1. Staan voor die spieël
Bevesig die waarheid van jou posisie
in Christus deur elke dag voor die spieël te gaan staan en vir jouself
hardop die volgende te sê:
* Ek is swak en kan
niks uit myself doen nie.
* Omdat ek met Jesus
verenig is, is ek van God afhanklik en sal sy krag in my swakheid volbring
word.
* Ek is nou tot alles
in staat deur Christus wat my krag gee; ek is met die gesag van Jesus beklee.
Moenie dink dat dit belaglik is
nie. Deur die waarheid herhaaldelik uit te spreek, word dit ‘n werklikheid
in ‘n mens se lewe.
2. ’n Tyd om te besluit
Dit is uiters noodsaaklik om elke
dag ‘n tyd te hê vir beslissings oor die dag se werk. Al het
jy ‘n ingewikkelde dagboek-sisteem of ‘n eenvoudige “om te doen”-lysie,
kry duidelikheid by die Here oor wat jy vandag ten opsigte van die kuddetjie,
die selgemeente, moet doen.
3. Praat met die Here oor
hulle
Terwyl jy vir ‘n gesin of persoon
voorbidding doen, wag vir leiding van die Here af. As daar ‘n spesiale
teksgedeelte in jou gedagte kom of ‘n besondere beeld, skryf dit neer en
dra dit aan hulle oor. So word hulle geloof versterk.
4. Maak kontak met hulle
Kontak elke gesinseenheid elke
week. Dit is noodsaaklik. So modelleer jy ‘n verhoudingskerk.
Dit is maklik. Kies elke week ‘n ander gesin om vinnig by in te loer
en skakel die ander per telefoon. As jy elke dag een gesinseenheid
op jou lys sit, kry jy dit maklik reg.
5. Dien die liggaam
Soek geleenthede om die gesinne
in die selgemeente te dien. Dit is meestal klein dingetjies wat die
verskil maak. Sodoende modelleer jy die wesenlike eienskap van die
christenlewe, naamlik om te dien.
6. Wees ‘n kindervriend
Moenie in jou voorbidding, jou
besoekies en telefoongesprekke die kinders vergeet nie. Hulle moet
spesiale aandag kry. Stel op hierdie manier ‘n voorbeeld vir die
ander volwassenes.
7. Wees ‘n fasiliteerder
In die selgemeente as liggaam van
Jesus is elke gelowige ‘n liggaamsdeel. Jou taak is om elkeen te
help om sy/haar gawes te ontwikkel en te gebruik sodat dit die hele groep
kan opbou. Vra die Here vir ‘n fyn aanvoeling vir die gawes wat die
Heilige Gees aan elkeen gegee het.
8. Hou koers
Die herderleier het ‘n groot verantwoordelikheid
om te sorg dat die selgemeente altyd God se visie oor oë hou.
‘n Groep wat met ander dinge besig raak, verloor nie slegs sy bestaansreg
nie maar ook entoesiasme en toewyding.
9. Hou vas aan die breër
geloofsgemeenskap
Wees self getrou in die omsienerskring
saam met die ander herderleiers. Sorg dat die selgemeente verstaan
dat die breër kringe van geloofsgemeenskap uiters belangrik is.
Reël elke paar maande ‘n gesamentlike byeenkoms met ‘n ander selgemeente
en leer weer by hulle. Gaan almal saam na die eredienste en geniet
dit as ‘n familiefees.
10. Geniet dit!
Moenie jou funksie en verantwoordelikheid
as ‘n swaar las sien nie maar as ‘n voorreg. Jy het een van die wonderlikste
en mees uitdagende funksies in Jesus se gemeente! Sluit elke dag
af deur die Here te dank vir so ‘n voorreg wanneer jy jou kop op
die kussing neerlê om te slaap.
|
* Wanneer jy vroeg in die môre aantrek of jou hare kam, bevestig jy jou posisie in die Here teenoor jouself . * Voordat jy uit die kamer uitgaan, neem jy slegs 5 minute om te beplan watter aandag jy vandag aan die selgemeente gaan gee. * Tydens jou stiltetyd bid jy vir een gesinseenheid en skryf enige indrukke wat jy ontvang, neer. Jy vra ook leiding oor hoe om selgemeentelede vandag te dien. * Op die mees geleë tyd skakel jy telefonies een gesinseenheid. Êrens in die week besoek jy een gesinseenheid. Dit sal meestal laat-middag of vroeg-aand wees. * Elke Sondag, terwyl jy wag vir die erediens om te begin, evalueer jy die koers van die selgemeente en skryf dit neer. * Terselfdertyd evalueer jy elkeen se bediening en hoe jy hulle kan help om dit uit te leef. * As jy gaan lê om te slaap, laat jou laaste gedagtes ‘n gebed van dank wees vir die voorreg om God so te kan dien. Hierdie dinge kom nie vanself nie - dit vra 'n keuse. Besluit om dit te doen en beplan hoe jy dit gaan doen. So word herderskap ‘n lewenswyse! |