DIE SIEKTE:  INSTITUSIONALISME

1. Die kerk en institusionalisme
Wanneer die gemeente as "koud" en onpersoonlik beleef word, is die kanse baie goed dat dit ly aan verstarring wat ons "institusionalisme" kan noem.  Institusionalisme is die verstarring en formalisering van die onderlinge verhoudings tussen mense in samelewingstrukture.  Dit beteken in die praktyk dat die klem op die formele organisasie gelê word in plaas van op die mense wat betrokke is.  Kortliks gesê: dit gaan meer oor die houer (die koppie) as oor die inhoud (die tee of koffie).

2. Altyd by ons
Die neiging om verhoudings te formaliseer is deel van die mens se inherente samestelling; dit gebeur met feitlik alle sosiale strukture in feitlik alle kulture. Meestal begin 'n samelewingstruktuur met meer informele en persoonlike verhoudings.  Met die tyd word hierdie soepelheid verloor en word die verhoudings geformaliseer - 'n mens kan sê: van rubber tot sement!  Dit is nie moontlik om hierdie verskynsel te ontvlug nie.  Dit is egter moontlik om dit te verstaan, daarteen te waak en daarteen te werk!

3. Die invloed van die tydsgees
Die algemene tydsgees het 'n bepalende invloed op die samelewing.  Volgens die voor-moderne wêreldbeskouing (van die Middeleeue af tot in hierdie eeu) word mense se verhoudings formeel gereël.  Ons ouer geslag het in so 'n wêreld groot geword en dit het die samelewing en die kerk maklik geformaliseer.  Die modernisme as tydsgees lê die klem op die individu en dit het ook 'n mate van onderlinge vervreemding na vore gebring.  Dit is veral die na-modernisme wat die klem op tussen-persoonlike verhoudings plaas en wat die formele probeer afbreek.  Die jonger geslag het nie ooghare vir styfheid en onpersoonlikheid nie - hulle soek betekenisvolle verhoudings, ook in die kerk.
 

Simptome van institusionalisme

Daar is 'n aantal simptome van institusionalisme in die kerk te sien:

1. Organisasie
Die kerk word as 'n organisasie gesien wat net soos ander organisasies gestruktureer moet word.  Dit plaas 'n klem op reglementering en organisering.  Die kerkraad word geleer om te beplan en te werk soos 'n sake-onderneming.  Soos in die sakewêreld is daar by baie die gedagte van "hoe groter hoe beter" - dit het die idee van die makrogemeente as 'n oplossing vir die kerk se probleme bevorder.

2. Lidmaatskap
Nog 'n simptoom is dat mense dink dat die kerk as organisasie lede het.  Dit beteken dat mense aan hierdie organisasie kan behoort en dat hulle 'n sertifikaat kan toon as 'n bewys van lidmaatskap.  In die praktyk beteken dit dat 'n mens, afgesien van jou verhouding met God en met medegelowiges, aan 'n gemeente of kerk kan behoort.  Baie "lidmate" is dus op die boeke maar kruip weg wat die kerklike lewe betref.

3. Ampte en amptenare
Die Bybelse gedagte dat sommige gelowiges vir die toerusting en ondersteuning van ander gelowiges verantwoordelik is, word in die geïnstitusionaliseerde kerk verander tot leiers wat spesifieke poste beklee.  Dit is veral rondom die amp van die predikant waar dit duidelik sigbaar word: hulle word nie meer gesien as herders wat die kudde moet voed en versorg nie, maar as bestuurders van die gemeente as 'n organisasie.  Hulle word werknemers van die gemeente in plaas van lede van dieselfde liggaam met ander verantwoordelikhede as die ander ledemate.

4. Eredienste
Die gemeentelike byeenkomste word geformaliseer: daar is 'n vaste liturgiese orde waarvan nie afgewyk mag word nie.  Dit gaan nie in die eerste plek oor sinvolle verhoudings nie maar oor vaste rituele.  Mense kan by die rituele betrokke wees sonder om die hart daarin te hê.

5. Uiterlikhede
Waar institusionalisme die oorhand het, word daar aan uiterlike sake baie aandag gegee.  Kleredrag word dikwels gereglementeer.  Die geboue en ander sigbare dinge kry baie waarde.
 

Die oorsake

1. Soeke na sekuriteit
Wanneer mense in die kerk groot word, leer hulle 'n bepaalde manier van kerkwees aan.  Indien dit nie uitmond in 'n persoonlike verhouding met God nie, hou hulle maklik aan die uiterlike dop vas.  Omdat die verhouding met God in Christus 'n lewende verhouding is, is daar groei in die geloofslewe van die enkeling sowel as die gemeenskap van gelowiges.  Hierdie groei bring verandering.  Verandering is 'n bedreiging vir diegene wat nie saam beweeg nie.  Daar lê 'n vorm van sekuriteit in dit wat bekend is en daarom haak sommige vas by die uiterlike en bekende in die kerklike lewe.

