AANBIDDING: DIE HART VAN DIE SELGEMEENTE



Aanbidding is die lewens-aar van die selgemeente (sel) sowel as die groter gemeente. Deur opregte aanbidding word ons wesenlike karakter as die huisgesin van God en die volk van God duidelik. 'n Selgemeente wat tydens sy byeenkomste (sowel as tydens die stiltetyd van die lede) baie erns maak met aanbidding, word versterk in hulle geloof in die werklikheid van God en die teenwoordigheid van die Heilige Gees.

Aanbidding beteken nie slegs om 'n paar liedere te sing nie maar om in die geloof bewus te word van God ons Vader, voor Hom te buig en in eerbied Hom eer te gee vir Wie Hy is.

Die intensiteit en belewenis van aanbidding bepaal tot 'n groot mate die aard van die byeenkoms. Indien die aanbidding eg en intens is, sal die res van die byeenkoms gestempel wees deur die besef van die Here se teenwoordigheid. Indien ons aanbidding oppervlakkig is, sal die byeenkoms makliker vervlak tot 'n gewone mede-menslike en horisontale byeenkoms.

Die aanbiddingsgedeelte van die selgemeente se weeklikse byeenkoms behoort 'n ononderbroke gesprek met die Here (in gemeenskap met mekaar) te wees. Die aanbiddingsleier moet gedurende die week 'n paar liedere biddend uitsoek. Let op die woorde - sorg dat dit in ooreenstemming met die Skrif is en dat dit indien moontlik, aanpas by die tema van die byeenkoms.

Reël dat tussen sommige van die liedere kort gepaste teksverse gelees of kort en opregte gebede gebid word om aan te sluit by die eenheid van die tema. Hiervoor word ander lede van die selgemeente ingespan en dit word vooraf gereël.

Iets wat die aanbidding strem, is gesprekke of tussenwerpsels deur die aanbiddingsleier of ander selgemeentelede. Dit trek die aandag van die Here af en onderbreek die gesprek wat op Hom gefokus is. Aan die ander kant moet ons oppas vir 'n soeke na 'n emosionele ervaring of allerlei kunsgrepe om mense te manipuleer. Die Here God moet in Gees en waarheid aanbid word - dit is voldoende.


AANBIDDING: BELANGRIKE ASPEKTE

Lewenshouding

Aanbidding is nie iets wat 'n mens doen nie - dit is 'n ingesteldheid, 'n lewenshouding. Iemand het gesê dit is om in verwondering voor die Here te buig. Dit is nie so belangrik op watter manier 'n mens buig nie maar dit is belangrik om te besef voor Wie jy buig!
 

Gevaar: oppervlakkigheid

Die gevaar bestaan dat gelowiges dink dat hulle iets moet doen wat anders of snaaks is. Die ou liedere moet vervang word, hande moet opgesteek word - maar dit verander niks aan 'n mens se hart nie. Dit is goed om nuwe liedere te sing. Daar is niks verkeerd met hande opsteek nie. Dit moet egter vloei uit 'n hart wat besef dat ons met die Here, die Ontsagwekkende, te doen het. Daarsonder is ons steeds besig met vormgodsdiens wat leeg is.
 

Emosie

Die volle mens met sy emosie is betrokke in aanbidding. 'n Mens kan nie die Here slegs met jou verstand aanbid nie - om met eerbeid vervul te wees, om verwonderd te wees, neem die hele mens in beslag. Ons as gelowiges moet leer om nie bang te wees om ons verhouding met die Here te ervaar nie.

Aan die ander kant is daar die ernstige gevaar dat mense dink dat hulle altyd iets moet voel voordat dit werklikheid is. Al is ons emosioneel betrokke, mag emosie nooit die grondslag vir ons geloof word nie. God is immers nie teenwoordig omdat ek so voel nie, maar omdat Hy so gesê het.

Die "atmosfeer" is 'n hulpmiddel maar dit maak nie aanbidding meer werklik in God se oë nie. Die "atmosfeer" mag nooit die plaasvervanger van 'n verhouding wees nie.


AANBIDDING: LIGGAAMSHOUDING



Die mens is 'n eenheid

Aanbidding is 'n lewenshouding wat die hele mens raak - liggaam en gees. Die onsigbare innerlike en sigbare uiterlike van die mens kan nie van mekaar losgemaak word nie - dit is soos die twee kante van 'n muntstuk.

Prakties beteken dit dat 'n mens wat werklik bewus raak van die grootheid en heerlikheid van God, dit ook in die liggaamshouding sal toon.
 

Aanbidding is kultureel bepaal

'n Mens moet egter versigtig wees om uit die Bybel sekere liggaamshoudings te gaan haal en dit 'n voorskrif te maak. Mense wat in verskillende tye en in verskillende kulture leef, sal almal op verskillende maniere uiting gee aan hulle eerbied en ontsag vir die Here.

Daar moet ook versigtigheid wees ten opsigte van godsdienstige "modes". Sommige mense sal sekere dinge tydens aanbidding doen, nie omdat dit werklik die uiting van hulle eerbied is nie maar omdat hulle ander dit sien doen.
 

Daar moet ruimte wees

In 'n geloofsgemeenskap soos die selgemeente, moet ons ruimte maak vir verskillende maniere van dink, voel en doen. Moenie aan mekaar voorskrifte gee nie maar help mekaar om by die kern van dinge te bly. Sorg dat elkeen se hart op die Here gerig bly en maak ruimte vir liggaamlike uitdrukkings van aanbidding. In die byeenkomste van die geloofsgemeenskap is liefde altyd die bepalende faktor: moenie iets doen uit selfsug nie maar neem mekaar in alles in ag.
 

(Oorgeneem uit "Gesellig" , uitgawes 2, 3 en 4)


[Terug na "Gesellig"]