Vraag en Antwoord
 

Die volgende vrae word hier behandel:

1.  Waar kry ons meer leiers?
2.  Hoe belangrik is die selgemeente?
3.  Tydsgebrek is een van die grootste probleme; hoe hanteer ons dit?



Waar kry ons meer leiers?

Vraag:    Ons sukkel om in die selgemeente mense te kry wat gewillig is om as herder op te tree.  Waarom is dit so?  Wat kan ons daaraan doen?

Antwoord:
Hierdie probleem kom nogal dikwels voor, veral in gemeentes waar daar nie baie mense is wat in die samelewing op verskillende terreine leiding neem nie.

1.    VERKEERDE LEIERSKAPSMODEL
Hierdie probleem hang saam met die verkeerde begrip oor wat 'n geestelike "leier" is.  Mense dink nog steeds "kerklik" oor die selgemeente en sien dit nie as 'n familiegroep, 'n geestelike huisgesin, nie maar 'n organisasie ('n "kleingroep") wat 'n leier nodig het.  (Vir meer inligting oor Bybelse leierskap, gaan na The Spiritual Leader).  In die lig van die verkeerde idees is dit beter om nie meer van 'n herderleier te praat nie maar gewoonweg van "'n herder" of "helper".

Die herder is nie veronderstel om alles te doen of alles te beheer en so die klein "domineetjie" van die sel te word nie.  Volgens die Skrif moet al die ledemate van die liggaam hulle funksies vervul en behoort die herder namens die groot Herder, Jesus, hierdie gelowiges by te staan en te ondersteun om hulle funksies te begin vervul.  Die herder werk meestal op die agtergrond en is nie die "sterk" leier na wie almal opsien nie - slegs Jesus is die Leier na wie opgesien moet word.  Die herder sorg vir die voortgang van die selgemeente se werksaamhede en reël alles met die medewerking van die verskillende lede.

Sodra iemand met die nodige gawes verstaan dat dit eintlik oor diensbaarheid gaan - oor fasilitering en ondersteuning en nie "leiding neem" in die sin van opdragte gee en alleen verantwoordelikheid neem nie - dan word hulle makliker gewillig om dit te doen.

2.    PROBLEME RONDOM TYD EN PRIORITEIT
Nog iets wat hulle afskrik, is die ekstra werk wat daarmee saamhang.  Almal is so besig en by so baie dinge betrokke dat hulle nie kans sien vir nog ekstra verantwoordelikhede nie.  Daarvoor moet 'n mens begrip hê.

Die enigste manier om dit op te los, is om iemand wat julle glo die regte persoon is, te begelei om tyd om te ruil - dws. iets anders te laat vaar in ruil vir die herderstaak.  Dit sluit ook kerklike take in;  sommige gelowiges is by soveel dinge betrokke dat hulle niks daarvan met volle oorgawe en toewyding kan doen nie.  Een van die redes is dat die klein groepie gewilliges die wa moet trek terwyl die groot gros lekker agterop sit en altyd vermaak en getroetel moet word.

Herderskap is 'n bediening en min mense word deur die Here geroep om twee bedienings tegelyk te hanteer.  Die herderskap van 'n selgemeente neem nie onmoontlik baie tyd nie.  Die belangrikste werk wat tyd neem, is die kontakwerk in die week.  Dit neem nie meer as twee ure om te doen nie.   Daarby kom die byeenkomstyd wat weekliks maksimun twee ure behoort te behels en tyd vir herderbyeenkomste van maksimum een en 'n half uur elke twee weke.

3.    DIE DRINGENDSTE PROBLEEM
Uiteindelik gaan dit oor gehoorsaamheid.  Mense moet verstaan dat hulle die vreugde en innerlike voldoening misloop wanneer hulle ongehoorsaam aan die opdragte van die Here is.   Iemand wat die gawes het en wat na indringende gebed geroep word (deur die selgemeente wat die Here se roeping verwoord), het nie 'n keuse nie want die Here het gepraat.

Ons het gewoond geword aan 'n christenskap sonder gehoorsaamheid en van gerief; dit is vir christene maklik om self te kies en die Here se wil te ignoreer.  Natuurlik dra ons die gevolge daarvan:  die oorgrote getal mense se geloofslewe is oppervlakkig en die Here kan nie die seën aan ons gee wat Hy graag wil nie.  Dit maak die gelowiges se invloed in die samelewing kragteloos want die kinders van die Here doen nie wat die Here wil hê nie.  Dit onteer die grote Skepper-Koning wat ons so begenadig het om ons in sy plan met die wêreld in te trek.
 
 



Hoe belangrik is die selgemeente?

Vraag:  Is selgemeentes regtig so belangrik as wat voorgegee word?  Is dit nie maar net 'n werkswyse om die kerk in die moderne tyd te help nie?

Antwoord:   Selgemeentes is nie die belangrikste saak op aarde nie - die kerk van Jesus is wel.  Selgemeentes is 'n strukturele hulpmiddel wat kan help dat die kerk van Jesus sy wesenlike roeping kan vervul.

