Kinders en
die Koninkryk




Die Here is vír kinders! Hy laat kinders gebore word in die midde van sy volk, sy gemeente, sodat hulle sy liefde kan ervaar en met wederliefde daarop kan antwoord.  Die Here gebruik dan weer sy gemeente om sy liefde na ander kinders uit te leef sodat hulle ook tot geloof kan kom en deel kan word van die geloofsgemeenskap.

Die Skrif is nie ingestel op die vraag waar kinders heen gaan as hulle sterf nie. In die teologie word daar egter reeds eeue lank oor hierdie saak geargumenteer. In die Skrif gaan dit oor 'n genadige God, oor sy gemeente en oor sy wêreldplan van verlossing.   Die kinders in die gemeente is God se kinders wat met die loop van tyd God se liefde beantwoord met hul eie liefde - hulle kom tot 'n persoonlike oorgawe van hulle lewens aan Hom wat Homself vir hulle gegee het.   Dit is dus van groot belang dat die kinders van die geloofsgemeenskap die onvoorwaardelike liefde van die Here sal ervaar.   Dit gebeur onder andere wanneer hulle as volwaardige persone met besondere gawes en talente erken word.

Hierdie is een van die aspekte waarin die rol van die selgemeente baie belangrik is: in die intieme verhouding tussen 'n paar gelowige gesinne kan die kind ontwikkel tot 'n toegewyde gelowige. Dit is die ideale groeimedium omdat 'n lewenstyl gemodelleer word en Bybelse waardes en norme oorgedra word.

Die onverklaarbare kan ook gebeur - dat een van God se kinders, wat sy liefde ervaar het, sy of haar rug op Hom draai en sy of haar eie pad begin loop. Dit sal waarskynlik minder plaasvind as daar 'n egte liefdesgemeenskap bestaan wat mekaar en veral die jongmense met gebed omring.
 
 


Kinders en die
Selgemeente

VOORBIDDING

'n Herder-leier vertel: "Een van ons eie kinders was onlangs in die hospitaal. Langs haar het 'n dogtertjie met leukemie gelê, afkomstig van 'n dorpie ongeveer 150 km van ons af. Ons het hulle gesin beter leer ken. Ons het hulle adres geneem en vir hulle belowe dat die kinders van ons selgemeen-te vir haar sal bid. By die volgende byeenkoms het die kinders tydens die gesprek rondom die Woord gegaan en elke kind het vir haar 'n briefie gemaak wat haar bemoedig en versterk vanuit die Woord. Ons het dit die volgende dag gepos.

'n Week later het ons 'n telefoon-oproep ontvang van die dogtertjie se ouers om vir ons te sê hoeveel die briefies vir hulle hele gesin beteken het.

Ongeveer ses maande later (Jan 1997) het die Mamma my een oggend geskakel om te sê dat hulle kindjie die vorige week na 'n behandeling van chemo-terapie oorlede is. Ons het weer belowe om vir hulle as gesin te bid en het weer briefies geskryf om te sê dat ons jammer is en vir hulle sal bid. Die gevolg van hierdie verhouding wat opgebou is, is dat die gesin tans elke maand inskakel by ons gemeente se sorggroep vir ouers wat kinders aan die dood afgestaan het."
 

MODELLERING

'n Herder-leier se vrou vertel van wat so-pas met hulle gebeur het: "Ek en my seuntjie van vier jaar het die afgelope weke by 'n ouerige tannie in die gemeente betrokke geraak. Sy is permanent bedlêend en word elke oomblik vir die afgelope vier jaar reeds deur haar man versorg. Elke week gaan kuier ons vir hulle. Die vorige keer, net voor ons loop, sê ek vir my seuntjie: 'Kom ons bid vir die tannie'.

Toe ons vanoggend weer vir hulle gaan kuier het en ons klaar was, het ek hulle gegroet en dadelik begin terugloop na ons eie huis. My seuntjie roep my toe terug en sê: 'Mamma, ons moet eers vir die tannie bid!'" So modelleer ons betrokkenheid by mense in nood vir ons kinders! So leer ons ook by ons kinders om te bid!

'n Ander selgemeente het ook gehoor van die dame en reël nou dat een persoon uit hulle selgemeente elke keer tydens die eredienste en gedurende pinkstertyd die tannie gaan oppas sodat die oom die dienste kan bywoon.
 

LIEFDESBEDIENING

'n Herder-leier vertel van hulle selgemeente: "Ons het gehoor van Oom Eddie wat kanker gekry het en in Kaapstad was vir bestraling. Daardie aand het ons kinders by die selgemeente elkeen 'n kaartjie gemaak vir hom en sy vrou. Die volgende dag is iemand anders deur Kaapstad toe vir besigheid en het die kaartjies persoonlik by Oom Eddie gaan afgee. Daardie aand bel Eddie se vrou. Sy kon haar trane nie terughou nie toe sy vertel hoe die briefies en gebede van die kinders hulle in die hart geraak het en in die geloof versterk het.."

Die uiteindelike gevolg van hierdie verhaal is dat Oom Eddie en sy vrou graag by 'n selgemeente wou begin inskakel. Daar is baie selgemeentes wat soortgelyke verhale kan vertel; waar onvoorwaardelike liefde sonder enige bybedoelings ervaar word, word mense altyd van God se liefde vir hulle oortuig.
 



[Terug na "Gesellig"]

[Tuisblad]     [Kortliks]      [Kursusse]      [Vraag en Antwoord]      [Materiaal]