Hierdie is die eerste in 'n reeks
artikels oor die basiese probleme wat selle/ omgeegroepe/ selgemeentes
in die praktyk ondervind asook die wyse waarop dit oorkom kan word.
Die reeks behandel die volgende
1. Mensgemaak
of goddelike oorsprong
2. 'n Geestelike
groep of lewensgemeenskap
3. Menslike keuse
of verbintenis aan die Here
4. Byeenkoms
of geloofsgesin
5. Kerklike groep
of liefdesgemeenskap
6. 'n Groep met
'n leier of 'n groep van leiers
7. Stagnasie
of groei
| Daar is 'n aantal simptome
wat aandui dat 'n sel sieklik is:
*mense sien nie meer uit na die
weeklikse samekoms nie;
Die simptome is die uitvloeisel van die volgende probleme; *die sel vervul nie meer mense se
geestelike behoeftes nie;
|
MENSGEMAAK
of
GODDELIKE OORSPRONG
Iets wat die moeite werd is
Is die sel vir God belangrik?
Het dit ewigheidswaarde? Dan is dit al die moeite werd! Dan
word dit 'n prioriteit waarvoor gelowiges tyd maak! As die
sel maar net 'n ekstra bedrywigheid op die kerklike almanak is, word dit
al moeiliker om dit saam met al die ander verpligtinge van die lewe in
te pas.
God se plan - nie 'n "geestelike" organisasie nie
'n Nuwe volk met nuwe gesinne:
baie mense dink dat die kerk 'n organisasie is wat vir die "geestelike"
welsyn van sy lede moet sorg terwyl die staat vir die gewone lewe sorg.
Die Bybel ken nie so-iets nie - dit is 'n dualisme wat uit die heidense
denke kom. Christus het nie 'n organisasie kom stig en lede daarvoor
begin werf nie. Hy het as die tweede Adam 'n nuwe volk wat uit geloofsgesinne
bestaan, begin. Die ekklesia (gemeente) is 'n organisme wat Jesus
verteenwoordig en wat sy bediening onder heerskappy van die Heilige Gees
voortsit.
God se plan - Jesus op aarde
Die ekklesia (gemeente/kerk) het
'n wonderlike doel: dit moet Jesus se liggaam wees
in wie Jesus se Gees woon sodat Jesus se bediening
van die versoening voortgesit kan word. Daar is geen ander doel vir
die kerk nie. Dit is die venster na God se hart! Die gelowiges
word aan Jesus verbind en hulle ontvang sy Gees sodat hulle met sy gesindheid
die liefde van God aan 'n sterwende wêreld sigbaar kan maak.
Die wêreld sal nie almal die Bybel lees of dit verstaan nie maar
almal wat met die liggaam van Jesus te doen kry, sal God se liefde ervaar
en na God soek.
'n Geloofsgemeenskap
Geloofsgemeenskap met Jesus: om God se plan tot uitvoering te kan bring, word mense deur geloof aan Jesus verbind. Hierdie geloofsverbintenis is nie iets wat uit 'n mens self kom nie - dit is die reaksie op die werk van God in 'n mens. Hierdie ware geloof is 'n gesindheid van afhanklike vertroue en nie iets wat 'n mens besit nie. Geloof is 'n verhoudingswoord; dit beteken in werklikheid om in 'n verhouding met Jesus te lewe; om Hom kinderlik te vertrou met jou hele lewe. So word 'n mens gered. Sonder hierdie reddende geloof kan 'n mens nie deel hê aan Jesus nie.
Geloofsgemeenskap met ander gelowiges: die gelowiges word nie slegs aan die Here verbind nie maar terselfdertyd ook aan mekaar tot 'n liggaam. Die liggaam van Jesus is 'n samevoeging van mense wat waarlik glo dws. in 'n verhouding met Jesus Christus leef; dit is 'n geloofsgemeenskap. Al kan enige mens die samekoms van so 'n liggaam bywoon, kan net gelowiges deel wees van hierdie liggaam, die gemeenskap van die gelowiges.
