Die gesprekstemas wat Gemeentevreugde aan selgemeentes beskikbaar stel, is bedoel as 'n riglyn vir die weeklikse byeenkomste van die selgemeente. Elke tema het ses (5+1) of elf (10+1) onderwerpe waarvan die laaste een altyd 'n terugkyk op die tema is.
Elke tema word met die grootste sorg opgestel en voldoen aan spesifieke vereistes vir die byeenkoms van 'n selgemeente. Al die temas is ook reeds prakties uitgetoets voordat dit finaal gedruk is.
Al is daar spesiale redes waarom die program so opgestel is, hoef dit egter nie slaafs gevolg te word nie. Dit bly 'n riglyn vir die herder-leier en die persoon wat die byeenkoms lei. Die byeenkoms moet in werklikheid deur die Heilige Gees gelei word en daarom is biddende voorbereiding van die allergrootste belang.
Die herder-leier is nie veronderstel om elke keer die byeenkomste te lei nie. Persone wat vrymoedigheid het om dit te doen, behoort beurte te maak. Die herder-leier se taak is om vroegtydig met so iemand te skakel ten einde seker te maak dat die byeenkoms reg sal verloop en om saam te bid vir die seën van die Here op die byeenkoms.
'n Belangrike beginsel om
te onthou: mense is belangriker as programme. Dit mag gebeur dat iemand
ondersteuning of hulp nodig het of dat iemand genoeg vertroue in die groep
ontwikkel het om sy of haar hart oop te maak. Dan moet die program wat
voorberei is, moontlik wag! Wees sensitief vir die leiding van die Gees.
Pasop vir 'n wettiese benadering. Moenie vergeet nie dat ons as 'n huisgesin
bymekaar is en nie 'n skoolklas of sportspan nie! Ons eerste doel is nie
om iets te leer nie maar om met mekaar in teenwoordigheid van die Here
gemeenskap te hê.