'N GESINSGESKIEDENIS VAN
HENDRIK PIETER VERMAAK EN HELENA MARIA BEZUIDENHOUTHierdie familiegeskiedenissie is in 1991 geskryf op grond van inligting wat toe aan my bekend was. Enkele veranderinge is sedertdien gemaak. Ek ontvang graag enige aanvullings en verder regstellings.
POS DIT ASSEBLIEF HIERVir 'n uiteensetting van die nageslag van hiedie twee persone, kyk gerus na die geslagsregister
(Let wel: Die volledige geslagsregister is 303kb groot!)
Vermaak |
Bezuidenhout |
HERKOMS VAN DIE VERMAAKS EN BEZUIDENHOUTS
Die Suid-Afrikaanse Vermaak-stamvader, GERRIT AUGUSTIJNSZ VERMAAK is op 16 Julie 1690 in Holland gedoop. Hy was die sesde kind van Augustijn Gerretsz Vermaak en Neeltje Jansdr Verwoert en het in ongeveer 1710 vanuit die Maarssen-gebied in Holland in die Kaap aangekom. Augustijn Gerretsz was die agterkleinseun van die eerste Hollandse Vermaak wat tot dusver bekend is, nl. Gerrit wat in ongeveer 1550 gebore is. Sy seun was Christiaan Gerritsz , en dié se seun was Gerret Christiaansz , die vader van Augustijn Gerretsz.
Op 22 Julie 1714 tree ons stamvader aan die Kaap in die huwelik met sy tweede vrou, 'n Hollandse meisie met die naam SOPHIA VAN ECK. Hulle het net een kind gehad nl. Cornelis (gedoop 19.5.1715).
CORNELIS en sy vrou SUSANNA ELIZABETH SCHEEPERS het 9 kinders gehad. Die vyfde van hierdie kinders, Gerrit (gedoop 2.6.1754) trou met JACOBA PIENAAR. Daardie huwelik lewer sewe kinders op, waarvan die derde gedoop word SALOMON (gedoop 16.5.1779). Hy trou met MARIA ELIZABETH OOSTHUIZEN en hulle het 5 kinders gehad. Die jongste van hulle kinders was NICOLAAS JACOBUS. Hy was die vader van Oupa HENDRIK PIETER VERMAAK waaroor hierdie stukkie gaan.
Die BEZUIDENHOUTS het 'n rukkie voor die Vermaaks in die Kaap aangekom. WYNAND LEENDERTS BEZUIDENHOUT was die baastuinier aan die Kaap en is reeds voor 1675 daar oorlede. Hy was getroud met JANNETJIE GERRITS en hulle enigste seun wat 'n nageslag nagelaat het was WYNAND (gedoop 1.7.1674). In 1702 was hy die leier van 'n tog na die Oosgrens. Hy was getroud met GERBRECHT BOSCHOUWER. Hulle het ses kinders gehad en ek probeer tans bevestiging daarvoor kry dat ons van die laaste een , GERRIT afstam. Hy was met SOPHIA MARIA SCHEEPERS getroud. Hulle vierde kind was COENRAAD FREDERICK en die het 'n seun, kleinseun en agterkleinseun gehad wat almal dieselfde naam gedra het. Ek probeer nou bevestig dat die agterkleinseun wat op 19.11.1836 gebore is, Ouma Nonnie se vader was.
'N KORT GESINSGESKIEDENIS
VOORTREKKER VERMAAK- VADER VAN HENDRIK PIETER
Nicolaas Jacobus Vermaak (Oupa Klasie) is op 11 November 1812 in die omgewing van George gebore en hy is op 8 Julie 1813 op Uitenhage gedoop. Oupa Klasie sou onmiddelik na sy eerste huwelik in 1836 (met SUSANNA FRANCINA VAN VUUREN), as deelnemer aan die Groot Trek (wát 'n wittebroodsreis !) saam met van sy neefs uit die Kolonie na die binneland verhuis het om van die Engelse af weg te kom. Hy en sy jong bruid was egter net sowat 'n week op trek toe die weerlig haar in die omgewing van die teenswoordige Cradock doodslaan. Hy draai toe om en gaan begrawe haar naby Uitenhage. (Ek kon nog niks in die opgetekende geskiedenis oor hierdie voorval kry nie en sal bly wees as enige familielid kan help om dit aan te vul. In Erasmus Smit se Dagboek is daar melding van 'n ander Vermaak-tragedie tydens die Groot Trek : die wa van 'n N.J.Vermaak is aan flarde geskiet, met lewensverlies, deurdat kinders met 'n tonteldoos by die kruit op die wa gespeel het. Dit was egter nie dieselfde NJ wat hier ter sprake is nie.) Oupa Klasie se verwante trekgenote het voortgetrek, en ons vind hulle name weer in die geskiedenis by Dingaanstad en Bloedrivier. Daardie nageslag woon vandag nog in Natal veral in die omgewing van Helpmekaar naby Dundee. 'n Bekende plaas in daardie kontrei heet " Vermaakskraal ".
