Jacques Naudé skryf
uit Heidelberg (Gauteng):
Die Here het 'n evangelisasie-uitreik na Malawi op ons harte kom lê. Met benoud (ander woord vir ongeloof) het dit begin, want wáár gaan die geld vandaan kom? Waar soek 'n mens 'n Jesus-film as almal uit is? Hoe maak ons noodsaaklike kontak met Malawi as alle telefoonlyne buite werking is vir 'n paar maande? Die Here het egter in oorvloed op sý tyd voorsien.
Donderdagaand het ons die spannetjie ingeseën en gebid dat die Here sal laat gebeur soos Hy wil, nie noodwendig soos ons dink nie. Vrydagnag elfuur bid ons vir oulaas saam met die negetal by hulle vertrek.
Saterdagmiddag het die eerste nuus van die ongeluk gekom en deur lang middag- en nagure van bid en sukkel met telefone en mens-magteloos wees, het die prentjie vol geword: die geweld van die ongeluk; almal wat in mindere of meerdere mate beseer is; ons boetie Marius wat op slag dood is; ons ander boetie, omsiener en leraar Reon van Rooyen wat in sy sterwensoomblikke praat oor ons God wat sal voorsien ...
Stom is ons stom - ons verstaan nie; ons harte is stukkend maar van iewers af het ons Vader-God rus gebring in die wete dat Hy, wat toegelaat het dat dit gebeur, steeds in beheer is. Wat begrafnisdiens moes wees vir Reon, het 'n lofoffer aan God geword, 'n danklied vir hierdie spesiale boetie wat tussen ons kon leef en getuig.
Wat God se doel is, verstaan ons nog nie, maar ons weet dat Hy vir ons sewe wonderwerke gedoen het in die sewe persone wat Hy lewend uit die verwoesting laat kom het. Ons sien dat Hy lewend is waar 'n dogter van 16 kan loop ten spyte van vier versplinterde rugwerwels. Ons bid om sy genesing vir 'n pragtige jong vrou vir wie daar, menslik gesproke, 'n hersteltyd van 5 jaar vir brandwonde voorlê.
Ons beleef die bande van liefde wat hieruit gesmee is, nie net binne ons selgemeente nie, maar ook tussen kinders van die Here in verskillende kerkgenootskappe in ons dorp. Half-benoud (weer ongelowig) hoor ons dat die kruppelrige sewe wil teruggaan; die ongebruikte Jesus-film is klaar weer bespreek vir volgende jaar. Ons moet steeds beskikbaar wees vir Jesus om te gebruik - SOOS HY WIL.
Marius het minute voor sy dood in sy dagboek geskryf:
"Here, ek behoort aan U.
My siel, my liggaam, my potensiaal is vir U om aan te wend tot uitbreiding
van u Koninkryk. Ek smeek U: gebruik my van nou af tot in ewigheid
..."
(Uit: "Gesellig"
nr 7; 4 de Kwartaal 1997)