Ongelukkig is daar groot onsekerheid en verwarring rondom die wese en die taak van die kerk.  Dit is nie 'n organisasie wat mense op die geestelike terrein moet versorg nie.  Die kerk is die nuwe lewensgemeenskap van nuutgemaakte mense.  Die kerk is die gelowiges se nuwe gemeenskapslewe.

Dit is belangrik om te verstaan dat die kerk 'n verbondskerk is.  Dit beteken dat dit "verbind" is met 'n geestelike "band" naamlik die "verbond".  Die kerk moet dus 'n verhoudingskerk wees.  Ten eerste is dit in Christus aan God verbonde omdat God in genade die gelowiges aan Hom vasgebind het.  Ten tweede bind hy die gelowiges aan sy plan met die wêreld deur hulle in sy diens te gebruik.  Derdens verbind Hy die gelowiges aan mekaar as 'n liefdesgemeenskap.

Omdat daar nie van liefde sprake kan wees in 'n onpersoonlike lomp struktuur nie, is nabye verhoudings in die kerk van Jesus vanselfsprekend.  Hier kom die selgemeente ter sprake - dit verskaf 'n ruimte vir intieme geloofsverhoudings tussen 'n aantal gelowige gesinne en enkelinge.  Die selgemeente is 'n gelowige se "geestelike huisgesin".  Gelowiges het egter ook die groter kringe van gelowiges soos die gemeente nodig.

Kan 'n mens die Here dien sonder 'n selgemeente?  Ja, net soos 'n mens sonder 'n huisgesin kan groot word.  Niemand sal beweer dat 'n huisgesin onnodig is bloot omdat 'n mens daarsonder kan klaarkom nie.  'n Gelowige ontvang soveel seën en ondersteuning in die selgmeente en voel so betrokke in God se wêreldplan, dat dit ondenkbaar is dat mense nie daaraan wil deel hê nie.


Grootste probleem:  tyd

Vraag: Tans is ons grootste probleem om gedurende die week tyd te vind om kontak met mekaar te bou en te behou. Wat beveel julle aan?

Antwoord: Elkeen wat in 'n selgemeente is, ken hierdie probleem in mindere of meerdere mate en daar is geen maklike, geen goedkoop antwoord nie!

Omdat die selgemeente in wese 'n geestelike huisgesin is, moet ons so daaraan dink. Neem dit tyd om aan 'n huisgesin te behoort? Ja! Het ons genoeg tyd vir ons gesinslewe en familie? Nee, meestal nie. Is dit dan nie makliker om jou gesin en familie uit te los nie? Nee, al is dit moeilik wil ons nie regtig sonder ons gesinne en families wees nie en probeer ons om ons prioriteite reg te stel.

Ons is maar almal Westerse mense met 'n materialistiese ingesteldheid. Ons lewenswyse word tot 'n groot mate bepaal deur die samelewing en die druk wat daar op elkeen geplaas word. Dit is uiters moeilik om uit die stroom weg te breek.

Tog moet ons aan die Here gehoorsaam lewe want Hy het volle seggenskap oor ons. 'n Mens is slegs gelukkig wanneer jy die Here 100% vertrou met jou dagprogram. Ons moet tyd maak vir ons verhouding met Hom. Elkeen moet tyd maak vir hom- en haarself; vir selfontwikkeling, vir rus en ontspanning. Ons moet tyd maak vir ons geestelike huisgesin - want hulle is deur die bloed van Christus aan mekaar verbonde en is dus hoogste prioriteit. Ons moet tyd maak vir die huwelik en vir ons gewone gesinslewe. Ons moet tyd maak om uit te reik deur mense in nood te help of om van Jesus te vertel. Dit is nie nodig om tyd te maak vir werk nie - dit sal altyd aanspraak op ons behou want ons moet ook daarvan leef!

Daar is talle nuttelose dinge wat ons lewe vol maak. As ons regtig biddend ons dagboek beplan, sal die Gees van die Here ons oortuig van die tyd wat ons mors met allerlei "goeie" dinge - selfs kerklike aktiwiteite!

Aanbeveling:

i. Gee jou lewe en jou tyd regtig aan die Here oor. Onthou, dit gaan nie oor selgemeente nie maar oor 'n nuwe lewenswyse!

ii. Bid saam as selgemeente dat die Here julle sal help om dit wat in sý oë belangrik is, te doen.

iii Los dinge uit wat nie prioriteit in julle lewens is nie. Help mekaar om dit te doen deur vir mekaar te bid, mekaar te kontroleer of selfs mekaar se dagprogram te bespreek.

iv. Moenie skuldig voel as julle mekaar nie so gereeld bel of besoek as wat julle graag sou wou doen nie - die Here verstaan.
 


[Terug na tuisblad]    [Gesellig]     [Kursusse]    [Materiaal]