NA PHILIPPOLIS
Oupa Klasie trou toe weer op 1 September 1838 en wel met SUSANNA JOHANNA CATHERINA SMIT. (Sy was volgens oorlewering op 'n manier verwant aan die Voortrekker-predikant Erasmus Smit, en aan Gerrit Maritz, die Voortrekkerleier, se vrou, maar ek weet nog nie presies hoe nie.) Hulle twee trek uiteindelik in 1839 binneland toe na die omgewing van die huidige Philippolis. Daar ruil hulle van Adam Kok, die Griekwa-kaptein, 'n stuk grond vir 'n wa en span osse, 'n seeppot, 'n vaatjie brandewyn en nog 'n klompie losgoed. Gelukkig het die wakis, waarmee ons Vermaak-familie die binneland ingetrek het, nie deel van die ruilgoed gevorm nie. Daardie kis is uiteindelik aan Oupa Hendrik bemaak, en na hom aan sy seun, Klaas. Dit is nou in besit van my pa, Hennie op Vereeniging. Ek hoop om dit eendag aan my seun, Hendrik Pieter, na te laat. 'n Deel van die grond wat oorspronklik deur daardie ruiling bekom is behoort tans, so het ek gehoor, aan die Kolvers, skoonseun van wyle premier John Vorster. Of hulle plaas Bokpost deel van Oupa Klasie se grond was, kon ek nog nie bevestig nie. Ewenwel, op daardie plaas het Oupa Klasie 'n vooruitstrewende perdeboer geword, al moes hy by geleentheid met die hulp van sy sambok aan die Griekwas, (hulle toordokter inkluis ) gaan verduidelik dat hulle nie weer sy perde moet steel nie.
'n Brief wat Oupa Klasie in hierdie tyd van sy pa, Salomon, vanuit Makwassie ontvang het, word as 'n besondere filatelie-stuk beskou, aangesien dit een van die vroegste posstukke uit die Vrystaatse tydperk is. Die inhoud is egter net so interessant. Oupa Salomon verneem na Oupa Klasie-hulle se welstand en kla dat hy nie nuus van hulle af kry nie. Die hoofdoel van die brief was egter om vriendelik dog dringend te verneem wanneer die lening wat pa aan seun gemaak het, dan nou terugbetaal gaan word !
Uit die huwelik met die nooi Smit is vier seuns en twee dogters gebore. Die seuns se name was SALOMON CORNELIS (wie nog in Uitenhage gebore is en later daar getroud is), ERASMUS PETRUS, NICOLAAS JACOBUS en GERT ESAYAS. Gert is as ongetroude jongman in 1865 op Kommando tydens een van die Basotho-oorloë gedood. Die meerderheid van die Brandfort-Vermaaks is afstammelinge van die ander drie seuns uit hierdie huwelik. Een van Oom Salomon se kleinseuns, Erasmus Petrus (Rassie), is nou die eienaar van Zuurfontein, en 'n agterkleinseun van hom, Andreas Hercules ("Klaas") is nou die eienaar van Fontainebleau, die plaas in die distrik van Brandfort waarheen hierdie storie opwerk.
Oupa Klasie se tweede vrou is daar in die Suid-Vrystaat oorlede en begrawe.
Oupa Klasie trou toe vir die derde keer en wel met MAGDALENA CATHARINA SUSANNA TERBLANCHE. Uit hierdie huwelik is twee seuns en twee dogters gebore. Die jongste was Oupa Hendrik en sy enigste eie broer was genoem Stephanus Esaias Terblanche (Stefaans) Vermaak. Oor sy nageslag het ek nog baie min inligting. Een van oom Stefaans se seuns, Nicolaas Jacobus, is op 9-jarige ouderdom in die konsentrasiekamp oorlede. Twee ander, Johannes Jacobus en Stephanus Esaias, het skynbaar die oorlog oorleef, maar of hulle enige nageslag gehad het, weet ek nie. Oom Stefaans self is tydens die Engelse Oorlog naby Soutpan noodlottig in die nek verwond en is na die oorlog op Zuurfontein herbegrawe.
BRANDFORT TOE - GEBOORTEPLEK VAN HENDRIK PIETER VERMAAK
In 1862 trek Oupa Klasie weer 'n slag, die keer Brandfort toe. (Die spreuk " As jy trek, trek noord en as jy verf, verf groen !" word met goeie rede aan Oupa Klasie toegedig.) Sy swaer Terblanche en sy ouer seuns het saam met hom getrek. Oupa Klasie se trek het onder andere bestaan uit meer as 'n honderd perde. Hy vestig hom nou op die plaas Zuurfontein en daar is Oupa Hendrik toe in 1869 gebore en op Bloemfontein gedoop.
Fontainebleau en 'n hele paar ander plase is later van Zuurfontein afgesny en na sy troue, met HELENA MARIA (NONNIE) BEZUIDENHOUT, het Oupa Hendrik daar op Fotainebleau gaan boer.
Oupa Klasie het fluks geboer en toe hy in 1890 die eerste keer 100 pond vir sy wol kry,
het hy nog 'n plaas in Dealesville se
omgewing gekoop. Tydens die Kimberley-era het hy ook groente en veevoer daar gaan verkoop.
OUPA HENDRIK KRY SKIELIK TROUKOORS
Ouma Nonnie se ouers, COENRAAD FREDERIK BEZUIDENHOUT en HELENA MARIA VAN RENSBURG , het oorspronklik op Uitkyk en Wolwekop naby Dewetsdorp gebly en het in 1888 daarvandaan na Brandfort getrek. Daar het hy die plase Gansfontein, Swartkop, Driekop en 'n stuk van Allemanskraal gekoop. Gansfontein en Zuurfontein lê langsmekaar. Sy het kort voor die trek Brandfort toe op Dewetsdorp gekatkiseer, maar moes wag tot sy 16 was om daar belydenis van geloof te doen. Op pad terug huis toe is daar toe op Bloemfontein 'n klompie bruidsgoed ("trousseau") gekoop en is daar ook 'n foto van haar geneem. Toe was Ouma Nonnie reg vir trou. (Die foto hang nou hier bokant my rekenaar.)