Gemeenskap as saam leef:
die sel / selgemeente is die basiese gestalte van die gemeenskap van gelowiges
- dit is waar gelowiges met mekaar in gemeenskap lewe. Dit is dus
nie iets bykomstig waaroor ons kan spekuleer nie - dit is lynreg in God
se plan vir elke gelowige: jy kan nie aan Jesus verbind wees en nie
aan medegelowiges as sy liggaam, as 'n geloofsgemeenskap nie!
'n Liefdesgemeenskap
Beelddraers van Jesus: sommige mense dink dat geloof in die eerste plek met leerstellings te doen het en daarom verstaan hulle die geloofsgemeenskap as 'n organisasie van mense wat met mekaar saamstem oor spesifieke leerstellings. Dit is egter nie volgens die Bybel nie. Omdat geloof 'n verhouding met God in Jesus Christus beteken, is die geloofsgemeenskap as Jesus se Liggaam die draers van die beeld van Christus.
Hoe lyk die beeld van Christus? Hoe lyk Christus se Liggaam as dit Hom verteenwoordig? Dit lyk soos Hy - dit dra die beeld van die liefde en is daarom 'n liefdesgemeenskap! As 'n groep mense nie Jesus se onselfsugtige en dienende liefde uitleef nie, is dit nie die liggaam van Jesus nie.
'n Suksesvolle sel:
'n sel / selgemeente is geroep om Jesus vir die wêreld te wys.
Die vraag is nie hoe lekker die sel is of hoe baie aktiwiteite daar is
nie - maar die vraag is "Word die liefde van Jesus Christus sigbaar deur
die dienende liefde van die sel?" 'n Suksesvolle sel is 'n
dienende sel wat bewus is van Jesus se Gees in hulle en van Jesus se opdrag
aan hulle om Hom te verteenwoordig. 'n Suksesvolle sel is 'n sel
met dieselfde gesindheid as Jesus - dit is 'n sel wat gerig is op die nood
van mense in die samelewing. Dit is gerig op mense se diepste nood
na verlossing uit die greep van sonde maar ook die nood na voedsel, kleding,
huisvesting en genesing.
'n Familie en nie 'n groep of organisasie nie
Om Jesus se liefde onvoordelik uit te lewe, is 'n liefdesgemeenskap nodig. 'n Liefdesgemeenskap is nie 'n groot klomp mense wat een maal per week bymekaarkom in 'n gebou nie; dit is 'n klein groepie mense wat met mekaar saam lewe, wat mekaar se lewens deel. Dit is mense wat mekaar intens ken en mekaar ondersteun. Dit is mense wat die liefde van Jesus onder mekaar uitlewe sodat hulle dit ook na buite kan uitlewe.
Die poging om 'n groot gemeente in klein groepies op te deel om sodoende "koinonia" tot sy reg te laat kom, is om die kar voor die perde te span. Die gemeente is in werklikheid 'n geloofsfamilie wat opgebou word uit geloofsgesinne; die selle is die boustene van die gemeente anders bestaan daar nie liefdesgemeenskappe nie en kan die gemeente nie sy Godgegewe taak vervul nie. Die gemeente as groter eenheid bestaan ter wille van die kleiner geloofsgesinne om hulle te versterk en te versorg en nie andersom nie; dit is nie die taak van die kleiner geloofsgemeenskappies om die groot gemeente te bou en te versterk nie! Daar bestaan nie eers 'n organisasie (gemeente) en agterna word "koinonia" of liefdesgemeenskap gekweek nie; die gemeente is die samevoeging van koinoniale eenhede om hulle te versterk en om die wesenlike eenheid tussen hulle gestalte te gee. Om dit in teologiese taal uit te druk: die gemeente is die eerste faset van kerkverband omdat dit 'n eenheidsband tussen die geloofsgemeenskappe bind.
Dit is ook nie goed om van 'n kleingroepbediening
te praat asof dit iets is wat los staan en waarsonder 'n gemeente desnoods
kan klaarkom nie. In die geloofslewe moet daar van klein tot medium
tot groot kringe wees omdat 'n gelowige almal nodig het om tot 'n volwasse
kind van God te ontwikkel.
