WATTER ELEMENTE VEROORSAAK
STAGNASIE IN 'N SELGEMEENTE?
‘n Selgemeente wat ontrou raak aan
sy bestaansdoel, stagneer. Die bestaansdoel van die selgemeente word
duidelik in die gesinsverklaring verwoord, naamlik dat ons aan mekaar verbind
is
” ... om Hom te loof en te eer;
om mekaar onselfsugtig te dien;
en om in gehoorsaamheid aan Hom sy beeld verder uit te dra, sodat ander
Hom as Vader kan leer ken.”
Drie probleemareas
Wanneer ons stagnasie in die selgemeente
beleef, lê die probleem by een of meer van hierdie drie elemente.
Kom ons kyk kortliks daarna.
-
Eerstens kan dit in die selgemeente
gebeur dat Jesus nie meer as die middelpunt van die selgemeente en lede
se lewens geëer word nie. Dit gaan dus nie meer oor die lof
en eer van God nie. Wanneer dit gebeur, het ons verval in ‘n vormgodsdiens
wat leeg en betekenisloos is. Die fokus verskuif algaande wég
van Jesus na gewone mense. Ons begin dit van ménse verwag
om van die selgemeente-ervaring ‘n sukses te maak. Hierdie klemverskuiwing
word veral sigbaar in ‘n vervlakking in die selgemeente se gebede.
Biddeloosheid is ‘n teken daarvan dat mense dink hulle het die Here nie
meer nodig nie. Hulle kan nou op hulle eie talente, vermoëns
en persoonlikhede staatmaak om die selgemeente te laat groei.
-
Dit gebeur egter ook dat selgemeentelede
weer begin om net na hulself om te sien, terwyl hulle hul in die gesinsverklaring
daaraan wy om mekaar te dien. Hierdie mense raak nukkerig en gefrustreerd
as húlle belange nie in die selgemeente voorop gestel word nie.
Hier is dit belangrik dat die herder-leier sal aanhou om ‘n dienskneg-leier
te wees, soos Jesus ons geleer het. Sommige herder-leiers mag die
selgemeente opeis vir eie eer en besit. So ‘n selgemeente sal moeilik
diens-aan-mekaar aanleer en waarskynlik stagneer.
-
Derdens gebeur dit baie maklik dat
ons vergeet dat ons doel op aarde is om die liefde van Jesus aan
‘n verloregaande wêreld te vertoon. Die simptome is opvallend.
Hierdie selgemeente is voortdurend gerig op die bevrediging van hulle eie
grille, is kieskeurig oor wie mag inskakel, en vertoon heelwat weerstand
teen vermenigvuldiging. In plaas daarvan om na buite te leef,
mense in te trek en dan te vermenigvuldig, is hulle doodgelukkig om dieselfde
groepie te bly. Hierdie is niks anders as ongehoorsaamheid aan die Here
se opdrag in Matteus 28: 18 tot 20 nie. Die uiteinde van hierdie
selgemeente is stagnasie.
Ander simptome
Daar is nog ander simptome van
‘n stagnante selgemeente wat ook opgenoem kan word. Die selgemeente word
byeenkoms-gerig en die geestelike familiebande word afgeskeep omdat dit
opoffering vra. Die selgemeente se
byeenkomste raak toenemend ‘n formele
program. Hulle wil net die “sakelys” so gou moontlik afhandel, sodat
hulle kan verdaag. Daar is min of geen sensitiwiteit vir die leiding van
die Heilige Gees en mense se behoeftes nie. Konflik word vermy of
nie met ‘n gesindheid van liefde en nederigheid hanteer as ‘n groeigeleentheid
nie. Leierskap word weer heerskappy in plaas van liefdesdiens.
Indien jy dalk van hierdie simptome
in julle selgemeente herken, moet jy let op die gevaarligte. Hoe
voorkom ‘n mens stagnasie? Dit beteken eenvoudig dat die selgemeente moet
ontwikkel in lyn met sy gesinsverklaring. Gesels dus gereeld oor
hierdie verklaring, sodat almal dit verstaan en moedig mekaar aan om dit
te leef. Waar selfsugtige motiewe kop uitsteek, moet dit aangespreek
word. En onthou, die Heilige Gees is die Gees van lewe. Waar
sy leiding gehoorsaam gevolg word, sál ‘n selgemeente nooit stagneer
nie.
Tobie van Schoor - N G Gemeente
Uitenhage-Noord ( Uit "Ter Sprake" )
[ Terug na "Gesellig" ]