GELOWIGES
Volgens die Skrif is die gemeente 'n
gemeenskap van nuutgemaakte mense, 'n gemeenskap van gelowige gesinne.
In die kerk is daar te veel mense sonder 'n persoonlike verhouding met
Jesus Christus. Die Gemeentevreugde-model maak erns daarmee om sulke mense
te help om die liefde van God in Christus te leer ken en daarop te antwoord.
Prakties beteken dit dat enige persoon welkom is om byeenkomste van die
selgemeente by te woon maar dat slegs mense met 'n lewende verhouding met
Jesus Christus as volwaardige lede van die geloofsgesin aanvaar word.
LEWENSGEMEENSKAP
Die gemeenskap van gelowiges bestaan
nie slegs by die eredienste en ander byeenkomste nie maar behoort lewensgemeenskap
te wees wat die hele week duur. In die Gemeentevreugde-model word die lewensgemeenskap
van gelowiges in al groter-wordende kringe 'n werklikheid. Dit beteken
dat die klein-groep, die middelgroep sowel as die groot-groep belangrik
is in die geloofslewe. Die selgemeente (of sel) is die mees basiese gestalte
van geloofsgemeenskap maar is nie enigste nie. Die gemeente en die groter
kerkverband is net so belangrik. Die selgemeente is soos 'n geestelike
huisgesin terwyl die groter geloofskringe soos 'n familie is.
DIE HEILIGE GEES
Jesus Christus, die Hoof van die gemeente,
is by sy kinders teenwoordig as die Heilige Gees. Die praktiese heerskappy
van Jesus moet 'n daaglikse werklikheid vir die gelowige en die geloofsgemeenskap
wees. In die Gemeentevreugde-model word elke gelowige geleer om voortdurend
met die krag van die Heilige Gees onder sy leiding te lewe. Die selgemeentes
soek die wil van die Here in hul uitbreiding, die aanwys van herder-leiers
en ander leiers, asook in die proses van vermenigvuldiging. Niks moet uit
blote menslike oorweging gedoen word nie: alles word na opregte gebed in
gehoorsaamheid aan Hom gedoen.
DIE "AMP" VAN GELOWIGE
Die gelowiges het elkeen 'n plek in
die selgemeente as liggaam van Christus. Elkeen staan in 'n voltydse bediening
omdat elkeen geroep is om sy of haar medegelowiges te bedien. Elkeen het
ook die taak om saam met die selgemeente of as enkeling mense in die samelewing
te dien. Dit is immers die roeping van die geloofsgemeenskap: om die liggaam
van Jesus te wees wat Hom sigbaar maak vir hierdie wêreld sodat hulle
gered kan word.
GAWES VAN DIE HEILIGE GEES
Die diens van gelowiges hang ten nouste
saam met hulle roeping en toerusting deur die Heilige Gees. Om Jesus se
beeld in die wêreld in te dra, kan nie met menslike krag gedoen word
nie - daarvoor is goddelike toerusting deur die Gees nodig. Dit is normaal
dat die gawes van die Gees almeer in die selgemeentes sal funksioneer.
Ons praat nie slegs, of in die eerste plek van die opspraakwekkende gawes
nie maar die gawes wat Christus se bediening daagliks in en deur die selgemeente
gestalte gee.
DIE AMPTE
In die Gereformeerde tradisie was die
ampte nooit bedoel as heersende figure wat in formele verhoudings met die
ander gelowiges staan nie. Gemeentevreugde soek na die vulling van die
ampte met Skrifgegronde inhoud. Daar word sterk stelling ingeneem teen
die hiërargiese tendens in die kerklike lewe. Alle leierskap moet
'n diensknegsgestalte vertoon. Boonop mag daar nie slegs een leiersfiguur
optree in die geloofsgemeenskap nie maar moet daar korporatiewe leierskap
wees deurdat gelowiges op verskillende terreine leiding neem. Gemeentevreugde
neem sterk stelling in teen die "domineeskerk" waar iemand gehuur word
om "die bediening" namens die ander te vervul.
UITREIK MET LIEFDE
Die doel van God met sy gemeente is
dat Hy sigbaar sal word in die onselfsugtige en onvoorwaardelike, dienende
liefde wat uitgeleef word deur geredde mense. Die selgemeente-model maak
dit moontlik deurdat daar 'n struktuur is wat onderlinge liefde gestalte
gee. Hierdie liefde moet oorvloei na die wêreld sodat mense na God
getrek kan word. 'n Geloofsgemeenskap wat na binne lewe, is ongehoorsaam
aan die Koning en het geen bestaansreg meer nie.
LIEFDEVOLLE DISSIPLINE
Een van die kenmerke van die ware kerk
is die onderlinge dissipline waardeur die sonde oorwin en gekeer kan word.
Dit kan slegs in 'n liefdesgemeenskap plaasvind. In die selgemeentes vind
onderlinge vermaning spontaan plaas omdat gelowiges mekaar begin vertrou
en genoeg vir mekaar omgee om mekaar te waarsku en vir mekaar te bid.
(Verskyn in "Gesellig" - 2 de uitgawe)