Daar is nie 'n keuse vir gelowiges nie
'n Gelowige het natuurlik 'n keuse of hy/sy by enige groep wil inskakel - en dit geld ook vir die gemeentelike lewe. 'n Mens het egter nie 'n keuse om by 'n huisgesin in te skakel nie maar is deur geboorte aan 'n gesin verbonde. Jy kan ook nie die ouers of huisgesin kies waarby jy wil inskakel nie. In die geloofslewe is dit ook so: die Here plaas elke kind van Hom in 'n geloofsgesin en daaroor het Hy alleen die keuse!
Ja, dit is so dat 'n mens mettertyd die natuurlike gesin waaraan jy verbonde is, kan verwerp. Dit is ook so dat 'n gesin 'n nuwe aankomeling kan verwerp. Vanweë die gebrokenheid van die menslike samelewing val die huisgesinne dikwels uitmekaar uit. Dit gebeur ook wat die geloofslewe betref. Baie dikwels verwerp gelowiges nuwe bekeerlinge deur hulle nie op te neem as nuwe lede van die geloofsgesin nie; sulke gelowiges sukkel as "geestelike weeskinders" deur die lewe en groei stadig in hulle verhouding met die Here en dikwels groei hulle ook skeef.
Een van die redes waarom die idee van 'n geloofsgesin vir baie jare vreemd was, is dat ons as Westerlinge in 'n individualistiese samelewing groot word en nie die krag en invloed van die uitgebreide gesin ken nie. Ons verstaan moeilik dat die Joodse uitgebreide gesin die basiese geloofsgemeenskap in die Ou Testamentiese tyd was en dat dit vervang is deur die klein en intieme geloofsgemeenskap wat in die Nuwe Testamentiese tyd in huise bymekaar gekom het.
Om aan die Here te behoort beteken
vanselfsprekend om deel te wees van die ekklesia (die gemeente) as 'n geloofsgemeenskap
met klein, medium en groot verhoudingskringe. 'n Gelowige wat die
Here wil dien, het nie 'n keuse nie - die Here voeg 'n mens by 'n intieme
geloofskring, 'n geestelike huisgesin wat deel is van 'n geloofsfamilie.
Iemand wat nie naby aan 'n groepie gelowiges wil lewe nie is ongehoorsaam
aan die Here want so iemand kan byvoorbeeld nie die "mekaar-opdragte" van
die Nuwe Testament uitvoer nie. Oor die vraag hoe hierdie geloofsgesin
moet lyk en funksioneer, kan ons met mekaar verskil - dit is kultuur- en
tydsgebonde.
Pasop vir mensgemaakte groepe
Om in 'n gemeente sommer 'n groep te vorm kan gevaarlik wees. Dit kan tydmors wees of selfs die Here se planne vir die gemeente teenstaan. Het julle die Here geraadpleeg? Het die kerkraad ernstig gebid oor hierdie saak en die Here se wil gesoek? Wat het die Here deur sy Gees vir julle gesê? Is julle in lyn met die Skrif se hooflyne? Onthou, 'n kerkraad het nie die reg om besluite oor die gemeente van Jesus Christus te neem nie; hulle taak is om uit te vind wat Jesus oor sy gemeente besluit het en dit uit te voer. Dit is die Here se gemeente en ons moet ophou om dit te organiseer soos wat ons goed dink.
'n Bestaande sel kan dalk tot die
gevolgtrekking kom dat hulle nie regtig 'n geloofsgesin is nie maar 'n
mensgemaakte groep wat nie die Here se duidelike leiding gekry en gevolg
het nie. Die enigste pad is om met belydenis van skuld die Here se
aangesig te soek; sy wil moet biddend gevra en gesoek word.
Bespreek sy leiding met mekaar en volg die pad wat Hy vir julle aandui.
Moenie haastig wees nie maar word 'n werklike familie wat mekaar begin
dien soos wat die Here gesê het. Begin dan julle doel uitleef
en wees Jesus se verteenwoordiger in die samelewing deur met sy liefde
en ontferming te begin dien soos wat Hy julle lei.
Marius Potgieter
Julie 2001