2. Verkeerde uitgangspunte
Die kerk moet verstaan word in terme van dit wat vir ons as mense bekend is.  Daarom gebruik die Skrif metafore (beelde) om die onbekende aan die hand van die bekende te verduidelik.  Ongelukkig speel ander beelde wat nie in die Skrif aangetref word nie, ook 'n rol.  In plaas van die verhoudings-metafore van die Skrif, word onpersoonlike en formele beelde gebruik en mislei dit mense om verkeerd oor die kerk te dink.  Die kerk word dikwels gesien as 'n organisasie van enersdenkendes, 'n soort van 'n klub.  Aan die ander kant word die kerk dikwels ingepas in die beeld van 'n besigheidsorganisasie.

Wanneer 'n mens 'n meer formele uitgangspunt het, word die gegewens van die Skrif ook daarvolgens verklaar.  Dan staan die invloed van die sinagoge (wat ook as 'n meer formele organisasie verstaan word) sterker en word die kerk as die opvolger van die sinagoge verstaan.  Wanneer, aan die ander kant, die verhoudingstruktuur as uitgangspunt geneem word, staan die verhouding sentraal en word die kerk verstaan as die opvolger van die Joodse huisgesin (wat wel ook deur die sinagoge beïnvloed is).

3. Die sondige natuur
Die formalistiese benadering maak dit moontlik dat mense aan die kerk kan behoort sonder 'n lewende verhouding met God.  Dit gee 'n handige skuifmeul om nie hulle lewens in die hande van God te stel nie.  Die volkskerk het gedy op die akker van die institusionalisme!  Hierdie benadering maak dit ook moontlik dat mense sonder 'n lewensverhouding met medegelowiges kan wegkom.  Hulle hoef nie betrokke te raak by medegelowiges nie.  Net so kan hulle verantwoordelikheid om in 'n verhouding met mense buite die geloofsgemeenskap te lewe, ontduik word.    Sodoende word die kerk 'n leë dop sonder inhoud.
 

Die genesing

1. Wees gebalanseerd
In die stryd teen institusionalisme, moet 'n mens nie reaksionêr wees nie.  Ons moenie bang wees vir formele verhoudings waar dit nodig is nie.  Alle verhoudings kan nie dieselfde wees nie; alle verhoudings kan nie informeel wees nie.

2. 'n Ander uitgangspunt
In die kerklike lewe kom die groot verandering wanneer 'n mens 'n ander uitgangspunt neem.  Dit is nie om dowe neute dat die Skrif praat van die kerk as die "volk van God" of die "nuwe Israel" nie.  Natuurlik is dit 'n metafoor, maar soos alle metafore sit daar ook 'n werklikheid in.  Ons is regtig nou 'n nuwe volk onder die regering van 'n werklike Koning.  Ons is ook kinders van die Vader.  Hier het ons ook met 'n beeld te make, wat tegelykertyd ook 'n werklikheid is:  God is ons Pa soos wat ons 'n liefdevolle aardse pa het; maar God is ook ons eintlike Pa - ons het ons lewe van Hom af ontvang.
Dit is gevaarlik om die metafore slegs as aanduidings te sien en die kerk dan verder vanuit ons ervaring te verklaar.  As ons nie werklik deel van 'n volk en 'n nuwe geestelike huisgesin is nie, as ons nie verskillende grade van verhoudings met ons medegelowiges het nie, sal die institusionalisme onmiddelik sy tol eis.  In die verhouding tussen huisgenote kruip formalisme baie moeiliker in as by 'n organisasie.

3. Die sekuriteit van die liefde
Mense wat in geborge liefdevolle verhoudings lewe, het nie 'n probleem met 'n gevoel van veiligheid nie.  Gelowiges wat in 'n lewende verhouding met die Here en met medegelowiges lewe, soek nie vashouplek aan die uiterlike en formele nie.

4. Gebed en gehoorsaamheid
Institusionalisme word uiteindelik oorwin deur ernstige gebed - gelowiges wat intree vir die gemeente van die Here Jesus.  Daarmee saam 'n ernstige soeke om gehoorsaam te lewe aan die leiding van die Heilige Gees.  Waar die Gees van die Here is, is daar vryheid - vryheid om van harte te dien; vryheid van die benepenheid van die institusionalisme.
 

Marius Potgieter
1999