1. Die predikant moet ‘n duidelike visie hê van die Here se doel met die gemeente en moet dus weet waarheen om medegelowiges te begelei.
2. Hy moet biddend die Heilige Gees se leiding soek en volg in die stelselmatige infasering van die nuwe model.
3. Sodra
hy met ‘n selgemeente begin, fokus hy op verhoudings:
* Hy begin self
om innige verhoudings te bou met die gesinne in die selgemeente sodat hulle
as ‘n geestelike huisgesin kan funksioneer.
* Hy doen in
hierdie groep totaal afstand van sy titel aangesien daar in ‘n huisgesin
geen titels onder broers en susters gebruik word nie.
* Hy leer om
soos ‘n gewone mens saam met die ander te leef. Hy moet sy behoeftes
en probleme algaande aan die groep bekend maak sodat hulle hom en sy huisgesin
ook kan ondersteun en opbou.
4. Terselfdertyd modeleer hy as herder-leier van die eerste geestelike huisgesin ‘n nuwe soort leierskap. Hy soek na geleenthede om sy medegelowiges in die selgemeente te dien en hy bid getrou vir elke persoon, groot en klein, by die naam.
5. As voorbeeld vir die ander, maak hy vriende met ‘n ongelowige gesin of mense met ‘n vreemde of heidense godsdiens. Hy poog om die liefde van Christus uit te leef na hierdie mense toe en wanneer daar ‘n goeie geleentheid kom, vertel hy van sy Verlosser en sy liefde.
6. Die eise
van die nuwe struktuur:
* Om hierdie
rol te modeleer, sal ektra tyd van die predikant vra. Waar sal dit
vandaan kom? Elke predikant weet wat dit is om gedurig met skuldgevoelens
te worstel aangesien daar altyd meer te doen is as wat menslik moontlik
is. Een van die grootste foute wat ‘n predikant kan maak, is om aan
al die menslike verwagtings te probeer voldoen en sy verhouding met die
Here en sy huisgesin af te skeep. Die verwagtinge van kerklidmate
is deur die tradisie gevorm en is nie noodwendig in ooreenstemming met
die wil van die Here nie.
* In tydsbeplanning
gaan dit om prioriteite: wat regtig belangrik is, kom altyd eerste.
Wat Christus in sy gemeente gedoen wil hê, is altyd prioriteit nommer
een! Die vorming van die eerste selgemeente en die in-diens-opleiding
van die herder-leier is van allergrootste belang vir die toekoms van die
selgemeente-struktuur. Hierdie gelowiges is ook die geestelike huisgesin
van die predikant en sy gesin - daar moet tyd aan afgestaan word.
* In die beplanning
van die weeklikse program behoort spesifieke tyd vir die selgemeentewerk
opsy gesit te word. Dit word ‘n afspraak soos wat ‘n vergadering
een is. Elke Donderdag tussen 19:30 en 22:00 kan byvoorbeeld hiervoor
gebruik word.
* Namate die
selgemeente-struktuur groei, behoort die predikant ‘n al-groter-wordende
snit van sy tyd aan die nuwe struktuur af te staan. Die tradisionele
struktuur moet nie verwaarloos word nie, maar dit is belangrik dat alle
onnodige dinge wat tyd opslurp, uitgesny moet word.
7. Die voordele
van die nuwe struktuur:
* Vir die eerste
keer is daar nou ‘n ondersteuningstruktuur vir die predikant en sy gesin.
Omdat die selgemeente as ‘n huisgesin funksioneer, leef daar ‘n paar gesinne
met die predikant en sy gesin saam en hulle kan as gewone mense aanvaar
en met gebed en bemoediging - en selfs vermaning - ondersteun word.
* Die selgemeente
bied ruimte vir geloofsgroei. Die predikant leer ook uit die ander
gelowiges se ervarings en uit hulle gawes wat hulle van die Heilige Gees
ontvang het. Hy kan nou vry word van die bomenslike verwagtings rondom
die predikant en weer soos ‘n gewone feilbare mens tussen ander mense lewe.
* Die onderlinge
pastoraat wat in die selgemeente plaasvind, bring met die loop van tyd
‘n verligting in die taak van die predikant. Wanneer daar baie selgemeentes
tot stand gekom het, is daar soveel onderlinge ondersteuning dat die predikant
nie meer gesien word as die algemene sieketrooster nie. Nou kan hy
almeer doen waarvoor hy opgelei is - die hantering van gevalle wat nie
deur die selgemeente hanteer kan word nie.
* In die selgemeente-model
is daar ‘n ingeboude stelsel van kontrole wat uitstekend werk. Dit
is nie kontrole van bo af asof die predikant of die kerkraad in beheer
moet wees nie maar liefdeskontrole van mense met herdersharte wat die gelowiges
ondersteun. Hulle is volledig op hoogte van alles wat aan die gang
is omdat daar sulke intense persoonlike verhouding-strukture is.
* In plaas van
die domineeskerk waar een persoon betaal word om al die werk te doen, bring
hierdie model ‘n magdom van medewerkers. Alle gelowiges en
kinders in selgemeentes sien hulself as betrokke in die koms van die koninkryk.
8. Probleemareas:
* Netsoos die
lidmate, is talle predikante beïnvloed deur ‘n kerkbegrip met Roomse
trekke en hulle kom moeilik daaruit. Afgesien daarvan dat hulle op
hoogte moet kom van die nuutste navorsing in die teologie, moet hulle ook
‘n paradigma-skuif (verandering in perspektief) ondergaan en dit neem tyd.
* Sommige gemeentelede
se verwagtings van die predikant is deur die kultuur bepaal en kom nie
uit die Bybel nie. Dit bring konflik wanneer die kerkraad Bybelse
beginsels wil toepas.
* Die predikant
is dikwels bang dat hy die koninkryk skade sal aandoen indien hy nie mense
tevrede stel nie - onthou dat hy nooit almal tevrede kan stel nie want
daar is meer as een sentiment onder die lidmate.
* Predikante
is soms bang dat die mense sy menslikheid en swakhede sal sien. Dit
bring die vrees dat dit sy invloed in die gemeente kan wegneem.
* Sommige predikante
worstel met persoonlikheidsprobleme soos ‘n swak selfbeeld. Die gesagsposisie
van die tradisionele predikantsamp was ‘n beskermende faktor wat in die
moderne samelewing wegval. Die “gesagsposisie” word met die koms
van die nuwe struktuur verder afgebreek.
Marius Potgieter
1996