Volgens een van my bronne ('n ander ontken dit) was Ouma Nonnie 'n rooikop soos haar pa, en sy was boonop verwant aan Slagtersnek se Bezuidenhouts : moeilike mense! Die van die nageslag wat enige van daardie eienskappe vertoon sal dus weet waar dit vandaan kom. Oupa Hendrik het seker baie gedink oor die mooi jong nooi op die buurplaas en het seker 'n paar keer daar gaan opsit ook. Ek weet nie hoe lank die kyk en kuier geduur het nie, maar twee dinge is duidelik, Oupa Hendrik was nie die enigste vryer nie en hy het uiteindelik ook nie tyd gemors met die ja-woord-vraery nie. Een aand op 'n dans hoor hy hoe 'n ander jongman spog dat hy daardie aand vir Nonnie Bezuidenhout gaan vra om met hom te trou. Net daar staan Oupa op, stap na ouma Nonnie toe en vra haar om met hom te trou. Die ja-woord was uit, en ek glo daar was daarna groot jolyt op daardie dans vir almal behalwe een.
Die troue het op 14 Maart 1893 plaasgevind. (Byvoeging: - Op 14 Maart 1993 was ek toevallig vir besigheid in London en besluit toe om die diens daardie Sondag-oggend in die Westminister Katedraal by te woon. Eers toe ek daar saam met die Engelse die gesang sing wat ons in Afrikaans ken as " O God van Jacob deur U hand , word al U volk gevoed, U het weleer op see en land, ons vadere behoed" het ek besef wat die datum is, en dat dit die eeufees was van een van die huwelike waaraan ek my eie lewe te danke het. Onmiddelik na die diens het ek my ouers van die eerste-beste Tiekiebox af gaan bel en nie omgegee dat dit die ponde so vinnig ingesluk het nie.)
DIE LEWE OP FONTAINEBLEAU VOOR DIE OORLOG
Voor die Engelse Oorlog is daar vir Oupa Hendrik en Ouma Nonnie vier kinders op of naby Fontainebleau gebore: Lenie, Klaas, Frikkie en Kitty.
Oupa Klasie se derde vrou is op Fontainebleau oorlede en begrawe en Oupa Klasie trou toe as ou man weer 'n keer. Die vierde vrou se naam was MARIA SUSANNA MARGARETHA EKSTEEN. Hulle twee het in hulle ou dae by Oupa Hendrik en Ouma Nonnie op Fontainebleau gewoon, maar apart huis gehou en gekook op die oop vuur op die es. Daar was toe nog nie 'n stoof in die huis nie. Daar is wel saam geëet - Oupa Klasie en sy vrou aan die een punt van die tafel, en Oupa Hendrik en sy gesin aan die ander punt van die tafel, elkeen sy eie kos. Later, na sy vierde vrou se dood, vertel Oom Klaas, het Oupa Klasie "hier by ons kom sit". Ek is trots om tans die eienaar van daardie ou tafel te wees, tesame met twee plat blou vleisskottels waarin daar seker honderde afvalle, ribbetjies of skaapboude op daardie tafel opgedien is. Nou hang hulle as versierings in my eetkamer. Die skottels was deel van 'n eetservies wat oorspronklik aan ouma Nonnie se ma behoort het.
Oupa Hendrik het vooruit geboer en toe die oorlog uitbreek het hy 'n duisend skape,'n paar honderd beeste en sowat 30 perde besit.
OUPA KLASIE SE DOOD
Agter Fontainebleau se huis is daar 'n lae rantjie en tydens die Engelse Oorlog was dit Oupa Klasie se gewoonte om elke dag die bult uit te stap om te gaan kyk of die Engelse nog nie aankom nie. Daarvandaan kan mens 12 myl ver na Glen se kant toe sien. Oupa Hendrik was op Kommando in die veld en Oupa Klasie was alleen op die plaas saam met die vrouens en kleingoed (daar het van die familie en buurvrouens met hulle kinders by Ouma Nonnie kom bly onder andere Oupa Hendrik se oudste broer, Salomon, se vrou, Tant Letta en haar kinders en 'n Tant Nonnie en haar kinders.) Daar op die koppie is hy toe op 28 of 29 Mei 1900 in die ouderdom van 88 jaar oorlede. Vier vrouens het sy liggaam op 'n bed daarvandaan afgedra. Sy graf is in die kerkhoffie op Fontainebleau en sy laaste twee vrouens se grafte is langs syne.
OUPA HENDRIK AS KRYGSGEVANGENE : SKRYWER EN KOK
Tydens die Engelse Oorlog het Oupa Hendrik as adjudant van Kommandant Koos Prinsloo van die Middelmodderrivier-kommando deelgeneem aan onder andere die slae by Belmont en Tweeriviere voordat hy gevange geneem en na Bellary in Indië gestuur is. Oupa Hendrik se kommando was tussen Hoopstad en Kroonstad in die veld en hy kry daar berig dat Ouma Nonnie ernstig siek was. Hy kom toe deur die Engelse linies huistoe. Daar sien 'n swartman hom en rapporteer dit, met die gevolg dat hy daar voor sy vrou en kinders deur die Engelse gevang is en na Groenpunt naby Kaapstad gestuur word. Daarvandaan is weer teruggestuur Bloemfontein toe en die wapen teen sy eie mense aangebied. Hy sê toe hy wil die saak eers met sy vrou bespreek, met die gevolg dat hy toegelaat word om na die Brandfort Konsentrasiekamp toe te gaan. So het dit gebeur dat hy by sy vrou was toe hulle dogtertjie, Kitty, aan masels oorlede is in die kamp. Hy en 'n paar ander mans beplan toe om weg te loop terug na hulle kommando's toe, maar hulle word gevang voor hulle dit kon doen, vermoedelik omdat een van die mans hulle verklap het en hulle word per trein na Durban gestuur. Daar is hulle op 'n skip sowat 'n myl buite die hawe aangehou totdat daar genoeg boere op die skip was en vaar toe na Madras in Indië. Daarvandaan is hulle oorland na die kamp Bellary in sentraal-Indië gebring waar hulle tot na die oorlog gebly het. Oupa Hendrik se ouer broer, Niklaas en dié se seun Niklaas (Klaas Bek) was ook daar in die kamp.
