word ons “gebed-sendelinge”. Kom ons bid hierdie week dat die
Heilige Gees aan ons as geloofsgesin ‘n gees van gebed vir onbereikte mense
sal gee.
Sorg na buite: ons bid hierdie week dat die Here
ons as sy verteenwoordigers sal gebruik in die lewe van diegene met wie
ons daagliks te doen kry.
Onderlinge sorg: laat elke gesinseenheid verantwoordelikheid
aanvaar om in besonder vir ‘n ander gesinseenheid of persoon in die groep
gedurende die komende week te bid.
VOLGENDE BYEENKOMS:
Johannes 1: 1 - 5 en 9: Jesus, die Lig
JESUS, DIE ALFA EN DIE OMEGA (3)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
Elkeen kry kans om te vertel: hoe het jou lewe hierdie week saam
met die Here verloop?
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Jesus, die Lig
Lees: Johannes 1: 1 - 9.
1. Laat die verse twee maal hardop en rustig deurgelees
word. Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.
2. Vertel vir mekaar wat die Here deur hierdie verse vir
jou gesê het.
3. Vertel hoe Johannes 1: 9 in jou lewe waar geword.
4. Hoe lyk God se lig volgens Efesiërs 5: 9, 10 en
2 in die praktiese lewe van die gelowige?
5. Die wese van God se lewe is liefde; Jesus kom
openbaar hierdie liefde aan ons en maak ons draers van die lig van God
se liefde. Hy oorwin die duisternis van die sonde en die dood as
Hy ín ons en déúr ons sy liefde openbaar.
Ons antwoord: Draai twee-twee na mekaar toe en sê vir mekaar wat julle voorneme is vir die week wat voorlê.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: ons moet doelgerig bid vir gelowiges
wat namens ons die evangelie in ander lande uitdra. Vir wie behoort
ons te bid?
Sorg na buite: wie is julle bure? Bid
hierdie week spesiaal vir hulle by die naam.
Onderlinge sorg: kom ons noem ons persoonlike
behoeftes sodat ons vir mekaar kan bid. Wie bid spesiaal vir wie
hierdie week?
VOLGENDE BYEENKOMS:
Johannes 14: 18 - 23 en 15: 5 - Jesus is op die aarde
JESUS, DIE ALFA EN DIE OMEGA (4)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
Vertel hoe Jesus se lig die afgelope week in jou lewe sigbaar geword
het.
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Jesus is op die aarde
Lees: Johannes 14: 18 - 23 en 15: 5.
1. Lees die verse twee maal hardop en rustig deur.
Lees dit weer ‘n keer biddend en in stilte deur.
2. Vertel vir mekaar wat die Here hierdeur vir jou gesê
het.
3. Hoe kan ons vir Jesus sien - wat bedoel Hy in vers 19?
4. Watter implikasies het vers 23 vir ons?
5. Die enigste rede waarom kinders van die Here nog op
aarde bly na hulle redding, is om Jesus se bediening as sy verteenwoordigers
voort te sit. Dit is die enigste taak wat die kerk van die Here as
Hoof ontvang het.
Ons antwoord: Wat het die Gees van Jesus vanaand op jou hart gelê om in hierdie komende week te doen? Praat nou met die Here daaroor in stil gebed.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: ons as selgemeente moet spesifiek en doelgerig
bid vir bekeerlinge in heidenlande. Hoe gaan ons die name van hierdie
mense in die hande kry?
Sorg na buite: die komende week bid ons spesiaal
vir die Here se seën op die mense wat saam met ons werk.
Onderlinge sorg: wat is jou grootste behoefte?
Watter gesinseenheid bid hierdie week vir watter gesin of persoon?
VOLGENDE BYEENKOMS:
Eenheid met Jesus deur sy Gees - Romeine 8: 9, 10, 14 -
17
JESUS, DIE ALFA EN DIE OMEGA (5)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
WOORD EN ANTWOORD: (40")
Tema: Eenheid met Jesus deur sy Gees
Lees: Romeine 8: 9, 10, 14 - 17
1. Lees die verse twee maal hardop en dan weer ‘n keer biddend
en in stilte deur. Stel jouself oop vir die Heilige Gees.
2. Vertel vir mekaar wat die Here hierdeur vir jou gesê
het.
3. Bespreek: “‘n Kind van die Here het nie noodwendig
die Heilige Gees nie”.
4. Die “julle” in vers 9 en 10 is belangrik. Waarom?
5. Dit voel soms of Jesus ver van ons af is; watter
gevare is daar wanneer ons op hierdie gevoel steun?
6. Ons eenheid met Jesus is die heel belangrikste aspek
van ons nuwe lewe - want Hy is nou ons lewe! Hy kan nie in ons woon
anders as deur sy Gees nie. Hy woon nie slegs in individuele gelowiges
nie maar Hy bind hulle ook saam tot ‘n lewende organisme.
Ons antwoord: Sit in groepies van drie en praat oor wat jy kan doen om jou nuwe identiteit verder te laat realiseer.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: ons moet by name en doelgerig bid vir onbereikte
volksgroepe waar daar min gelowiges is. Kom ons bid die volgende
ses weke vir ses sulke volksgroepe. Wie gaan vir ons volgende week
meer inligting oor ten minste een so ‘n volksgroep saam bring?
Sorg na buite: ons verteenwoordig Jesus. Hoe
gaan ons hierdie week sy liefde uitdra na siek mense in ons omgewing?
Onderlinge sorg: wie sorg vir wie hierdie week?
Deel met mekaar vreugdes en behoeftes. Bid vir mekaar.
VOLGENDE BYEENKOMS:
Eenheid met Jesus se liggaam - 1 Korintiërs 12: 12 - 14, 26
JESUS, DIE ALFA EN DIE OMEGA (6)
GESINSVERKLARING
TERUGRAPPORT: (20")
Vertel vir mekaar hoe jy die afgelope tyd bewus geword het van die
werklikheid en majesteit van Jesus.
LOFPRYSING EN AANBIDDING: (20")
TERUGKYK: (20")
* ons leef nou reeds vir geruime tyd soos ‘n familie. Wat sou
jy sê is die belangrikste verandering wat dit in jou gebring het?
* Tot watter mate het ons geslaag om regtig met mekaar saam te leef
(bv. in lief en leed; belangstelling; bemoediging; sosiaal; ens.)?
* Op watter terreine kan ons definitief verbeter?
VORENTOE-KYK: (20”)
* Wat glo ons is die Here se doel met ons as geestelike huisgesin in
die gemeente / gemeenskap waarin ons daagliks leef?
* Kom ons stel vir ons ‘n gebedsdoelwit wat uitbreiding betref:
hoeveel gesinne (enkelinge tel ook as gesinseenhede) wil ons graag oor
die volgende ses maande die voorreg gee om deel van ons familie te word?
* Beplan om een naweek as groep saam weg te gaan.
LIEFDESBEDIENING: (20")
Uitreik: nadat ons inligting gekry het, bid ons
saam vir die onbereikte volksgroep waaroor ons verlede week gepraat het.
Sorg na buite: daar is baie mense wat honger
ly. Hoe kan ons Jesus se liefde tasbaar na sulke mense uitdra?
Wat gaan ons hierdie week daaraan doen?
Onderlinge sorg: watter behoeftes is daar vanaand
by onsself waarvoor ons kan intree by Vader? Wie bid vir wie hierdie
week?
VOLGENDE BYEEKOMS: Nuwe gesprekstema