Verbintenis/verbond
Wanneer selgemeentes kwyn is dit normaalweg omdat die grondbeginsels nie in ag geneem word nie. Die een grondbeginsel wat meestal nie verstaan word nie (of vergeet word) is die beginsel van verbintenis, naamlik dat dit in die geloofslewe oor verbondsverhoudings gaan. Dit beteken eerstens dat ons verhouding met God vas staan omdat Hy Hom aan ons verbind het; die uitvloeisel daarvan is dat ons ons weer uit dankbaarheid aan Hom verbind deur ons lewens aan Hom te gee en voluit elke dag vir Hom te lewe. Die volgende uitvloeisel is dat Hy ons aan die wêreld verbind deur ons as sy verteenwoordigers aan te stel - ons moet sy liefde in hierdie wêreld vertoon. 'n Verdere uitvloeisel is dat Hy (ter wille van die effektiewe uitvoering van ons opdrag) ons aan medegelowiges verbind vir wie Hy ons verantwoordelik maak en dat Hy van ons verwag dat ons onsself weer aan hulle sal verbind om hulle te dien en te versorg.
Samevattend beteken verbintenis die doelbewuste aanvaarding en uitlewing
van die volgende vaste verhoudings waarin die gelowige staan:
1. 'n lewende, persoonlike verhouding met die Here
2. 'n doelgerigte, onvoorwaardelik-dienende verhouding
met mense in die wêreld
3. 'n omvattende verhouding met die medegelowiges
waarvoor die Here jou verantwoordelik maak.
Geloofsbasis
Verbintenis berus op 'n basis van geloofsekerheid: jy is seker dat God jou liefhet en dat Hy jou 'n verantwoordelikheid gegee het wat jy saam met medegelowiges uitleef. In 'n selgemeente beteken dit die sekerheid dat die gesinne deur God saamgevoeg is en nie maar toevallig of deur ons menslike keuses saamgekom het nie. Natuurlik hang dit ten nouste saam met die grondbeginsel van Jesus se regeermag oor sy gemeente; ons het gebid en Hom vertrou en Hy het die regte gesinne gestuur om deel te wees van hierdie geloofsgesin. Waar die Here nie biddend vertrou word en gehoorsaam word nie, is daar weinig grond vir 'n volhoubare verbintenis.
Om 'n beeld te gebruik: as twee jongmense trou met die wete dat
hulle deur die Here na mekaar gelei is en dat Hy nie 'n fout maak nie,
is daardie huwelik op 'n baie stewiger grondslag as mense wat met mekaar
trou bloot omdat hulle mekaar gekies het. Wanneer dinge oor twintig
jaar moeilik gaan, het hulle nie die durf en die uithoudingvermoë
van mense wat die probleme naarstiglik probeer oplos omdat hulle weet hulle
het nie 'n alternatief nie.
Die fout van horisontalisme
Waar die verbintenis 'n rol speel, is daar dikwels die fout dat mense dink dat hulle hul aan die selgemeente verbind. Dikwels word nie verstaan hoe heilig die verbintenis is nie - dit is ten diepste 'n verbintenis aan die Here self omdat jy aanvaar dat Hy jou aan spesifieke mense verbind. Wanneer die onderlinge bande nie ernstig geneem word nie, word teen die Koning van die kerk, teen die Hoof van die liggaam oortree.
Hierdie fout is ook die rede waarom die aflegging van belydenis in die
gemeentes so oppervlakkig verstaan en hanteer is - mense dink dat jy "lidmaat
word" van 'n gemeente of kerk en besef nie dat dit 'n vorm van verbintenis
is waar 'n mens voor medegelowiges sy/haar verhouding met God en met medegelowiges
openlik
aanvaar en bely.