In die kamp was Oupa Hendrik die sekretaris van 'n debatsvereniging wat hulle gestig het. Hy het die notuleboek saam teruggebring maar ongelukkig was die notules net aan die een kant van die bladsye geskryf. In die jare van papierskaarste na die oorlog is die skoon kante van die notuleboek vir allerlei notas gebruik en uitgeskeur. So het 'n waardevolle stukkie Africana in flentertjies inkopielyste en passe vir die plaasvolk oor die Vrystaatse vlaktes verdwyn.
Kosmaak in die veld was vir die klomp mans in die vreemde, en natuurlik ook terwyl hulle nog op kommando was, maar dikwels 'n groot probleem. Terwyl hulle nog op kommando was, word daar eendag 'n dier geslag en een van die mans waarmee Oupa moes deel wou hulle stuk vleis sommer so direk van die karkas af in die pot gooi. "Nee jong" sê Oupa, "ons moet die vleis darem eers 'n bietjie was!" waarop die man toe antwoord " Aag wat, Ou Hendrik, ons kan mos maar die sous weggooi."
Oupa Hendrik het skynbaar 'n merkwaardige slag met kos gehad. In die krysgevangene-kamp het hy dit reggekry om selfs van die karigste kos wat deur die Engelse voorsien is 'n redelike smaaklike ete voor te berei - 'n talent wat hom die kamp-bynaam van "Ma" besorg het. Ten spyte daarvan vertel Oom Klaas dat sy pa vreeslik maer was toe hy uiteindelik na die oorlog weer op die plaas aangekom het. Dit was veral die bootreis Indië toe en terug wat vir Oupa klaargemaak het : soos meeste Boere het hy vreeslik seesiek geword.
OUMA NONNIE EN DIE KINDERS IN DIE KAMP
Na Oupa Klasie se dood het 'n paar Engelse en 'n klompie hanskakies eendag met 'n ossewa op Fontainebleau opgedaag. Hulle beveel Ouma Nonnie en die ander vrouens om hulle goedjies in te pak en met hulle kinders op die wa te klim, sodat hulle na Brandfort se konsentrasiekamp geneem kon word. Ouma Nonnie wou eers nie, maar toe die offisier dreig om haar op te tel, moes sy maar kopgee. Sy is toegelaat om die ou wakis waarvan ek vroëer geskryf het, vol klere te pak en om een verebed saam te neem, maar niks meer nie. Hulle was nie lank op pad nie toe daar 'n bui reen uitsak, en die hele spul van hulle word toe met 'n sware bokseil so oor hulle koppe toegemaak.
Op Brandfort is al die vrouens en kinders eers in die skool se klaskames gehuisves.'n Geweldige klomp vrouens en kinders moes in die klaskamertjie slaap, soveel so dat Ouma Nonnie bang was dat die ander op haar kinders sou trap. Toe maak sy vir party van hulle bo-op die tafel en vir ander onder die tafel bed. Sy self het 'n stoel in die hande gekry het waarop sy gesit en slaap het. Van die skool af is die ander vrouens en kinders toe na die kamp toe, maar omdat die tyd vir Oom De Wet se geboorte naby was is Ouma Nonnie toegelaat om tydelik na hulle tuishuis op Brandfort te gaan. Daar het sy en haar kinders toe tot na Oom De Wet se geboorte gebly. Sy naam dui aan dat hy gedeeltelik na Generaal De Wet vernoem is. Uiteindelik moes hulle ook kamp toe omdat die Engelse geweier het om Ouma Nonnie te voorsien van kos.
PRET EN HARTSEER IN DIE KONSENTRASIEKAMP
Ten spyte van die tragedie van die baie kindersterftes in die kamp, die honger en die koue, nat tentlewe wat meer as 'n jaar lank geduur het, het Oom Klaas vertel dat dit vir hom as 7-jarige seun lekker was om tussen so baie maats te wees - iets waaraan hulle nie gewoond was nie. Sy een maat, Tewie van Graan, was 'n ouer seun en dié het rondgeloop en vir outjies van Oom Klaas se portuur gevra: "Is jy bang vir Klaas ?". As een durf "nee" antwoord, moes Klaas hom met stampe en vuishoue bang maak - altyd bewus daarvan dat as dinge nie in sy guns loop nie, die groot maat tot sy redding sou kom. Terwyl die groter kinders allerlei speletjies gespeel het, het die kleintjies 'n speletjie daarvan gemaak om 'n maat se hoed tussen die groteres in te gooi. Die eienaar kry dan 'n paar klappe en skoppe as hy sy hoed gaan haal maar wanneer hy terug is by sy maats moes die een wat die hoed gegooi het dit ontgeld.
