Vraag: Ons sukkel om in die selgemeente mense te kry wat gewillig is om as herderleier op te tree. Waarom is dit so? Wat kan ons daaraan doen?
Antwoord:
Hierdie probleem kom nogal dikwels
voor, veral in gemeentes waar daar nie baie mense is wat in die samelewing
op verskillende terreine leiding neem nie.
1. VERKEERDE LEIERSKAPSMODEL
Hierdie probleem hang saam met
die verkeerde begrip oor wat 'n geestelike "leier" is. Mense dink
nog steeds "kerklik" oor die selgemeente en sien dit nie as 'n familiegroep,
'n geestelike huisgesin, nie maar 'n organisasie ('n "kleingroep") wat
'n leier nodig het. (Vir meer inligting oor Bybelse leierskap, gaan
na The Spiritual Leader). In die lig van die verkeerde idees
is dit beter om nie meer van 'n herderleier te praat nie maar gewoonweg
van "'n herder" of "helper".
Die herder is nie veronderstel om alles te doen of alles te beheer en so die klein "domineetjie" van die sel te word nie. Volgens die Skrif moet al die ledemate van die liggaam hulle funksies vervul en behoort die herder namens die groot Herder, Jesus, hierdie gelowiges by te staan en te ondersteun om hulle funksies te begin vervul. Die herder werk meestal op die agtergrond en is nie die "sterk" leier na wie almal opsien nie - slegs Jesus is die Leier na wie opgesien moet word. Die herder sorg vir die voortgang van die selgemeente se werksaamhede en reël alles met die medewerking van die verskillende lede.
Sodra iemand met die nodige gawes verstaan dat dit eintlik oor diensbaarheid gaan - oor fasilitering en ondersteuning en nie "leiding neem" nie - dan word hulle makliker gewillig om dit te doen.
2. PROBLEME RONDOM
TYD EN PRIORITEIT
Nog iets wat hulle afskrik, is
die ekstra werk wat daarmee saamhang. Almal is so besig en by so
baie dinge betrokke dat hulle nie
kans sien vir nog ekstra verantwoordelikhede nie. Daarvoor moet
'n mens begrip hê.
Die enigste manier om dit op te los, is om iemand wat julle glo die regte persoon is, te begelei om tyd om te ruil - dws. iets anders te laat vaar in ruil vir die herderstaak. Dit sluit ook kerklike take in; sommige gelowiges is by soveel dinge betrokke dat hulle niks daarvan met volle oorgawe en toewyding kan doen nie. Een van die redes is dat die klein groepie gewilliges die wa moet trek terwyl die groot gros lekker agterop sit en altyd vermaak en getroetel moet word.
Herderskap is 'n bediening en min mense word deur die Here geroep om twee bedienings tegelyk te hanteer. Die herderskap van 'n selgemeente neem nie onmoontlik baie tyd nie. Die belangrikste werk wat tyd neem is, die kontakwerk in die week. Dit neem nie meer as twee ure om te doen nie. Daarby kom die byeenkomstyd wat weekliks maksimun twee ure behoort te behels en tyd vir herderbyeenkomste van maksimum een en 'n half uur elke twee weke.
3. DIE DRINGENDSTE
PROBLEEM
Uiteindelik gaan dit oor gehoorsaamheid.
Mense moet verstaan dat hulle die vreugde en innerlike voldoening misloop
wanneer hulle ongehoorsaam aan die opdragte van die Here is.
Iemand wat die gawes het en wat na indringende gebed geroep word (deur
die selgemeente wat die Here se roeping verwoord), het nie 'n keuse nie
want die Here het gepraat.
Ons het gewoond geword aan 'n christenskap
sonder gehoorsaamheid; dit is vir christene maklik om self te kies en die
Here se wil te ignoreer. Natuurlik dra ons die gevolge daarvan:
die oorgrote getal mense se geloofslewe is oppervlakkig en die Here kan
nie die seën aan ons gee wat Hy graag wil nie. Dit maak die
gelowiges se invloed in die samelewing kragteloos want die kinders van
die Here doen nie wat die Here wil hê nie. Dit onteer die grote
Skepper-Koning wat ons so begenadig het om ons in sy plan met die wêreld
in te trek.