Uit geleerdes se penne

Tydens 'n werkswinkel oor praktiese teologie in Stellenbosch, was daar verskeie van die teoloë wat die klem laat val het op die belangrikheid van gesinsverhoudinge en verhoudinge met ander gelowiges wat as rolmodelle vir kinders en jongmense kan dien.

Dr Coenie Burger het 'n referaat gelewer oor: Geloofsvorming by kinders: huidige stand van gesprek". Hy sê die volgende: "Die ouer gevestigde kerke is feitlik wêreldwyd aan die worstel om hulle kinders vir die kerk te behou. In Europa en Engeland is die skrif al 'n dekade of vier lank aan die muur, terwyl die VSA nie ver agter is nie. Twee titels van boeke uit die sewentiger- en tagtigerjare, reflekteer die probleem treffend. 'Where have all the young folks gone?' vra Hutcheson. John Westerhoff het namens die gevestigde kerke die vraag gevra: 'Will our children have faith?'  'n Mens hoor in die titels iets van die kerk se benoudheid en radeloosheid met die probleem."

Hy handel verder in sy lesing oor die rol van 'n geloofwaardige, breër geloofsgemeenskap: "In hierdie benadering word geglo dat 'n groot deel van geloofsvorming geskied deur 'n sosialisering of inoefening in die gebruike, etos en die oortuigings van 'n geloofwaardige geloofsgemeenskap.  Geloof is nie 'n individuele saak nie.  Ons beste kans om kinders tot geloof te help, so word aanvaar in hierdie benadering, is om hulle te laat opgroei binne 'n geloofsgemeenskap waar die kwaliteit van Christelike lewe werklik positief en oortuigend is .... ons kinders sal glo as daar sterk omringende geloofsgemeenskappe is waarin die Christelike geloof met integriteit, oortuiging en entoesiasme geleef word."

Dr Riaan Prins, dosent van die Teologiese Fakulteit Stellenbosch, sê die volgende in sy lesing oor: Post-Moderniteit en jeugbediening:  "Die generasies moet dus betrokke wees in 'n proses van saamsoek na weë om saam gemeente van Christus te wees.  Dit vra om doelbewuste pogings om die verskillende generasies in onderlinge verhoudings by mekaar betrokke te kry."  Sy slotsom en laaste sin van die referaat lui soos volg: "Van deurslaggewende betekenis is egter dat die jeug in betekenisvolle verhoudings met hulle ouers en ander volwassenes betrokke sal wees.  Binne sulke verhoudings moet hulle die realiteit van God se genade in Christus in woorde en dade kan sien en ervaar!"

Prof Malan Nel se lesing het gehandel oor Basis- en praktyk-teorie vir Jeugbediening.  Een van sy basisteoretiese uitgangspunte oor jeugwerk is die volgende: "... die kinders van verbondsmense is integraal deel van die geloofsgemeenskap."  Hy haal daarin vir W. Myers aan wat die volgende gesê het: "Key to a church's faithful youth ministry is the presence of faithing adults who incarnate God's love in genuine, appropriate ways."

Prof Nel gaan verder en beklemtoon:  "Binne die huisgesin as hermeneutiese ruimte word God en sy handelinge op die mees natuurlike maniere aan huisgenote geïnterpreteer... Dat die gesin 'n hermeneutiese ruimte is, beklemtoon maar net weer dat God binne verhoudings werk.  Sy verbondsmatige handelinge met mense onderstreep dit.  En ouers en kinders is die mees 'natuurlike' voorkoms van hierdie verhoudings...  Hier speel deurleefde en gedeelde geloof in Hom 'n deurslaggewende rol in die tot insig kom van die volgende geslag."

Met betrekking tot ons kinders en die jeug van die kerk, is al drie bogenoemde akademici dit eens dat die ouers en die gesin asook ander geloofwaardige verhoudings met volwassenes die sleutel tot enige jeugbediening in die kerk moet wees.

Ds Anton Louw, wat ook die werkswinkel bygewoon het, vertel:  "Persoonlik voel ek, na twee en 'n halwe jaar se selgemeente-ervaring en belewenis (en sonder om dit in die monde van bg teoloë te lê of hulle by my eie siening te betrek) dat die selgemeente-struktuur die mees effektiewe en praktiese oplossing is om die eenheid van die gesin te bewaar en ons kinders in 'n 'sterk omringende geloofsgemeenskap te plaas' waarin hulle betekenisvolle verhoudings ook met ander volwassenes kan opbou. Die betrokkenheid van die hele gesin moet altyd die selgemeente se fokus en doelwit wees".
 
 

(Uit "Gesellig"  nr 6,  3 de Kwartaal 1997)
 


[Terug na "Gesellig"]