Ander kattekwaad het ook nie uitgebly nie. Op 7-jarige ouderdom het Oom Klaas leer rook in die konsentrasiekamp : perdemis wat deur die son spierwit gebleik en kurkdroog gemaak is, gemeng met een pikswart vars bol vir die smaak ! Hy het ook eendag 'n baie skaars en swaarverdiende tiekie op 'n pakkie "Flag" sigarette spandeer, maar dit was te sleg en hy het dit vir een van die groot seuns gegee.
Die klomp seuns het eendag die veld naby die kamp aan die brand gesteek en dit het die hele regiment kampsoldate die hele middag geneem om die vuur te blus ten einde te verhoed dat die hele spul tente afbrand. Die bevelvoerder het die klomp seuns 'n loesing gegee wat Oom Klaas ontglip het deur in die lang gras weg te kruip en met 'n ompad na die kamp toe te seil. Soortgelyke dragte slae het ook gevolg op hulle oorlog-oorlog spelery met klippe en kleilatte waartydens die klomp kinders mekaar byna verongeluk het.
Oom Klaas was vir een ding vreeslik bang en dit was die klomp uitgeteerde honde wat van die verlate plase af na die kamp toe gekom het. Die klomp honde het juis tussen die tente en die hospitaal hulle lêplek gehad en dit was sy werk om by die hospitaal te gaan melk haal vir Oom De Wet wat 'n siek klein babatjie was. 'n Ou swartman, wat in die kamp gewerk het, was darem bereid om in ruil vir 'n stukkie brood (wat Oom Klaas vasgelê het) saam te stap tot verby die honde.
DIE DOOD VAN 'N BOETIE EN 'N SUSSIE
Tot in sy oudag het Oom Klaas nog aangedaan geraak as hy vertel van die nag toe sy jonger broertjie, Frikkie, daar in die kamp aan witseerkeel oorlede is en sy lykie op die ou wakis waarna ek alreeds verwys het, uitgelê en in 'n laken toegespeld is. Later ook sy klein susterjie, Kitty, aan masels. Watter geweldige indruk moes hierdie gebeure, en die sterftes van so baie ander kinders van sy ouderdom en jonger nie op sy jong gemoed gemaak het nie? Hy het vertel van lykstoete van tot dertig klein swart kissies met wit papiertjies met name daarop wat per dag van die hospitaal na die kamp gebring is, en huilende vrouens wat daar gaan soek na die name van hulle kinders wat in die hospitaal opgeneem is.
Tant Lenie en Oom de Wet was ook baie siek in die kamp, trouens Oom De Wet het sy lewe lank daarna met borsprobleme gesukkel. Oom Klaas was nooit 'n dag siek gewees in die kamp nie. Met 'n half-skuldige laggie het hy vertel dat hy al die kondensmelk en konfyt wat na die tent toe gekom het, opgeëet het, die ander was te siek om daarin te deel. En met daardie bonusies het sy ma hom "fluks gehou" om water aan te dra en hout te breek terwyl sy die siek kinders versorg het.
VROUE REBELLEER
Daar was eendag 'n opstand van die klomp vrouens in die kamp. Daaroor het Oom Klaas soos volg geskryf, waarskynlik in die vroeë 1960's (die oorspronklike geskrif kon ek nie opspoor nie maar in 1966 het tannie Anna Pretorius dit uit Oom Klaas se boek afgeskryf en ons haar dus te dank vir die behoud daarvan) :
"Ek was die more bo in die kamp toe se die vrouens ons moet ons ma's gaan roep om te kla oor die vleis.Gou-gou was daar 'n hele klomp vrouerns met bordjies vleis by die kommandant. Maar hy sê die vleis is goed, want in Kimberley moes hulle perdevleis eet wat nog slegter was, toe storm die vrouens en hy met sy staf moet weghardloop en die vrouens agterna, maar hy loop hulle uit. Die vrouens trek die Engelse vlag af en hys die Vrystaatse vlag en sing die Volkslied. Hulle loop toe daarvandaan en wapen hulleself met hout en dryf al die vegbare mans, hensoppers en kakieboere uit die kamp. Hulle sê wat soek die mans daar terwyl hulle mans op kommando of krygsgevangenes is...Die agtermiddag kom die kampregiment te perd met gevelde bajonette die kamp ingery en hulle vang sewe vrouens wat hulle toe na 'n draadkamp in Norvalspont toe stuur. Een vrou se arm is deur 'n man afgeslaan en sy het hom laat weet dat haar drie seuns kom terug van Bermuda af en hulle gaan sy derms uitstroop. Toe dit haas vrede word het hy en sy vrou en sproetgesig seuntjie na Rhodesië gevlug"
OORGAWE
Oor die vrouens se ervaring van die vredesaankondiging en die terugkeer huis toe het Oom Klaas soos volg geskryf:
"Die Burgers het na 31 Mei 1902 orals oorgegee, of wapens neergelê. Net wes van Brandfort op 'n plaas Aardoring het Gen. de Wet die Burgers gevra om die wapen neer te lê. Die volgende dag kom hulle toe kamp toe om hulle families op te soek. Rondom die telegraafpale was 'n klomp klippe gepak en op die klippe het ek gesit. Toe die burgers kom kon 'n mens sien hoe verwaarloos hulle was. Hulle klere was in 'n misrabele toestand en hulle gesigte was bruin gebrand. Gen. de Wet klim toe by my op die klipstapel en spreek die mense toe. Hy sê die vrouens kan maar huil want hulle staan nie net by die dood van baie dierbares nie, maar ook by die dood van ons dierbare staat, want ons onafhanklikheid is afgeneem. Dit was soos 'n groot begrafnis."