Die prys is te hoog
Oor die algemeen is kerklidmate in ons tyd gewoond aan 'n kerklike- of godsdienstige lewe wat maklik en aanvaarbaar is. Die kerk is daar om die lidmaat te dien. Wanneer daar moeilike opdragte kom of wanneer dit te veel van hulle vra, sien hulle nie kans nie en soek 'n makliker pad. Die verbintenis aan die Here is dikwels oppervlakkig en daar word nie in gehoorsaamheid aan Hom geleef nie - sy genade word beklemtoon maar nie sy eise nie. God word eintlik afgetrek na ons vlak toe en Hy word iemand van wie ons hulp en bystand verwag, veral in moeilike tye soos siekte of droogte, maar dan op ons voorwaardes en nie syne nie! Dit is verbasend hoe die Bybel dan gebruik word om hierdie eensydige standpunt te verdedig.
Die verbintenis aan medegelowiges word ook oppervlakkig verstaan.
Mede as gevolg van die individualisme waarin ons samelewing vasgeval het,
wil mense nie verantwoordelikheid neem vir ander gelowiges se ondersteuning
en groei in die geloofslewe nie. Die selgemeente is goed, solank
dit net nie vra dat 'n mens tyd en geld moet opoffer vir ander mense (dikwels
persone met wie jy nie normaalweg sou assosieer) nie.
Die beloning bly weg
Wat mens maklik vergeet, is dat die Here ons in sy plan intrek om ons daarmee 'n onuitspreeklike voorreg te gee. Hoe meer ons aan Hom gehoorsaam lewe, hoe meer ervaar ons die ware lewe - hoe meer ons ongehoorsaam is, hoe meer is ons besig om te sterf! Die loon van die sonde is die dood! Wat jy saai sal jy ook oes! Dit is nie in die eerste plek die Here wat seerkry as ons ons eie pad loop nie; dit is ons wat seerkry.
Die formele kerklike lewe (wat min van jou vra), kan 'n plek word waar
jy vir die Here wegkruip. Dit is tot jou eie skade - jy verloor die
wonderlike ervaring van iemand wat deur diensbaarheid die Here se verteewoordiger
is en wat deur sy/haar lewe af te lê, dit juis behou. Onthou,
die Here het jou nie nodig nie - sy wêreldplan sal aangaan al is
ons almal onwillig om Hom gehoorsaam te dien.
Die komende vervolging
Omdat die Here ons oneindig liefhet, sal Hy ons nie uitlos nie maar ons gedurig roep tot 'n lewe saam met en in diens van Christus. Hy weet dat ons kortsigtig en dom is en nie verstaan wat ons verloor deur selfgesentreerd te lewe nie. Hy weet dat daar duisende der duisende gelowiges is wat geestelik armoedig bly en gedurig terugsak omdat hulle nie in nabye verbondenheid met medegelowiges lewe nie. Hy roep ons op allerlei maniere tot inkeer wat hierdie saak betref.
Die Here het in baie lande die gelowiges na Hom geroep deur diep beproewings. Die veranderings in ons land is juis 'n roepstem tot die gelowiges om die Here en sy opdrag aan die kerk ernstig te neem. As ons nie daarna luister en ons bekeer nie, is dit moontlik dat die Here 'n algehele vervolging van die Christen-gelowiges in ons land sal toelaat - daar is geen rede waarom dit nie sal gebeur nie. Die gevolge van so 'n vervolging sal ondermeer wees dat ons mekaar as gelowiges werklik sal nodig hê en geforseer sal word om mekaar te ondersteun. Nog 'n gevolg sal wees dat die formele kerk nie maklik sal kan voortbestaan sonder om sy effektiwiteit heeltemal prys te gee nie. Die "kerk" word dan 'n dienskneg van die vervolgers en nie 'n gemeenskap van gelowiges nie.
Sal ons nie betyds na die roepstem van die Here luister en in die verbondsverhoudings
waarin Hy ons gestel het, gehoorsaam lewe nie? Wat verhinder julle
as selgemeente om regtig met groot erns julle aan mekaar te gee as boeties
en sussies en so met mekaar saam te lewe? Waarom skop julle dalk
teen die diepere "commitment" wat die Here van ons teenoor mekaar verwag?
Dit is nou die tyd om ons van oppervlakkigheid tot ware toewyding te bekeer.
Marius Potgieter
Paasfees 2001