Waarom die naam "Selgemeente?"

Beteken hierdie naam nie in die praktyk dat daar nou 'n gemeente binne 'n gemeente bestaan nie? Was dit nie in die geskiedenis van die kerk een van die groot verskeurende elemente nie?

Die Werkgroep "Gemeentevreugde" staan nie sterk op enige naam wat in gemeentes vir klein kononiagroepe gebruik word nie. Daar is egter goeie redes waarom hulle die naam "selgemeente" gekies het wanneer hulle hieroor praat.
 

Sel:

Die term "sel" dui nie op 'n tronksel nie: dan was daar reeds vir baie jare "sel"-gemeentes waar mense in die gevangenisse geestelik versorg is! Iemand het tereg opgemerk dat die eerste "sel"-gemeente waarvan ons in die Bybel lees, die een is waar Paulus en Silas in die tronk gesit het en die Here geprys het!

Die term "sel" dui op 'n lewende en groeiende eenheid soos 'n sel in 'n plant of 'n mens se liggaam. Dit is in 'n sekere sin selfstandig want dit leef met 'n eie kern as lewensbeginsel. Aan die ander kant is dit afhanklik - dit kan nie bly bestaan sonder ander selle om saam 'n organisme te vorm nie.

Die term is ook verkieslik omdat dit die ekumeniese band aandui: daar is 'n wêreldbeweging aan die gang en in feitlik al die Christelike denominasies is daar "selle" wat 'n eenheid ten spyte van verskeidenheid na vore bring.
 

Verwarring:

Daar bestaan baie verwarring rondom die term "gemeente". Die Griekse woord ekklhsia wat in die Skrif aangetref word, word met "gemeente" en "kerk" vertaal afhangende van die konteks. Omdat hierdie twee Afrikaanse woorde dikwels nie op dieselfde manier gebruik word as wat ekklesia in die Skrif gebruik word nie, skep dit verwarring.
 

Ekklesia in die Skrif -

Is nie 'n gebou nie;

Is nie 'n organisasie nie;

Is nie 'n denominasie nie;

Is nie 'n gemeente soos ons dit ken nie.
 

Gemeente:

Die oorspronklike woord dui op 'n gemeenskap van uitgeroepenes, 'n geloofsgemeenskap van verskillende groottes en reikwydte. Dit is 'n term wat 'n verhoudingstruktuur aandui: van die kleinste geloofsgemeenskap wat in huise byeenkom tot die wêreldkerk word byvoorbeeld deur Paulus ekklesia genoem.

In hierdie sin is die kleinste groepie gelowiges wat met mekaar as 'n geloofsgemeenskap saam leef, 'n ekklesia (gemeente). Ook die groter geloofsgemeenskap waarsonder die sel nie kan klaarkom nie, is 'n ekklesia (gemeente). Dit is alles deel van die groot wêreldkerk wat ook in die Skrif 'n ekklesia (gemeente) genoem word.
 

Bedoeling van die naam:

Wanneer Gemeentevreugde hierdie term gebruik, moet onthou word:

* "gemeente" word nie kerkregtelik gebruik nie maar Bibliologies; daar is geen beswaar teen die normale gebruik van die term vir 'n plaaslike gemeente as 'n juridiese regspersoon met sy lidmate en kerkraad nie.

* die Werkgroep wil vashou aan die waarde wat so 'n groepie gelowiges as 'n geestelike huisgesin in God se oë het. Dit is nie sommer 'n "groepie" wat gemaak en gebreek kan word volgens 'n dominee se goeddunke nie - dit is 'n geloofgemeenskap rondom Jesus wat gesê het "waar twee of drie in my Naam bymekaar is, is Ek by hulle".

* die Werkgroep wil vashou aan die feit dat die geloofsverhoudinge in verskillende verhoudingskringe tot uitdrukking gebring word. Mense leef nie met alle ander mense ewe intens saam nie. Daar is kringe van verhoudings in die geloofsgemeenskap wat van klein tot middel tot groot strek. Almal hierdie kringe is belangrik in die Here se oë. Dit is die rede waarom die kerkverband tussen gemeente, ringe en sinodes nie losgelaat kan word nie.

* persone wat beswaar het teen die naam "Selgemeente" reageer meestal vanuit onkunde oor Gemeentevreugde se teologiese basis of het 'n bepaalde persepsie wat spruit uit 'n ander basisteoretiese vertrekpunt.
 

Saamgevat:

Selgemeentes is onlosmaaklik aan mekaar verbind tot gemeentes, wat weer verbind is tot groter "gemeente" en hulle weer tot groter "gemeentes" om uiteindelik die "gemeente" te vorm wat die hele wêreld oorspan - die kerk van Jesus Christus.


[ Terug na "Gesellig" ]            [ Na tuisblad ]