NA DIE OORLOG
Die oorlog was nou verby, maar dit het lank nog nie beteken dat die lewe dadelik kon voortgaan asof niks gebeur het nie. Die terugkeer na die plaas het eers 'n hele tyd na die oorlog gebeur. En toe was dit na 'n verwoeste tuiste toe. Gelukkig was die huis op Fontainebleau nie afgebrand nie, maar die vensters en deure was uitgebreek en die dak was af. Die deur, en vermoedelik ook die dakplate, is deur die Tommies gebruik om op Palmietfontein daar naby 'n polisiestasie te bou. Al stukkie dak wat daar was was so 'n toegeboude afdakkie aan die bywoner se huis wat hy as 'n kombuisie gebruik het. Daar het Ouma Nonnie en die kinders gebly tot Oupa Hendrik in November 1902 vanuit Indië na die plaas teruggekeer het. Maar laat Oom Klaas self verder vertel:
"Ouma, tant Lenie, ek en Oom de Wet is toe omtrent in Augustus 1902 met 'n wa en muile uitgestuur plaas toe.
Hulle (die Engelse) het vir ons 'n bietjie kos gegee om saam te neem , en toe dit op is het Ouma en een van Tant Letta se dogters dorp toe geloop (9 myl) om te gaan kos koop. Hulle is vroeg die more daar weg en het eers na sononder doodmoeg met die pak goed op hulle koppe teruggekom....
Oupa het (na sy terugkeer) dadelik 'n kaffer, ou Isak gehuur en begin groentetuin maak. Hy het ook sy "claim" ingedien vir 1000 skape en 80 beeste en 10 perde en vir dit alles is hy 37 pond en 10 sjiellings uitbetaal.(dis nou as kompensasie vir oorlogskade!) In die buitekamer het nog 'n wolskeersel los gelê wat Ouma laat skeer het toe Oupa naby Kimberley was. Baie van die wol het ooral op die werf rondgelê soos die burgers of die Engelse dit uitgedra het om op te slaap. Die wol het ons opgetel en dit skoongemaak en toe het Oupa 'n wa gaan leen om die wol dorp toe te ry. Hy kry toe 80 pond vir die wol en koop ons woonhuis se hout en sink en deure daarvan. Oupa huur toe twee Smits om die huis te kom opbou en hy en Isak was die handlangers.
Daar was gelukkig nog springbokke op die plaas en Oupa leen 'n geweer op die dorp, en dit was 'n groot geleentheid as daar 'n springbok geskiet word. Ons eerste hoenders was 'n haan en 'n hen wat Ouma Bezuidenhout gegee het. Saans het ons die twee hoenders by ons in die kombuisie gevat, anders vang die ongediertes hulle."
DIE VEESTAPEL BEGIN UITBREI
Na die oorlog het Oupa Hendrik 400 pond by Ouma Nonnie se Ouma van Rensburg geleen teen
'n eerste verband op Fontainebleau. Daarvan het hy 100 pond aan sy suster Hester (getroud
met Piet Minnaar) gegee. Van die res het hy onder andere agt koeie op Bloemfontein gaan
koop. Een van hulle, Bontrok het 'n kalfie genaamd Hartman gehad en sy is as melkkoei
gebruik tot die ander ook gekalf het. Oor die verdere uitbreiding van Fontainebleau en
omgewing se veestapel vertel
Oom Klaas weer:
" In Februarie 1903 is Oupa en Oom Jan van Graan Karoo toe om te gaan skape koop. Hulle het toe in Carnavon en Loxton genoeg gekoop. Al die boere het geld gegee om vir hulle ook 'n paar skape te koop. Oupa het sy kar gegee en Oom Jan van Graan sy perd en Oom Adam Bezuidenhout, ouma se broer, het 'n groot sterk muil (so 'n bloue) gegee. Nadat hulle die skape gekoop het, jaag hulle die skape aan oor De Aar, Hopetown, Jacobsdal, Petrusburg, langs Modderrivier op tot by ons plaas waar die verdeling plaasgevind het. Oupa het darem van elkeen wat meer as 50 skape gekry het een skaap as betaling gekry...By elke man van wie hulle vee gekoop het, het Oupa en Oom Jan ook elkeen 'n skaap persent gekry. Oupa het ook 'n klompie bokke saamgebring. Ek was 8 jaar oud en het die bokke opgepas. As 'n bokooi lam, gewoonlik 'n tweeling, loop die bokkies nie voor hulle 2 of 3 dae oud is nie. Ek moes hulle dra want hulle mag nie buite bly nie, dan vreet die ongediertes hulle op.
Nou het Oupa sy eie spannetjie osse aangeskaf, want hy het tot dusver met die koeie geploeg. Die voorosse was Fransman, ons bul, en Heidelberg, 'n groot swarte. Naasvoor was Zietsman en Pasman. Op ses was Blesman en Gentleman. Naasagter was Grootman en Blouberg. Agter was Hartman en Vaaltyn."
Nou kon die boerdery voortgaan. Almal moes help. So het dit gebeur dat Oom Klaas as 9 jarige seun te perd gestuur is om die beeste in die veld te gaan haal. Van die beeste het heelwat verder gewei as wat verwag is en is uiteindelik op 'n buurplaas gevind. Dit was al donker voor hy die beeste bymekaar gehad het en huiswaarts kon keer. Op pad het Oupa Hendrik hom teëgekom, koud en bang. Ouma Nonnie het intussen twee kerse in die venster laat brand om vir die kind te wys waar die huis is.
Na die oorlog is daar nog vier kinders op Fontainebleau gebore: Coen, Kitty, Bettie en later ook Hester.
