
Welkom aan alle lede van die Vermaak-familie,
Op hierdie werf moet daar gekuier word. Ek wil graag hê ons moet sit en familie uitlê en ons familie-stories met mekaar deel soos dit vanmelewe op die ou familieplase se werwe oor krismis-vakansies gedoen is. So sit asseblief, kry koffie. Die kuier kan dalk lank en lekker word.
My plan is om 'n baie lywige Genealogie van die Vermaak-familie wat in 1994 deur Frank Vermaak (Molteno-groep) , Atlas Vermaak (Delmas-groep) en myself saamgestel is uit jare se navorsing deur hierdie werf op die web te sit. Daardie dokument is nie foutloos nie maar is darem al baie meer as net 'n beginpunt. HOU DUS HIERDIE SPASIE DOP. Ek vra asseblief alle inligting oor Vermaaks in julle notaboekies, familie Bybels, en koppe van oumense om aan te vul by wat ons het.