'N BIDUUR-BANK EN SONDAGSKOOL MET 'N SWEEP
Oupa Hendrik is kort na die oorlog as diaken gekies. Nie lank daarna nie woon hy eendag 'n biduur by 'n buurman, ene Schlebusch by. Toe hy kniel by die bank waarop hy gesit het, herken hy die bank as syne aan 'n paar kerfies wat daarin gesny was. Na die biduur vra hy toe vir Schlebusch na die bank. Schlebusch vertel toe dat sy eie bank ook na die oorlog weg was, maar dat hy by 'n sekere Smit, wat 'n paar plase verder gebly het, gehoor het dat daar by hom 'n vreemde bank staan wat aan die beskrywing voldoen. Schlebusch het na die bank gaan kyk, maar dit was nie syne nie. Smit dring toe egter daarop aan dat Schlebusch die bank moes vat, want, het hy gesê, hy sou hom dood skaam as die bank se ware eienaar dit daar by hom moes kry. Oupa Hendrik wys toe vir Schlebusch die kerfies en vertel hom dat dit die werk was van sy seuntjie , Frikkie, wat dit met 'n knipmes in die bank gesny het. Daarop sê Schlebusch toe sonder aarseling dat Oupa Hendrik sy bank moet laat haal. Miskien is dit hierdie atmosfeer van vertroue tussen mense wat gemaak het dat Oom Klaas later jare as taalonderwyser, en strydig met die leerplan, vir sy skoliere geleer het dat die woord "eerlik" nie trappe van vergelyking het nie. Die bank het na Oupa Hendrik se dood in die besit van sy dogter Bettie gekom .
Van 1903 af is daar een maal per maand Sondagskool gehou op Mooifontein, ongeveer 4 of 5 myl van Fontainebleau af. So 'n sessie het die hele middag aangehou. Wanneer dit verby was, moes daar feitlik die heelpad huistoe gedraf word, want die perde en die hoenders moes kos kry en daar moes met die melkery gehelp word. As voorbereiding vir die Sondagskool moes lang Psalms en Gesange van voor tot agter uit die kop geleer word. Hiermee het Oupa Hendrik gehelp, so met die sweep in die hand by die etenstafel.
In ongeveer 1908 is daar 'n skooltjie op Palmietfontein naby Zuurfontein gestig en kon die kinders skool toe. Voor dit het Ouma Nonnie die kinders leer lees en skryf. Toe Oom Klaas op byna veertienjarige ouderdom skool toe is, kon hy vlot lees en skryf en somme maak . Sewe jaar later het hy tot matriek gevorder, maar was toe al amper 21 jaar oud.
DIE KUIKENS VERLAAT DIE NES
Tant Lenie is na skool met Sarel Pretorius getroud en hulle het aanvanklik op die plaas Zamenzuipen in die distrik van Bloemfontein geboer en het later na Johannesburg toe verhuis. In die depressiejare het dit by tye maar bars gegaan met hulle, maar hulle is daardeur. Later van tyd kon ons almal heerlik saamlag met hulle dogter , wyle Lena Pretorius as sy vertel hoe hulle klompie kinders een van die trekke help uitvoer het deur hulle besittings op 'n bed met wieletjies te laai en hoe die spulletjie buite beheer geraak het toe hulle die duikweg se afdraande tref en een van die wieletjies die gees gee. Toe 'n polisieman by die toneel van die gevolglike chaos opdaag en die standaard-vrae vra , was dit die klein Basie, met 'n bekkie waarin g'n botter sou smelt, wat hom in die oë kyk en sê: " Ons trek, Oom ." Vandag hang daar doktorsgraad-sertifikate aan die mure van drie van die kinders van daardie trekkers.
'n Dag of wat voor Oom Klaas sy matriekuitslae ontvang het, het hy 'n aanstelling as onderwyser van die eenmanskool op Topfontein, nie ver van Fontainebleau af nie, gekry. Daar het hy vir twee jaar skoolgehou waarna hy Stellenbosch toe is waar hy 'n BA-graad in 1921 behaal het. Daarna het hy vir 'n paar maande as prokureursklerk in Bloemfontein gewerk. Toe hy egter sy klerk-salaris kon verdubbel na 25 pond per maand het hy besluit om die onderwys sy loopbaan te maak. Op Dewetsdorp het hy 'n mede-onderwyser , Daisy Mentz ontmoet. Hulle twee se 1923 huwelik het 62 jaar geduur tot sy afsterwe in die ouderdom van 90 jaar. Skakel hier na 'n Familiefoto van hulle en hulle nageslag (net Thinus afwesig) wat ten tye van hulle goue bruilof geneem is.
Nadat Oom De Wet standerd ses geslaag het, moes hy vir Oupa gaan help boer. Hy is getroud met Sophia Maree en tydens die depressie van 1933 het hy en Oom Coen saam die plaas Schoongezicht van Oupa Hendrik gekoop en saam daarop en op Die Vlakte geboer. In 1944 het Oom De Wet egter besluit om na Clocolan te verhuis en daar het hy op die dorp met 'n hoenderboerdery begin. Toe die munisipaliteit later begin kla oor die grootte van sy boerdery, wat hoofsaaklik op die teel van kuikens ingestel was, het hy in die vroee 1950's die plaas Grootfontein net buite die dorp gekoop en die hoederboerdery daar voortgesit. Hulle gesinsfoto wat in ongeveer 1945 geneem is, is ook hier.
Oom Coen het intussen op Die Vlakte bly boer en het uiteindelik daar afgetree. Hy was getroud met Anna Steyl. Skakel hier vir 'n gesinsfoto van Oom Coen, Tant Anna en Coenie .
Tant Bettie is getroud met Oom Jan Bornman. Hulle het in Excelsior se distrik op die plaas Elim geboer waar Oom Jan grootgeword het. Oom Jan kon goed gesels, soos blyk uit Jan Spies se storie "Pille vir Servette" (waarin hy natuurlik sy kunstenaarsvryheid gebruik om die waarheid ligweg geweld aan te doen). 'n Foto van die Bornman-gesin verskyn hier.
Tant Kitty is met Oom Manie Conradie getroud . Hy het op Brandfort skool gehou en sy was vroëer een van sy leerlinge. In ongeveer 1957 is 'n foto van Tant Kitty, haar pa, haar dogter,Rina en haar kleinseun, Johannes de Klerk vir 'n meubelwinkel in Bloemfontein se vier-geslagte eeufees-kompetisie ingeskryf en het nogal die tweede prys behaal.
Tant Hester is met Oom Nic Basson getroud en hulle het naby Westminster op die plaas Samekomst begin boer. Daarna het hulle verhuis na die plaas Aanstoot in Brandfort se distrik. In die vroeë 1940's het Oom Nic 'n paar dorsmasjiene gekoop en vir boere begin dors. Na 'n kurses in graangradering by Glen Landboukollege het Oom Nic as graangradeerder by die Vrystaatse Kooperasie aangesluit en in 1947 na Cornelia verhuis. In 1954 het hulle daar 'n algemene handelaarsbesigheid gekoop, bekend as Park Store, wat hulle vir bykans 30 jaar bedryf het.
Fontainebleau se huis het leeg geraak.
Maar vakansietye het dit weer vrolik gegaan. Al Oupa Hendrik en Ouma Nonnie se kleinkinders waarmee ek gepraat het, verseker my dat daardie werf die heerlikste vakansieplek was wat 'n kind kon begeer. Die mans het op die stoep gesit en lag en gesels soos net 'n klomp Vermaaks bymekaar kan gesels-lag, soms so dat g'n een van hulle 'n woord kan uitkry nie en dan sit en lag hulle vir mekaar omdat die ander een so lekker lag. Intussen woel die vrouens in die kombuis om te verseker dat die kenmerkende Vermaak-middellyne ongeskonde bly en die kinders speel dat die stof staan onder die peperboom.
Ouma Nonnie is in 1936 oorlede.
Oupa Hendrik is daarna weer getroud met ISABELLA MARIA LINDE . In ongeveer 1957 het hulle twee so gelyk.
Oupa Hendrik is op Nuwejaarsdag 1961 is in die ouderdom van 92 jaar op Brandfort oorlede. Soos sy pa het hy die genade ontvang om met sy stewels aan te sterf en goeie gesondheid te geniet tot die dag van sy dood. Tot kort voor sy dood het hy dit sy taak gemaak om Sondae vroeg op te staan om "die oumense" kerk toe aan te ry, party van hulle tot 20 jaar sy junior.
DIE HUIDIGE NAGESLAG
Drie van die 9 kinders, 24 van die 26 kleinkinders en 75 van die 77 agterkleinkinders wat uit daardie huwelik van 1893 voortgespruit het, leef vandag nog en lewe goed. Ons klomp uit die eerste drie geslagte kan al amper 'n wieg-tot-graf selfversorgende gemeenskap vorm: 'n mediese dokter is besig om te kwalifiseer en hy sal deur 'n paar verpleegkundiges en 'n apteker bygestaan kan word, daar is twee predikante om te doop en na ons geestelike welvaart om te sien en 'n evangelis, maatskaplike werker en psigometris sal kan help, onderwysers is daar genoeg om 'n hele skool te beman, ons kan ons tande laat trek en stop by twee tandartse, ons oë laat toets en ons kapsels laat versorg. Ons kan sakeadvies, beleggingsadvies, marknavorsingsadvies en regsadvies kry en met die klomp rekenaarkundiges onder ons sal alles gerekenariseerd wees. Daar is 'n argitekstekenaar, verskeie ingenieurs, en elektrisiens om vir die akkommodasie en die nywerhede te sorg, en daarmee sal die chemici kan help, ten minste vir die maak van plofstof. By die bank kan ons finansiering reël, en ons kan die plante om die terrein te verfraai by 'n kwekery gaan koop. Gelukkig is daar nog boere ook om ons van kos en klere te voorsien. Ons het 'n viskundige en 'n vlootoffisier en 'n spysenier. Die Polisie is aan ons kant en ons het selfs 'n man by die Ontvanger van Inkomste. En as ek geweet het dat daar soveel bekwame sekretaresses onder my kleinniggies is, het ek sowaar nie hierdie storie self met my twee vingers op my woordmeuletjie uitgetokkel nie! As ons nou nog die talente van die huweliksmaats van die direkte afstammelinge bytel, word die spektrum net groter. Daar is geen beroepspolitici onder ons nie. Politieke steun is egter versprei oor die hele spektrum, skynbaar met wisselende grade van uitgesprokendheid. Daar is egter genoeg wat ons saambind om nie verder oor hierdie verdelingsfaktor uit te brei nie.
Die agter-agterkleinkinders tel reeds 70. Wat van hulle sal word sal net die tyd leer.
Ons is 'n geseënde familie. Ons het alle rede om God daarvoor te dank.
Ek hoop om later 'n uiteensetting van die volle nageslag van Oupa Hendrik en Ouma Nonnie op VERMAAK SE WEBWERF te pos.
NICO VERMAAK
TUINLAAN 8
ROBINDALE
RANDBURG 2194
vermaak@icon.co.za
FEBRUARIE 1991